Assupol se peil hoër; aartsteenstanders val vas

assupol nuutMidde-in aanduidings dat die peil van die Noorderbonde se Assupolreeks hoër as verlede jaar is, het die aartsteenstanders Pretoria Polisie en Rustenburg Impala Saterdag in die eerste ronde teen mekaar vasgeval.

Die Bobbies en Impala het in Groenkloof 14-14 gelykop gespeel; die heersende kampioen, Centurion, het Tuine 87-3 op laasgenoemde se tuisveld verniel; die Tukkies het die Naka Bulle 25-22 in die Moot geklop; en die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Harlequins in Westdene 24-6 verslaan.

Verlede jaar het Polisie en Impala drie keer kragte gemeet. Die Rustenburgse span het twee keer gewen en die Bobbies een keer. Met die drie uitslae bymekaar getel, was die Pretoriase span `n enkele punt beter af.

In die lig hiervan word met groot afwagting uitgesien na die twee kragmetings tussen dié spanne wat in die Carltonreeks voor lê.

pretoriapolisie♦ Johan Kluyts, `n woordvoerder van Polisie, sê dit was Saterdag baie warm en die rugby was nie goed nie, maar dit was `n taai affêre.

“Nie een van die spanne het nog hul voete gevind nie. Albei het goed verdedig.

“Polisie het in die lynstane gesukkel, maar Morné Hugo het in die eerste helfte goed pale toe geskop en Polisie in die wedstryd gehou.”

♦ Naka het op sy beurt die Tukkie-spanne goed die skrik op die lyf gejaag en Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die wedstryde het duidelik getoon dat die groot gaping wat daar tussen verlede jaar se spanne was, besig is om aansienlik te krimp.

Die studente se eerste span het in die doodsnikke van die wedstryd met `n strafskop geslaag, wat die kragmeting 25-22 in sy guns beklink het.

naka-logoElk van die spanne het twee drieë gedruk, in wat Burger bestempel as `n klipharde stryd wat met tye opwindende rugby opgelewer het.

Naka se lostrio het uitgeblink, en die vleuel Fanie Rasarorka is vir sy harde werk met `n drie beloon.

t Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, meen eweneens dat die afdeling vir klubs met vyf spanne se peil `n goeie 10% hoër as verlede jaar is. Die afgelope naweek se tellings bewys dit.

Hy sê Quins se eerste span het aanvanklik effens geroes voorgekom en UJ was rustyd 17-3 voor.

“In die tweede helfte het die manne hul ritme gevind en geen verdere paselladrieë afgestaan nie.

“UJ, met vier Varsitybeker-spelers in sy span, moes hard vir sy punte werk. Die studente se kondisionering is gewis tans beter as dié van Quins, en al vyf laasgenoemde se spanne sal hard moet oefen om hul fiksheid te verbeter.”

harlequinsEybers sê dis altyd `n moeilike lootjie vir `n oop klub om sy eerste wedstryd weg en teen `n universiteitspan te speel. Baie van die spelers het werkverpligtinge en `n paar sleutelspelers was nie beskikbaar nie.

“Dit is egter `n riem onder die hart dat die meeste van verlede jaar se Carltonhalfeindspan weer vir die klub beskikbaar is.

Hy sê Quins het soos altyd diepte in die klub en spog nou met 310 geregistreerde spelers.

“Die tweede en derde span gaan later in die jaar moeilike kalante wees om teen te speel.

“Die onderouderdomspanne sal hard moet werk as hulle later vanjaar in die beoogde o.20-afdeling van die Goue Beker wil speel.”

Eybers sê daar is `n hele paar individuele sterre in Quins se spanne en dit is bloot `n kwessie van tyd voordat hulle mekaar vind.

Die volgende wedstryd is Saterdag tuis in Groenkloof teen Dragons.

Ander uitslae –

Tweede spanne: Impala 17, Polisie 14; UJ 14, Quins 7; Tukkies 25, Naka 17; Centurion 58, Tuine 0.

Derde spanne: Impala 34, Polisie 19; UJ 22, Quins 19; Tukkies 18, Naka 5; Tuine onttrek teen Centurion.

Onder 21-spanne: Polisie 29, Impala 27; UJ 81, Quins 3; Tukkies 23, Naka 12; Tuine 67, Centurion 14.

Onder 20-spanne: UJ 48, Quins 12; Naka 12, Tukkies 10; Centurion 8, Tuine 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.