As spanne nie kan verdedig, is dit neusie verby

Twee Sharks-verdedigers, Franco Marais en Tyler Paul, sorg dat Rohan Janse van Rensburg nie verbykom nie. (Foto: GB Jordaan)

Dit was Saterdag ʼn opwindende fees van hardlooprugby in die Curriebeker-reeks, maar ai, waar was die verdediging?

Oorwinnings vir die Sharks, wat die Goue Leeus met 47-31 geklop het, die Westelike Provinsie, wat die Blou Bulle met 45-34 getroef het en Griekwas, wat die Vrystaatse Cheetahs met 30-25 verras het.

Altesame 122 punte vir en 16 drieë vir die drie wenspanne.

Aan die teenpool, 90 punte deur die verloorders en 12 drieë.

Dis duidelik dat al die Suid-Afrikaanse spanne ʼn kopskuif gemaak het en hul vereenselwig het met ʼn opwindende patroon – waaroor elke ondersteuner verheug is – maar ek is bekommerd oor die verdediging wat opsy geskuif is.

Dis ʼn fyn balans, ene wat jy nie net in drie maande gaan ontwikkel nie en op die internet aanskaf nie. Jy kan steeds aanvallende rugby speel, jy kan steeds die bal die werk laat doen sonder om jou verdediging af te skaal. Die een vul die ander aan, jy kan nie sonder enigeen van die twee nie.

Verlede jaar, toe die Vrystaat-Cheetahs die Curriebeker gewen het, het hulle 49 drieë in die groepronde gedruk en net 18 afgestaan. Die Sharks het ewe goed gevaar met 31 drieë vir en 21 teen, die Goue Leeus het 49 keer gedruk en net 23 afgestaan, en die Bulle het met 39 drieë gespog en 26 afgestaan.

In vanjaar se Superrugbyreeks het die Lions in die groepronde net 27 drieë afgestaan, die Chiefs 30 en die Hurricanes 31.

Dit gaan baie interessant wees om die te sien wat Rassie Erasmus en Jacques Nienaber gaan doen wanneer hulle aan die einde van die jaar na Suid-Afrika terugkeer en in beheer van afrigting sal wees.

Hoewel Erasmus baie innoverend is, is verdediging een die stewigste pilare van sy denkrigting.

Hy het baie goed by Munster gevaar, maar kom ons wees eerlik, hulle was soms bra vervelig, omdat hulle ʼn byna onpriembare verdedigingspatroon gehad, en die ander spanne gewurg het. Toe die Scarlets in die eindstryd van die Pro12-reeks losgetrek het, het Munster op die aanval geen antwoorde gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deurmekaar ·

Ek verstaan die rugby-joernaliste nie meer so lekker nie. Indien daar geen driee is nie, word daar gal gebraak – verbeeldinglose rugby!. Speel die ouens lekker rugby, ontwyk die teenstanders met vernuftigheid en druk lekker driee – word daar gal gebraak, waar is die verdediging? Vir hoeveel jaar is stampkar-rugby in ons kele afgedruk. Dit is mos snou soveel lekkerder om weer rugby te sien.

Johan ·

Deurmekaar her dit reg. Ek vat dit nog verder. Aanskoulike hardloop rugby wat driee besorg en die toeskouer op sy tone hou beteken nie noodwendig swak verdediging nie. Dit kan n geval wees van meer waag en durf met goeie sistematiese bal beweging en beplanning. Die nuwe era in n meer wye kanaal verwag n wye aanvals metode, teenoor die onaantreklike 10 man rugby van weleer. Ons weet om die los en vaste gemaal kan SA spanne verdedig, maar dit neem n “think-on-your-feet” benadering wyd in die kanale. Ek vat eerder n krieket telling enige dag, oor n lae punt ellende van n wedstryd.

Avokado ·

Solank jy meer driee as jou teenstander druk sal jy 10 teen een die westryd wen. Ek reken dissipline is belangriker want strafskoppe kan jou baie skade berokken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.