Assupolbeker kry nuwe baas ná verbete stryd

Die Naka Bulle se Ian Herbst (voorsitter), Jean Grobler (speler van die wedstryd) en Buks Burger (klubbestuurder). (Foto: Johanna de Vos)

Die Naka Bulle se Ian Herbst (voorsitter), Jean Grobler (speler van die wedstryd) en Buks Burger (klubbestuurder). (Foto: Johanna de Vos)

Die uiteinde van ʼn klipharde eindstryd wat opwindende rugby opgelewer het, is dat die Assupolbeker ʼn splinternuwe baas het.

Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê dis die eerste keer dat Naka, wat vanjaar sy 20ste bestaansjaar vier, dié beker omhoog kan hou.

Hy sê dit was ʼn hoogs gemotiveerde span, besielend gelei deur Sylvester Booysen, wat Quins-Bobbies-rugby (QBR) Saterdag met 38-25 getroef het (rustyd 23-20).

“Die span, wat nooit in sy eie vermoëns getwyfel het nie, het van die afskop af verbete ingeklim en was ongelukkig om nie in die eerste minuut al punte aan te teken nie. ʼn Hanteerfout op die doellyn het die poging laat skipbreuk ly.

“Die sege het nie maklik gekom nie, en dit het dodelike verdediging gekos om die ewe sterk gemotiveerde span van QBR van Naka se doellyn weg te hou.”

Burger sê dit het ʼn besonderse spanpoging geverg, waarin die spelers vir mekaar, vir hul afrigters en ondersteuners hul beste gelewer en hul lywe opgeoffer het.

Hy het groot lof vir QBR wat veral in die laaste 20 minute kwaai druk toegepas het, maar nie daarin kon slaag om die wedstryd in sy guns te swaai nie.

Die flank Ferdi Naudé (twee), die skrumskakel Jerome Bastick, die stut Lawrence Cleminson en die vleuel Marcel Human het Naka se drieë gedruk.

Jean Grobler, wat deur die organiseerders as die speler van die wedstryd aangewys is, het met twee doelskoppe en twee strafdoele (tien punte) geslaag, en die jong en talentvolle Dillan du Buisson (die plaasvervanger-losskakel) het ʼn strafdoel behaal.

Die flank Luga van Biljon, wat deurgaans saam met sy flankmaat Gerhard du Preez die teenstanders aan die raai gehou het, is deur Naka se afrigtingspan as die voorspeler van die wedstryd aangewys.

In die o.21-eindstryd het die sterk span van die Universiteit van Johannesburg (UJ) net-net sy Naka-portuur met 34-32 geklop.

Burger sê die span van Naka is besig om onder leiding van sy bekwame afrigters Naas Rossouw, Bert Lazarus en Morné Human in ʼn puik eenheid te ontwikkel.

“Hy was ongelukkig om nie die wedstryd te wen nie, deurdat sy puik heelagter en stelskopper, R du Preez, se laaste strafskop die regoppaal getref het, waarop die eindfluitjie geblaas het.

Die rustydtelling was 22-19 in UJ se guns.

qbr♦ Ben Eybers, die voorsitter van QBR, sê Naka en QBR kan mekaar dalk nog drie keer vanjaar die stryd aansê, “en as ʼn mens na die gehalte van Saterdag se wedstryd kyk, kan dit elke keer ʼn riller oplewer”.

Hy sê dit het op die oog af gewis gelyk of daar meer mense op Loftus Versfeld was as die vorige aand by die Superrugbywedstryd.

“Dit wys dat rugbyondersteuning op klubvlak groei, en dat borge, spelers en toeskouers gewis waarde uit die Assupolreeks put.”

Wat QBR Swart se kragmeting teen Naka betref, berig Eybers dat QBR vinnig twee twee drieë afgestaan het en met 14 punte agter was.

“[Die span] het egter teruggeveg en was in ʼn stadium met 17-14 voor. Naka het egter ʼn maklike afstormdrie gedruk, en daarna ʼn losbal agter QBR Swart se skrum opgepik om ʼn 30-meterdrie te druk.

“QBR het aanhou terugbaklei en het op die ou end met 25-38 verloor.

“Naka was onteenseglik honger vir ʼn bekeroorwinning nadat hy verlede jaar in die Carltoneindstryd verloor het.”

