Argentyne wil nou Curriebeker-rugby speel

Meer is klaarblyklik vir die rugbybase beter, en die moontlikheid word nou ondersoek om ʼn oorsese span tot die Curriebeker-reeks toe te laat.

Volgens die Argentynse webtuiste La Nacion het die president van die Argentynse Rugbyunie (UAR), Marcelo Rodriguez, en ander lede van sy raad reeds met die president van SA Rugby, Mark Alexander, gepraat oor die moontlikheid om in die reeks te speel.

Hulle is optimisties dat hulle tot die reeks toegelaat sal word en sal teen die einde van die jaar glo weer met SA Rugby oor die aangeleentheid vergader.

Vir die Argentyne sal dit die wêreld beteken dat jonger spelers, onder die vlak van die nasionale span, die geleentheid kry om ervaring op te doen. Dit sal moontlik ʼn amperse A-span van Argentinië wees wat sal deelneem as dit hoegenaamd só ver vorder. Hul bestes neem in die Rugbykampioenskap deel in die tyd wanneer die Curriebeker-reeks beslis word.

“Ons is in ʼn gevorderde stadium van die proses wat gevolg moet word en wat uiteraard afhang van SA Rugby se besluit, maar kan meld dat ons tot dusver ondersteuning van hulle oor die gedagte gekry het.

“Ons kyk nou na ʼn aantal sake wat opgelos moet word, onder meer, die logistiek en die begrotingsimpak, en is op soek na ʼn finansiële oplossing wat ons sal toelaat om in die reeks te speel.”

ʼn Argentynse span, die Pampas, het tussen 2010 en 2013 aan die ou Vodacombeker-reeks deelgeneem, deurgaans baie goeie rekenskap van hulself gegee en in 2011 dié toernooi gewen.

Heelparty van die Pampas se spelers is nou in Argentinië se nasionale span of speel oorsee vir voorste klubs.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kantlyn keurder ·

Ek dink nie dis n goeie idee nie. Oorweeg dit eerder om n onder 23 rugby kampioenskap te begin wat Currybeker status geniet. Ons verloor ontsettend baie goeie rugby spelers tussen skole vlak en senior vlak. Behalwe vir die Varsity Beker kry jongeling rugby nie genoeg ernstige oorweging nie. Ek sal selfs sover gaan om die Curry Beker toernooi in n Onder 23 toernooi te omskep wat saam dieselfde tyd as die Vodacom Beker beslis kan word. Dan sou ek sê die Argentyne kan kom saam speel. Slotsom: Daar is te veel vervelige verbeeldinglose senior rugby.

Koos ·

Kantlynkeurder: nee glad nie! Ons wil nie die Curriebeker in ‘n jeugtoernooi omskep hê nie; inteendeel, ons wil hom terugkry op sy eertydse vlak waar dit die beste plaaslike spelers is wat deelneem aan ‘n plaaslike toernooi – nasionale san-spelers ingesluit.
Solank die Curriebeker so afgewater is, sal ons rugby ook nooit weer so sterk word as wat dit was nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

johan ·

Heeltemal onaanvaarbaar om so n ryke tradiesie so tesien gaan. A nee a sa-rugby.

Ruan ·

Curriebeker is vir SA spanne, nie vir ander spanne nie. Dis om te kyk vir die beste span in SA en nie te sien of SA oorsee se spanne kan wen nie. Dis waarvoor die Super rugby daar is. Hou Curriebeker tradisioneel.

Riaan ·

Flou bulletjies seker bang hulle gaan verloor teen die Argentyne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.