Assupol se afskop beloof kookwater-rugby

assupolSommer met die seisoen se wegtrekslag is daar `n klompie kragmetings in die Noorderbonde se Assupolreeks wat kookwater-rugby beloof.

Drie wat veral uitstaan, is dié in Reigerpark tussen die tuisspan East Rand United (ERU) en die Goue Beker-semifinalis en Valke-kampioen, Brakpan; dié in Centurion tussen die Blou Bulle se Carltonkampioen en die Tukkies, eintlik die Fezelas, met die universiteit se bestes wat aan die Varsitybekerreeks deelneem; en dié in Pretoria-Noord tussen die plaaslike Dragons en Rustenburg Impala, die Goue Bekerkampioen.

Daar wag gewis nie `n heldeontvangs vir die Panne in Reigerpark nie, en dis nie om dowe neute dat ERU se tuisveld as “die Begraafplaas” bekend staan nie. Menige spogspan het al daar sy moses teëgekom. Dit sal `n dag van bloed sweet wees.

Kragmetings tussen Centurion en die Tukkies is insgelyks nogal geneig om bloed uit klippe te tap, ongeag of die studente hul beste of naasbeste op die veld stuur.

Dragons het hom die afgelope jaar as `n krag in Carltonrugby gevestig, en Impala kan hom dalk ná die Rustenburgers se sukses in die nasionale reeks ietwat onderskat.

Op Springs (en van buite) sal daar groot belangstelling heers om te sien hoe die nuwe klub Quins Bobbies in sy eerste ligablootstelling vaar.

Wat die ander wedstryde in Groep A betref, behoort die Universiteit van Johannesburg se naasbestes in Polokwane te sterk vir Pietersburg te wees; soos ook die geval op Vanderbijlpark met Roodepoort teen die NWU Vaal behoort te wees.

Groep B

In Groep B sal dit interessant wees om te sien hoe die spanne van die Limpopostreek en die Pumas teen Blou Bul-klubs vaar.

Die Rhinos van Northam, die Limpopo-kampioen, speel gasheer vir Tuine van Pretoria; Potgietersrus ontvang Cullinan; en Korrektiewe Dienste reis Middelburg toe.

In die afwesigheid van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se uitsoekspan, wat aan die reeks om die Varsityskild deelneem, is Noordelikes (Pretoria) die gunsteling om die kragmeting tussen dié twee klubs te wen, tensy vanjaar se studente-inname groter diepte as gewoonlik getoon het.

Groep C

Op sy tuisveld behoort Hartbeespoort, die Blou Bulle se Cartonliga C-kampioen, Delmas te klop; Edenvale en Warmbad kan mekaar goed opdreun; en Elsburg sal waarskynlik te sterk vir Atteridgeville wees.

Op Westelikes se veld behoort die tuisspan met Tswaing af te reken; en Eersterust eweneens met Soshanguve.

By die Hoërskool Dr Malan op Meyerton sal die tuisspan en Bronkhorstspruit mekaar na verwagting deeglik opkeil; sal Oos-Rand Polisie waarskynlik die botoon teen Vanderbijlpark voer; en is Transnetparke die gunsteling om Mamelodi te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.