Asem ophou duur tot in laaste kragmetings

Die asem sal nog tot Saterdag opgehou word voor dit bekend sal wees wie almal vir die kwarteindronde van die Supersportreeks in aanmerking kom, en waar die botsings sal plaasvind.

Die kollig sal die skerpste val op Vrydag se kragmetings tussen die Goue Leeus-vyftiental en die Blou Bulle in Soweto, en tussen die vyftientalle van die Vrystaat en die Sharks in Bloemfontein; en dié Saterdag tussen die Boland en die OP Kings op Bredasdorp.

Noord

Die Leeus is die gunsteling om die Noord-wedstryd in die Orlandostadion te wen, maar kan die Bulle geheel en al buite rekening gelaat word?

Die Bloues verkeer in die onbenydenswaardige posisie dat hulle, in geval hulle verloor, dit met sewe of minder punte moet doen en steeds vier drieë moet druk om twee bonuspunte te behaal. Dis al manier waarop hulle dalk die Pumas se aanslag op die tweede plek kan afweer.

Die Pumas sal op hul beurt sover as moontlik in Nelspruit teen die Valke wil wen, in geval punteverskil nodig is om ʼn gelykop ligastand met die Bulle te besleg.

Wen die Bulle met ʼn bonuspunt teen die Leeus kan hulle selfs eerste eindig, mits die Leeus nie self ʼn bonuspunt kry nie

Sentraal

Die tuisveldvoordeel tel die sterkste in die Vrystaat se guns wanneer hy die tweede geplaaste Sharks in die Vrystaatstadion aandurf. Die besoekers sal egter nie eens aan ʼn nederlaag wil dink nie, en hierdie kan ʼn uiters mededingende wedstryd oplewer.

Suid

Op Bredasdorp kan die Boland ʼn wisselvallige seisoen tot ʼn hoogtepunt voer met ʼn bonuspuntsege teen die OP Kings, wat die Boland in die tweede plek op die punteleer kan vestig omdat hy reeds met ʼn beter punteverskil as Grens spog.

Die OP het tot dusver ʼn redelike goeie seisoen ervaar, en kan met ʼn kortkop as die gunsteling beskou word.

♦ Die Westelike Provinsie (Suid) en Griekwas (Sentraal) is reeds van kwarteindstryde tuis verseker.

Die WP speel op die Bridgton-sportterrein op Oudtshoorn teen die segelose Suidwestelike Distrikte, en daar heers waarskynlik groter belangstelling in die voorwedstryd tussen die voorlopers in die SWD se Premierliga, Progress (George) en Bridgton (Oudsthoorn).

Die twee klubs het tans eweveel ligapunte, maar Progress is op grond van ʼn beter punteverskil eerste geplaas.

Griekwas speel in die Griekwastadion in Kimberley teen die Luiperds, en tensy die besoekers met 72 of meer punte wen, sal die uitslag nie juis ʼn uitwerking op die kwarteindbepalings hê nie.

Die houers van die twee beste derde plekke sal ook aan die kwarteindronde deelneem, en dit lyk of hulle uit die Noord- en Sentrale Afdelings sal spruit.

Klik op die volgende skakel om die stand van spanne en hulle punteverskille te sien:
https://maroelamedia.co.za/supersport-2017/

Die naweek se bepalings –

Vrydag

15:00 Griekwas teen Griffons, Griekwapark, Kimberley
15:00 Vrystaat-vyftiental teen Sharks-vyftiental, Vrystaatstadion, Bloemfontein
17:00 Goue Leeus-vyftiental teen Blou Bulle in die Orlandostadion, Soweto

Saterdag

15:00 Boland teen OP Kings, Bredasdorp
15:00 Pumas teen Valke, Mbombela-stadion, Nelspruit

Sondag

15:00 SWD teen WP, Bridgton-sportterrein, Oudtshoorn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.