Assupol: Impala klop kwarteinder met honderdtal

Cecil Dumond (Varsity Cup)

Cecil Dumond (Varsity Cup)

`n Gewese houer van die oop klubs se Gemeenskapsbeker (GB), Newrak Rustenburg Impala, het Saterdag in die Noorderbonde se Assupolreeks `n honderdtal teen een van verlede jaar se kwarteinders in die Blou Bulle se Carltonliga behaal.

Impala (Luiperds) het Harlequins (Blou Bulle) 104-13 geklop.

In die ander eerstespanwedstryde het die verdedigende Assupol-kampioen, Centurion, 15-8 teen die Naka Bulle gewen; Pretoria Polisie het Dragons 35-12 oorrompel; Lonmin (Luiperds) het Witbank Ferro’s (Pumas) 17-12 geklop; Pietersburg Noordelikes (Limpopo Blou Bulle) het 20-10 teen Middelburg (Pumas) gewen; en die NWU Pukke se Ibbies het Wits 24-20 getroef.

Noordelikes speel gevolglik Saterdag in Polokwane teen Lonmin in die B-afdeling se halfeindstryd. Die klub se tweede span speel insgelyks teen Ferro’s II; en in Pretoria speel die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) teen Ferro’s in die o.21-halfeindstryd.

♦ Jan McLachan, die sekretaris van Impala, laat weet die gasheerklub het 16 drieë teen die besoekers se twee gedruk.

Hy sê Impala het ondanks die enorme punteverskil nooit van sy wedstrydplan afgewyk nie en loof Quins dat dié nooit moed opgegee het nie.

Cecil Dumond, wat op sy dag in oor die 50 Curriebekerwedstryde (Eerste Liga) vir die Luiperds, die SWD Arende, die Grens en die Valke gespeel het, het 39 punte bygedra. Hy het drie drieë gedruk en met 12 doelskoppe geslaag.

Bruce Muller en Aubrey MacDonald elk vier driee gedruk en Berto van Wyk, Louis Hollemby, Merwick van der Merwe, Francois van Biljon en JP le Grange elk een.

Impala se tweede span het Quins 40-17 geklop en die o.21-span het 28-5 gewen. Quins se derde span het 32-31 gewen.

harlequins♦ Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, bepleit `n beleidswysiging by die Blou Bulle ten opsigte van die gebruik van kontrakspelers in klubrugby.

“Terwyl gekontrakteerde Blou Bul-spelers van gehalte die naweek geen wedstryd gespeel het nie het Quins se amateurs sleg pak gekry by die semi-professionele span en twee jaar gelede se wenners van die GB, Impala.

“Quins sou kon doen met `n paar gekontrakteerde spelers om sy eerste span te versterk. Quins se eerste span moes sy kolf oplig vir `n pak slae van 13-104,” sê Eybers.

“Impala het vir `n punteverskil gespeel omdat hy die punte nodig het om boaan Afdeling A1 te eindig. Ses van sy bekerwenners van twee jaar gelede het die seuns by Quins `n rugbyles geleer wat hulle hopelik vorentoe te pas sal kom.”

Quins se derdes het ses drieë gedruk en kon die voorsprong net-net verdedig. Die o.21s het `n groot verbetering getoon en die eerste keer vanjaar met minder as 50 punte verloor.

♦ Daar is dusver geen enkele bond wat sy onbenutte gekontrakteerde spelers elders aanwend nie, en dis onwaarskynlik dat die Blou Bulle die eerste sal wees om dit te doen.

naka-logo♦ Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê Centurion het deurentyd voorgeloop en die rustydtelling was 10-3 in sy guns.

“Die wedstryd het veral uit `n Naka-oogpunt nie veel hoogtepunte opgelewer nie, en die tuispan en sy ondersteuners sal dit so gou moontlik wil vergeet,” sê Burger.

“Alle eer gaan egter aan die Centurionspan wat enduit hard vir sy sege gewerk het.”