Jacques Erasmus (twee) en Attie Joubert het QBR Swart se drieë gedruk. Morné Hugo het tien punte met twee doelskoppe en twee strafdoele bygevoeg.

Eybers laat weet ook dat QBR Rooi met 25-5 teen ʼn baie goeie Rustenburg Impala II geseëvier het.

“Die reeks se reëls dat spelers in minstens twee wedstryde moes speel, en dat spelers nie afgeskuif mag word nie, het QBR se spankeuse beïnvloed. Hy het egter seker gemaak hy kon sy beste spanne in die veld stoot deur nie ʼn breër groepstelsel te gebruik nie.

“QBR Rooi het die wedstryd voor warm gemaak ongeag die Pretoriase son wat in ʼn versengende 31˚ C neergebak het,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Marnus Coetzee, die speler van die wedstryd het die eerste drie gedruk en QBR was rustyd reeds met 20-3 voor.

“Die hitte het egter sy tol geëis, en QBR Rooi kon slegs laat in die tweede helfte nog vyf punte aanteken vir ʼn finale 25-3.”

northam-logo-300x210Groep B

♦ Northam Platinum Rhinos is die Groep B-kampioen nadat hy die eindstryd teen Potgietersrus 19-8 gewen het.

Flip de Kock, Northam se sekretaris en afrigter, sê die Rhinos het uit die staanspoor positiewe rugby gespeel en Potties verskeie kere in die moeilikheid gehad, maar kon ongelukkig nie die goeie werk afrond nie.

“Northam het ook twee maklike strafskoppe pale toe verbrou. Daarna, weer naby Potties se doellyn het die Rhinos die bal aangeslaan en weer nie afgerond nie. Die daaropvolgende skrum, vyf meter van Potties se doellyn, het darem tot Northam se eerste drie gelei nadat die agttal die oorhand in die skrums gekry het en ʼn oorstootdrie bewerkstellig het.”

ʼn Groot slag het Northam getref toe sy losskakel Danie Loots 15 minute voor die einde van die eerste helfte met `n rooi kaart van die veld gestuur is.

“Dit het sake op die aanval vir Northam baie moeilik gemaak en later met twee geel kaarte aan sy flank Jacques Hattingh en skrumskakel Amri Schlebusch moes die Rhinos Potties se aanvalle met slegs13 man afweer.

“Iewers moes die wal breek, en Potties is met ʼn drie in die hoek beloon om sy telling tot agt op te skuif,” berig De Kock.

“Met sowat 15 minute oor het Northam ná ʼn teenaanval gaan druk, en daarna het Josh Finlay ook met twee strafdoele geslaag om te verseker dat Northam die wedstryd wen.

De Kock sê die Northam-agttal het as ʼn eenheid goed geskrum, en Attie Louw (slot) en Jimmy Baloyi (agtsteman) het ʼn barshou gespeel.

“Finlay het op heelagter weer goeie spel gelewer en is as die speler van die wedstryd beloon. Die jong Wiehan Koen op binnesenter het gewys dat hy tuis is op klubrugbyvlak, en meer as sy deel bygedra.

“As ʼn span het die Rhinos se verdediging ʼn groot rol gespeel, Potties telkemale tot foute gedwing, en voorkom dat hy punte aanteken.”

De Kock sê dit was harde Bosveldrugby, en hoewel dinge vanweë die rooi kaart nie vir Northam vlot verloop het nie, is daar baie om uit die wedstryd te leer, en positiewe dinge wat vorentoe net ʼn aanwins vir die span kan wees.

“Nou begin die voorbereiding vir die liga waar Northam twee keer teen Potties sal speel, en niks minder nie as klipharde tweestryde te wagte kan wees.”

♦ In die afdeling vir tweede spanne het die Universiteit van die Witwatersrand met 42-22 teen Korrektiewe Dienste gewen.

Groep C

♦ In Groep C het Hartbeespoort ʼn rustydagterstand van 9-13 omgekeer om met 29-13 teen Bronkhorstspruit te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Baie geluk aan Naka. Julle was puik en die oorwinning welverdiend. van Biljon en du Preez was inderdaad puik. Ian Herbst en sy span werk hard en julle resultate wys.
BY QBR word ook hard gewerk en hulle het deurgaans probeer maar Naka was eenvoudig beter. Sterkte aan albei klubs vir die jaar vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.