Asem ophou vir Alberton ná geskarrel om spelers

Niks gee ʼn klubbestuur soveel grys hare nie as om ʼn halfuur voor afskoptyd rond te moet skarrel om ná laat onttrekkings die bes moontlike span op die veld te stuur.

Dis wat met A Square Forklift Alberton in sy jongste kragmeting in die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagreeks (PGU) gebeur het, toe ʼn handvol spelers om verskeie redes nie betyds vir die afskop teen Diggers op Randburg kon wees nie.

Eind goed, alles goed, lui die gesegde, en die Tonne sal saamstem, want hulle het op die ou end skoonskip gemaak.

Die eerste span het ʼn naelbytstryd met 33-31 gewen; die tweede was 10-0 bo; die derde het oortuigend met 31-15 gewen; die o.21’s het met 12-7 en die o.19’s met 29-7 gewen.

Rory Lategan, Alberton se klubbestuurder, sê die wenspan het met ʼn knal weggespring toe Theuns van der Merwe met sy eerste aanraking van die bal onder die pale gaan druk het.

“Sy teenstander het egter byna onmiddellik daarna agter die Albertonse doellyn gaan kuier.”

Lategan sê die besoekers se verdediging was nie op peil nie, en talle verbroude duikslae het veroorsaak dat Diggers die Albertonse noodverdediging tot die uiterste beproef het.

“Dit was ʼn wipplankstryd tot die bitter einde. Jonathan Reed het ʼn tweetal drieë gedruk, en Bennie Botes en Brendon Schafer het ook elk vyf punte bygedra. Arno Steyn se betroubare skopstewel, met vier uit vyf geslaagde doelskoppe, was tot veel nut.

“Die nuweling-flank Cameron Lake het ʼn groot indruk gemaak en nie minder nie as ses keer omkeerbesit gewen, soms op ʼn kritieke tydstip.

“Hy het in die volle o.21-wedstryd gespeel, maar was vasbeslote om die beste uit sy eerste wedstryd vir die keurspan te haal, en het die geleentheid met albei hande aangegryp,” berig Lategan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.