Arend uit SA topdriedrukker in Amerikas-reeks

ʼn Arend uit Suid-Afrika was een van die topdriedrukkers in die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK), wat pas die tweede agtereenvolgende jaar deur Amerika gewen is.

Hanco Germishuys (flank) en die Argentyn Santiago Resino (buitesenter) se vier drieë elk was die meeste deur ʼn speler in die reeks.

Germishuys kon die alleenhouer gewees het, maar die bal is Saterdag in Montevideo, Uruguay, ʼn slag agter die doellyn deur ʼn teenstander uit sy hande geklap. Dit het tot ʼn strafdrie gelei.

Die vleuels DTH van der Merwe (Kanada) en De Wet van Niekerk (Brasilië) was tussen die spelers wat elk twee keer agter die doellyn gaan kuier het.

♦ Amerika, wat deur ʼn gewese Springbok-hulpafrigter, Gary Gold, gebrei word, het met ʼn onverwagse groot sege van 61-9 (rustyd 40-0) oor Uruguay die eerste span geword om al vyf sy wedstryde in die reeks te wen.

Sterker mededinging is van die Kiewiete verwag, maar hul fut was uit nadat hulle die afgelope ruk buitengewoon goed met 14 agtereenvolgende oorwinnings gevaar het, en onder meer in tuis- en wegwedstryde teen Kanada hul plek in aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi (RWB) in Japan bespreek het.

Die Arende het verlede jaar ook die reeks gewen toe hulle deur die huidige Bulls-afrigter, John Mitchell, afgerig is.

♦ Die Argentynse vyftiental, wat die eerste ARK-reeks twee jaar gelede gewen het, het gesukkel om ʼn begeesterde Brasilië in São Jose dos Campos, Brasilië, met 28-8 te klop (rustyd 14-5).

Hulle is boonop in die 35ste minuut met ʼn rooikaart gestraf ná ʼn hoogvat op die Tupis se Suid-Afrikaans gebore linkervleuel, De Wet van Niekerk.

Die tuisspan het teen die verwagting in die spel lang rukke oorheers.

Die Argentyne het tweede in die reeks geëindig, met Uruguay derde, Kanada vierde, Brasilië vyfde en Chili laaste.

♦ Kanada het Chili in ʼn foutbelaaide kragmeting in Santiago, Chili, met 33-17 geklop (rustyd 22-3) – slegs sy tweede sege in die reeks, en daar heers ernstige kommer oor die agteruitgang van Kanadese rugby.

Chili se bank het nuwe lewe in die spel geblaas en vir 14 punte in die laaste tien minute gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.