Asië: Meer ervare Korea kry voet in WB-deur

Korea het Saterdag in die eerste kragmeting van die Asiatiese aanspraakstryd sy voet in die Wêreldbekerdeur gekry.

Hy het Maleisië in dié se Nasionale Stadion, Kuala Lumpur, in die Asiatiese Rugbykampioenskap met 35-10 geklop (rustyd 21-0).

Maleisië is ʼn nuweling in die reeks, en toe dié twee lande in 1996 laas kragte gemeet het, het die destydse Suid-Korea die Maleisiërs met 115-5 verwoes.

Japan, wat Asiatiese rugby die afgelope jare oorheers het, het reeds sy plek by die WB-toernooi aanstaande jaar in Japan bespreek, en die wenner van die kampioenskap sal tuis en weg teen die Cook-eilande (Oseanië) uitspeel om te bepaal wie in November aan ʼn vierhoekige heruitdun sal deelneem om die laaste deelnemer aan die WB-toernooi te bepaal.

Suid-Korea (vyf keer) is die enigste land behalwe Japan wat die Asiatiese titel sedert die instelling daarvan in 1969 kon wen. Dis aanvanklik tweejaarliks, en sedert 2008 jaarliks beslis. Die Suid-Koreane kon dit in 2002 laas wen.

Hongkong, wat sy eerste wedstryd in vanjaar se reeks aanstaande week op dieselfde stadion teen Maleisië speel, is egter die gunsteling om die titel te buit.

♦ Intussen het Libanon sy titel in Afdeling 3 Wes van die Asiatiese kampioenskap suksesvol verdedig deur Iran in die eindstryd op sy tuiswerf in die Fouad Chehab-stadion, Beiroet, met 29-17 te verslaan.

Iran het verlede jaar naelskraap met 24-25 in die eindstryd verloor.

Katar het die derde plek ingeneem deur Jordanië met 25-11 te klop.

In die eerste ronde het Iran vir Katar met 17-8 geklop, en Libanon het Jordanië met 62-3 verfomfaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.