Argentinië (se Sanchez) knak All Blacks

(Foto: Los Pumas/Twitter)

Die Argentynse losskakel Hugo Porta het in 1982 rugbygeskiedenis in Bloemfontein gemaak toe hy al 21 punte in Suid-Amerika se Jaguars se skokoorwinning oor die Springbokke aangeteken het om die besoekers na ʼn oorwinning van 21-12 in die tweede toets te stuur.

Saterdagoggend in Sydney het Nicholas Sanchez ook rugbygeskiedenis gemaak toe hy al 25 punte in die Poemas se skokoorwinning van 25-15 oor die All Blacks in die Drienasiesreeks aangeteken het.

Porta het destyds ʼn drie gedruk (dit het toe nog vier punte getel), met die doelskop geslaag, ʼn  skepdoel behaal en vier strafdoele oorgeklits.

Sanchez het Saterdag ook ʼn drie gedruk, die doelskop behaal en ses strafdoele vir sy 25 punte oorgeklits.

Dit was die Poemas se eerste sege in 30 toetse sedert 1985 teen die All Blacks nadat hulle 28 keer verloor het en in een toets gelykop geëindig het.

Dit was ook die eerste keer dat die All Blacks en die Poemas mekaar in Sydney gepak het en dit was die eerste keer sedert Augustus 2011 dat die All Blacks twee toetse agtereenvolgens verloor het.

Boonop het die Poemas 13 maande laas toetsrugby gespeel en is die toerspan, sonder enige noemenswaardige wedstrydoefening, die afgelope paar maande gereeld weens Covid-19 geteister.

Maar daar was geen verskonings nie: net durf, passie en geesdrif.

Die Poemas het gewen omdat hul verdediging rotsvas was, hulle die tempo van die spel beheer het en die All Blacks se ritme heeltemal omvergegooi het.

Die All Blacks was eintlik verbeeldingloos en kon nie hul spel aanpas of verander nie. Hulle het wel naby die einde vir Damian McKenzie opgestuur om die gate te slaan, maar hulle steeds vasgeloop teen ysere verdediging.

Watter lesse is daar te leer?

Dat jy nooit moet gaan lê nie en enige kanse met albei hande aangryp.

Vir Argentynse rugby was dit die reddingsboei wat hulle nodig gehad het om te oorleef. As hulle verloor het, kon Argentynse rugby doodgebloei het.

Vir die All Blacks is die vraag of Ian Foster die regte afrigter is en of Sam Cane die kapteinskap verdien.

Punte:

Argentinië 25 (16)

Drie: Nicholas Sanchez

Doelskop: Sanchez

Strafdoele: Sanchez (6)

Nieu-Seeland 15 (3)

Drie: Sam Cane, Caleb Clarke

Doelskop: Richie Mo’unga

Strafdoel: Mo’unga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dubbelloop ·

I love it. Die “magtige” All Blacks kan ook verloor. So, laas week se verloor was toe nie net ń glipsie nie. Mooi so Poemas! Uitstekend! Afrigters speel ń groot rol. Wys mens net hoe goed Rassie Erasmus as afrigter is. Huidig, die beste in die wêreld. Jammer hy kon nie as hoof afrigter by die bokke aanbly nie.

Thom ·

Ek wens Rassie kon die All Blacks afrig ____ onoorwinlik ? Moontlik !

MakersMark ·

Ongelukkig vir jou het hy die bokke afgerig. En in die RWC 2019 het die engelse jou spannetjie gemors in die sf, en in die final het die bokke die engelse gemors. So na vandag val die AB’s nog so paar punte op die leër…..

Vrijburger ·

Ek lief dit as die ‘under dog’ wen. Baie geluk aan die Puma’s.

MakersMark ·

Dis die resep. Staan nie ‘n duim terug in die voorspelers nie, intimideer hul op die afbreekpunte en dodelike verdediging en die old bleaks verloor gou gou.

Thom ·

As jy na hulle rekord teen alle teenstanders kyk is dit nie so gou as wat jy dink nie .

MakersMark ·

Dalk moet jy die AB’s se afgelope paar “verloor” wedstryde weer gaan kyk voor beroem op die spannetjie se algehele rekord. RWC teen England laas jaar toe vermink England hul in die voorspelers. Teen Aussies die jaar vier wedstryde een gelykop een verloor teen die Aussies, in albei wedstryde het die Aussies hul voor gedomineer. Teen Arg het die argentyne hul voor gedomineer, die afbreekpunte beheer en hul terug geduik in verdediging. So my punt is as die AB’s voor aangevat word saam met met brutale verdediging verloor hul hou gou soos ons nou al telke male gesien het. Jammer oor die reality call en die rude awakening, maar wat is jou punt of argument ?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek weet nie wat die probleem is nie, Hulle was heelwaarskynlik vlugvoos wat aanleiding gegee het vir swak verdediging en vele foute.

MakersMark ·

Ha ha wat ‘n grap die wedstryd is in Sydney gespeel so dalk was die Argentyne vlugvoos dink as die wedstryd in Argentinie was en die AB’s was vlugvoos wat sou die telling dan gewees het ? Daar is nie verskonings vir die AB’s nie hul was vasgevat deur ‘n baie beter span. Wonder waar is daai Mr. Makatees nou wat die Jaguares ‘n “asado” spannetjie genoem het.

Frans ·

Daar is te veel posisie veranderinge in die ALL Blackspan om werklik ‘n goeie span te wees. Ryan Crotty
was die man wat dinge in die middeveld georganiseer en aan die gang gehou het.Die All Blacks oortuig ook nie voorlangs nie en ek glo nie Cane is die man om die span weer op die wenpad te plaas nie.

Die wiel het begin draai toe die Engelse die All Blacks in die wêreldbeker oor donder het. Die Pumas se amper fanatiese verdediging en passie was een te veel en sal die All Blacks nog lank laat kop krap.

Therese ·

Treffende ooreenstemming … die Hugo Porta en Nicholas Sanchez skitter-vertonings.
Veels geluk, Pumas!
Die feit dat die Pumas heeltemal verroes en onvoorbereid in Australië aangeland het, laat die vraag of die Bokke nie maar dieselfde kon waag vir R200 miljoen, en dit as voorbereiding vir die Leeu Toer kon beskou nie?

twaalfboor ·

Ek wil net die skrywer van die sportberig reghelp. In 1982 het ń drie, 3 punte getel en nie 4 nie. Dan het jy hom “vervyf” as die doelskop oor was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.