Assupol kan beste eindstryd in bestaan oplewer

assupolDis altyd gevaarlik om voorspellings te waag, maar dit sal nie verras as Saterdag se eindstryd in Groep A van die Noorderbonde se Assupolreeks een van die beste in die geskiedenis van die reeks oplewer nie nie.

Loftus Versfeld is in elk geval die aangewese plek vir rugbyfynproewers met dié reeks se eindstryde in die verskillende groepe wat die afgelope paar jaar die een riller op die ander opgelewer het.

Dit sal vreemd wees as die reeks nie ook dié keer sy reputasie gestand doen nie.

Groep A

♦ Die eerstespanfinaliste, die Naka Bulle en Quins-Bobbies-rugby (QBR), het hul plekke oopgespeel deur in naelkou-kragmetings met onderskeidelik die Goue Bekerkampioen (Rustenburg Impala) en die Carltonkampioen (Centurion) af te reken.

Naka is verlede jaar se naaswenner in die Blou Bulle se senior reeks en Pretoria Polisie, wat saam met Harlequins die nuwe klub QBR vorm, het die jongste halfeindronde van die internasionale reeks om die Goue Beker gehaal.

Albei spanne het die skietgoed om vir ʼn gedenkwaardige stryd te sorg.

♦ Wat die tweede spanne betref, klink dit of Impala en QBR oor van die beste diepte in die land beskik, en die aanduiding is dat hier ook ʼn stryd ten bloede wag.

Dit sal onverantwoordelik wees om ʼn wenner te probeer voorspel.

♦ Op o.21-vlak het die Universiteit van Johannesburg (UJ) die Tukkies in die halfeindronde verniel en dit sal interressant wees om te sien hoe die Naka Bulle teen die studente vaar.

Die klub van die Moot se internasionale rugbyakademie het onder meer daarvoor gesorg dat hy die afgelope jaar of wat gedugte onderouderdomspanne in die veld kon stoot.

Groep B

♦ Dit lyk of die rugbykrag in Limpopo in die jongste tyd na die Waterbergstreek verskuif het en die eerste spanne van Northam Rhinos en Potgietersrus vat mekaar in Groep B se eindstryd voor die bors.

Northam het dalk die voordeel dat hy verlede seisoen aan die reeks om die Goue Beker deelgeneem het en as hy die lesse daaruit ter harte geneem het, kan dit hom goed teen Potties te pas kom.

Laasgenoemde het sedert verlede seisoen in statuur gegroei en daar is geen rede om hom Saterdag gering te skat nie.

♦ Korrektiewe Dienste en die Universiteit van die Witwatersrand spook sake in die afdeling vir tweede spanne uit.

Ook hier kan enige van die twee spanne ewe goed die titel wen.

Groep C

♦ Pretoria se twee buurdorpe Hartbeespoort en Bronkhorstspruit is die eindstryders in Groep C, die klubs wat net een span vir die reeks ingeskryf het.

Harties is vuur en vlam nadat hy vanjaar na Afdeling B van die Carltonreeks bevorder is in opvolging van sy verowering van die C-kroon verlede jaar.

Bronkies, wat verlede jaar deur Harties in die C-eindstryd geklop is, sal graag dié keer die bordjies wil verhang.

Saterdag se program –

B-veld

13:00 Naka Bulle o.21 teen UJ o.21
15:00 Northam I teen Potgietersrus I
17:00 Naka Bulle I teen QBR I

C-veld

13:00 KD II teen Wits II
15:00 Impala II teen QBR II
17:00 Hartbeespoort I teen Bronkhorstspruit I.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.