Marcel Human, wat van die bank af opgegaan het, het `n puik drie vir die tuisspan aangeteken ná `n kragtige lopie van ongeveer 55 meter. Jean Grobler het met `n strafskop geslaag.

Centurion het twee drieë gedruk, een verdoel en `n strafdoel aangeteken.

Die res van Naka se spanne het almal met eer uit die stryd getree en hul wedstryde gewen: tweede span: 19-7, derde span 41-5, o.21-span 101-5, o.20-span 24-12.

Dit was Naka se laaste wedstryd in vajaar se Assupolreeks en Burger sê die klub sal hom nou in alle erns vir die Carltonreeks  (wat op 9 April afskop) voorberei.

`n Vriendskaplike oefenwedstryd of twee word naas die gebruiklike oefenkamp in die vooruitsig gestel.

dragons♦  Martin Vlok, die Dragons se klubbestuurder, berig die Pretoria-Noordse klub het drie van sy vyf wedstryde teen Polisie gewen. Naas die eerste span het net die derde 20-23 verloor. Die tweede span het 36-27 gewen, die o.21s 31-28 en die 0.20s 61-0.

Hy sê Polisie het van die afskop af die wedstryd beheer en Dragons het nie `n teenvoeter gehad om die Bobbies te stuit nie.

Polisie se lynstane was merkwaardig en talle fases is daarvandaan vir hul agterlyn opgestel. Dit was duidelik dat Polisie se spelers groter ervaring in die Assupolreeks as die groentjie Dragons het.

“Die Dragons-spelers het gou besef dat Polisie met die wedstryd gaan weghardloop sou hulle nie hul spelpeil lig en binne hul strukture speel nie.”

Die Groenkloofse span was rustyd 14-0 voor.

Vlok sê die Dragons het in die tweede helfte beter teenstand gebied deur hul eie spelpatroon te volg en Polisie trompop aan te durf.

“Mandla Mdaka het Polisie hoofbrekens gegee deur talle balle in die losgemale te wen. Hy het met brute krag en afgeronde vaardigheid een van Dragons se twee drieë gedruk, wat verdoel is.”

♦ Akhona Kave, die ondervoorsitter van Lonmin, sê sy sege teen Ferro’s is onderlê deur die klubgesegde “Lonmin, tuiste van die kampioene”.

Lonmin het die wedstryd goed gelees en sy kans afgewag met sy voorspelers wat die oorhand gehad het, terwyl Ferro’s meer vaart in die agterlyn gehad het, sê Kave.

“Ferro’s het voorgeloop toe Lonmin in die laaste twintig minute die oorhand gekry en die wedstryd beklink het om te toon waarom hy Noordwes se kampioen is.”

Die wenspan het vyf drieë gedruk.

Lonmin se tweede span het 17-12 gewen.

noordelike - logo♦ Freek Romijn, die hoofafrigter van Noordelikes, sê sy span het Middelburg so erg in die skrum oordonder dat hy (Middelburg) in die tweede helfte vir onbetwiste skrums gevra het.

“Dit het Middelburg terug in die wedstryd gebring omdat Noordelikes juis met sy agttal die spel oorheers het. Die telling sou baie groter gewees het as Noordelikes sy sterker skrum meer as aanvalsbasis kon gebruik.”

Romijn sê Noordelikes is tevrede met die wedstryd, maar daar sal dié week baie aandag aan basiese en skeppender spel gegee word ter voorberieiding vir die halfeindstryd Saterdag in Polokwane teen Lonmin.

Wouter de Villiers en CP Louw het Noordelikes se drieë gedruk, en Alwyn Olivier (tien punte) het albei verdoel en met twee doelskoppe geslaag.

Ander uitslae –

Tweede spanne: NWU Pukke 78, Wits 0; Noordelikes 18, Middelburg 12.

Onder 21-spanne: Wits 19, NWU Pukke 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.