‘Arrogansie maak van SBW-verhoor ʼn klug’

Sonny Bill Williams (Foto: Facebook)

ʼn Kultuur van arrogansie op administratiewe vlak knou rugby, en maak ʼn klug van die All Black Sonny Bill Williams se tugproses.

Dié mening word deur The New Zealand Herald gehuldig nadat ʼn tugkomitee bestaande uit Graeme Mew (Kanada), Shao-Ing Wang (Singapoer) en Stefan Terblanche (Suid-Afrika) twee uur lank beraadslaag, en toe verdaag het sonder om uitspraak in Williams se appèlsaak te gee.

Die komitee het aangedui hy sal ter gelegener tyd sy besluit bekend maak.

Williams is vroeër vir vier weke geskors ná ʼn hoogvat in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Die appèl spruit uit ʼn beslissing van die tugkomitee wat hom skuldig bevind het, dat die All Blacks se beplande “wedstryd van drie helftes” teen ʼn gekombineerde provinsiale span nie as ʼn volwaardige wedstryd tel nie, en dat Williams se skorsing die eerste Bledisloe-toets tussen die All Blacks en die Wallabies insluit.

Die Nieu-Seelanders was briesend, veral omdat drie Australiërs dié beslissing gevel het.

Die appèlkomitee moes bloot beslis of die genoemde kragmeting ʼn bona fide-wedstryd is of nie, iets wat hy volgens die Herald in hoogstens tien minute kon doen.

Luidens die artikel wek die verklaring ná die verdaging die indruk dat die publiek wat geld in rugby belê dankbaar behoort te wees dat “sulke besige, belangrike mense hulle die moeite troos om aandag aan iets so gering te bestee, en dat hulle ʼn antwoord sal gee wanneer hulle gereed is en nie eerder nie”.

Die blad sê dit dra by tot ʼn groeiende kloof tussen die mense wat rugby speel en kyk, en diegene wat dit bestuur en administreer.

“Iemand moet die vraag beantwoord waarom Williams 32 dae nadat hy afgestuur is, nog nie weet hoe lank sy straf duur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.