Arrogante verloor-Aussies wil kitaar bly slaan

Die arme Wallabies. Nou wil hulle spelers glo staak omdat een van hulle – meestal gemiddelde ­– spanne skynbaar uit die hersiene Superreeks gelaat sal word.

Kom ons  vergeet vir eers dat die Rebels Vrydag met 12-51 teen die Highlanders verloor het en nie in die liga tuishoort nie.

Die aanduidings is na onlangse Sanzaar-samesprekings dat die 18 spanne in die reeks na 15 of 16 verminder sal word en dat die Wallabies een en Suid-Afrika een of twee spanne sal verloor.

Die beoogde staking volg op vroeëre Australiese voorstelle dat Suid-Afrika heeltemal uit die reeks gelaat word en dat net die twee lande aan weerskante van die Tasman-see in ʼn Superreeks teen mekaar speel.

Hoe Nieu-Seeland daaroor sal voel, weet ʼn mens nie, maar dit is vir seker ʼn manier om hulle rugby ook af te trek. Op die oomblik moet hul voorste spanne darem nog teen die Lions, die Stormers en die Sharks effens uithaal.

Dan is daar natuurlik ook nog die kwessie van die Suid-Afrika gans wat die goue eiers in die reeks lê.

Australiese spanne het dusver nog net ses van hulle 24 wedstryde in vanjaar se reeks gewen waarvan vier in hulle derbies was. Die Brumbies het ook in die Sharks se eerste wedstrytd gewen.

Gister het die Kiwi’s se swakste span vanjaar, die Highlanders, met 51-12 teen die Rebels gewen wat na vyf neerlae (en geen oorwinning nie) reeds 32 drieë afgestaan en self net agt gedruk het.

Wat soek hulle hoegenaamd in die reeks?

♦  Die Aussies se spelers mag nie vanjaar staak nie, bepaal hulle kontrak, maar wil dit aanstaande jaar voor Superrugby se aanvang doen.

En dan? Teen daardie tyd is die nuwe stelsel al ʼn voldonge feit en die bepalings uitgewerk.

♦  Net om sake in perspektief te stel: die Highlanders het slegs drie van hulle ses wedstryde gewen; hulle is, (met ʼn wedstryd meer as die Blues gespeel) tweede laste van die Nieu-Seelands spanne, en het dusver net 14 drieë gedruk – die minste van die Kiwispanne.

Ses daarvan is Vrydag teen die Rebels gedruk.

Dit laat ʼn mens dink …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.