As jy nie wen nie, word jy gepos, behalwe in SA

Allister Coetzee – slegs 44%. (Foto: Hando Jikelo/ANA pictures)

Ulster se rugbyspan sukkel effens en wat gebeur? Die afrigter Les Kiss word gepos. Die Ospreys raak die pad byster en wat gebeur? Steve Tandy word gepos. Die Springbokke ploeter en wat gebeur? Allister Coetzee klou vas aan sy pos.

Kiss, wat Ulster se direkteur van rugby sedert 2013 was, was jare gelede ook by die Springbokke betrokke toe Harry Viljoen nog afgerig het. Hy het toevallig by Ulster oorgeneem nadat die vorige afrigter, Mark Anscombe, ook gepos is. Ulster het in die eerste twee jaar met Kiss agter die stuur die halfeindrondes van die Pro12-reeks gehaal, maar hulle kon nie verlede seisoen kwalifiseer nie.

Die klub het dié seisoen reeds agt van sy 13 wedstryde in die Pro14-reeks gewen (ʼn wenpersentasie van 69 persent) en boonop nog ʼn keer gelykop gespeel. Hulle is derde in Groep B, maar dit is steeds nie goed genoeg nie en hy is Woensdag die deur gewys.

Kiss sou Ulster tot in 2019 afgerig het, maar nou het sy base genoeg gehad en hul paadjies skei.

Wen, wen, wen… dit staan swart op wit in sy kontrak.

Intussen duur die fel stryd tussen Coetzee en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) voort en sal dit na alle waarskynlikheid in die Arbeidshof eindig – tensy Coetzee ʼn skikkingsooreenkoms aanvaar – ondanks ʼn wenpersentasie van slegs 44% in sy eerste twee jaar.

Daar word allerhande beskuldigings deur Coetzee gemaak. Hy het sy base in ʼn uiters kras brief geroskam en gekritiseer, en die vertrouensbreuk sal nooit weer herstel kan word nie. Maar niemand weet of daar ʼn prestasieklousule in sy kontrak was nie. As dit waar is, laat dit ʼn mens wonder hoe sy vertonings en pretasies dan beoordeel sou word?

ʼn Mens besef dat ʼn afrigter nie in die middel van sy kontrak gepos wil word nie, maar watter Suid-Afrikaanse afrigter is vir ʼn tweede termyn as Springbokafrigter behou of het sy termyn voltooi?

Nie John Williams nie, nie Ian McIntosh nie, nie Kitch Christie nie (hy het nooit ’n kontrak gehad nie, net ʼn mondelinge ooreenkoms met dr. Louis Luyt), nie André Markgraaff nie, nie Carel du Plessis nie, nie Nick Mallett nie, nie Harry Viljoen nie, nie Rudolf Straeuli nie, nie Jake White nie, nie Peter de Villiers nie, nie Heyneke Meyer nie en ook nie Allister Coetzee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ek dink die afrigter besef sy opsies is beperk na die Bokke kontrak. Ek glo nie enige klub gaan na hom vry nie.

Boerseun ·

Kyk vir Pieter de Villiers, hy self het die ras kaart gegooi voor hy waai

Nienie ·

Moenie worry nie. Bokkie Gerber het altyd d regte raad. Vra hom net om ‘n rubriek oor die aangeleentheid te skryf.

Joe Hall ·

Ja, dis mos Bokkie Gerber wat destyds saam met Wenende Wynand Claassen en Divan Serfontein geteem het dat Heyneke Meyer onmirrelik met die wonderlike Toetie Koets-zee vervang moet word.
Volgens Gerber en die ander lede van die Temerkoor sou Toetie-baby mos vir almal van ons, Heyneke inkluis, kom wys waar oorle’ Dawid sy wortel(s) begrawe het.
:-)))

LR ·

Hoop ek is verkeerd, maar ek vermoed as Rassie dieselfde ondersteuning van sy base gaan kry wat AC gekry het gaan hy ook nie die mas opkom nie. Indien daar ook n kwota swaard oor sy kop gaan hang en politieke inmenging nie stop nie sal Springbok rugby nooit ooit weer dieselfde wees nie. Trouens dit geld vir rugby en SA sport in die algemeen. Dit sal dieselfde paadjie stap as die SAL en ESKOM ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.