Assupolreeks: Bobbies bo in rugbyskouspel

pretoriapolisiePretoria Polisie is die nuwe Assupolkampioen nadat hy die Tukkies Saterdag in `n skouspelagtige eindstryd op Loftus Versfeld geklop het.

Polisie het 23-9 gewen in dié reeks van die Noorderbonde wat deur die Blou Bulle-rugbyunie geadministreer word.

♦ Johann Kluyts, `n woordvoerder van Polisie, sê die groot aantal toeskouers vir ‘n klubwedstryd wat teenwoordig was, moet `n pluimpie vir die borg wees, en toon die gewildheid van die reeks.

“Albei spanne was op goeie, positiewe spel ingestel en die bal het die meeste van die werk gedoen,” het hy aan Pale Toe! gesê. “Dit was sommer lekker rugby om na te kyk en as hierdie soort rugby as maatstaf gebruik word, is ons klubrugby op die regte pad.

Kluyts sê die Bobbies het die grondslag vir hul oorwinning in die vaste skrums gelê en die Tukkies in dié opsig onder kwaai druk geplaas.

“As Polisie se hanteerwerk en afronding verbeter, sal hy vanjaar onder Nico Luus se afrigting `n groot faktor wees.

“Die spelers moet groter geduld op die aanval beoefen, gouer uitgee en hul balbesit beter beskerm. Wat egter ‘n lus vir die oog was, was hul aanvallende benadering. Ek het ‘n Polisiespan lanklaas só sien hardloop.”

Hy sê die Tukkies het nie teruggestaan vir Polisie se fisieke aanslag nie en hul verdediging was van hoogstaande gehalte. “Hulle het goeie studenterugby gespeel en selfs onder druk telkens uit hul eie gebied met die bal gehardloop.”

Kluyts sê Dwight Pansegrauw het die oog tussen die Tukkies gevang en was onverskrokke op die aanval en verdediging.

“Vir Bobbies lyk dit of die ou Michael Nienaber op vleuel terug is en was Lugga van Biljon weer uitmuntend op flank.

“Die groot uitblinker was egter Xolanie Nkosi, wat `n vyfstervertoning eers op skrumskakel, toe op losskakel en later op heelagter gelewer het. Hier het Bobbies ‘n diamant in wording. Dan kan die mannetjie nog verdedig ook!”

Kluyts sê skeidsregters ontvang nie altyd pluimpies nie, maar Stefan Geldenhuys is `n aanwins vir die spel.

“Hy blaas volgens die reëls en laat die spel vloei. Dis wat toeskouers wil sien.”

Northam Rhinos 46, Pietersburg Noordelikes 42

Northam-logo♦ Die twee Limpopo-klubs in die eindstryd van die B-afdeling van die reeks, Northam Rhinos en Pietersburg Noordelikes, het heelwat gehad om voor te speel. Noordelikes wou wys dat sy nederlaag verlede jaar teen die Rhinos in die Limpopo-eindstryd nooit moes gebeur het nie, en Northam moes op sy beurt bewys dat sy sege nie `n gelukskoot was nie.

t Flip de Kock, die sekretaris en afrigter van Northam, sê die wedstryd was uit die staanspoor hard en Noordelikes was met `n strafdoel eerste op die telbord.

“Die Rhinos het vining teruggeslaan met `n drie van hul eie om die telling 7-3 in hul guns te maak.

“Die manne van albei spanne het regtig alles wat hulle het in die stryd gewerp, omdat daar meer as bloot die Assupolbeker in die spel was. Harde duikslae was aan die orde van die dag.”

De Kock sê die telling het vinnig aangegroei en die Rhinos was op `n tydstip 13 punte voor, maar die eerste van drie geel kaarte aan die Rhinos se kant het Noordelikes terug in die wedstryd gebring. Met die Rhinos se skrumskakel van die veld af, was dit baie moelik om die gate toe te stop, en Noordelikes het met twee vinnige drieë weer die voortou geneem.

Teen rustyd was Noordelikes met een punt voor.

“Ek moes tydens die blaaskans hard met die manne praat. Ons was telkemale in `n posisie om punte aan te teken, maar ons dissipline het ons in die steek gelaat.

“Met 20 minute oor het ons twee geel kaarte binne die bestel van twee minute gekry en moes ons met 13 manne op die veld alles uithaal en gate toestop.

“Dit was opnuut `n draaipunt in die wedstryd, Northam het nou met slegs ses voorspelers gespeel en Noordelikes het dit uitgebuit en weer die voortou geneem.

“Dit het sake ook moeilik gemaak om van die bankspelers volgens beplanning op die veld te stuur.”

De Kock berig dat die Rhinos in die 79ste minuut `n strafskop gekry en besluit het om kantlyn toe te skop en nie die punte vir `n gelykop uitslag te neem nie.

“Ons het die lynstaan gewen en oor die doellyn beweeg, maar kon nie druk nie. Met 30 sekondes oor het ons `n skrum gekry.

Ons het goed geskrum en vorentoe beweeg tot die skrum geval het.

“Nog `n skrum is toegeken en ons het weer die oorhand gekry. Noordelikes het oortree en `n strafdrie is toegeken wat verdoel is sodat die Rhinos 46-42 gewen het.”

De Kock sê Northam het vanweë beserings en persoonlike redes sonder ses van sy gereelde spelers opgedraf.

“Dit het ons diepte getoets en die manne het hul harte uitgespeel. Ons het nooit gaan lê nie, nie eers toe ons net 13 man op die veld was nie.”

Hy het die groep bedank omdat hulle vir mekaar en vir die renosterembleem op die bors speel. Elke lid van die groep het `n bydrae wat hy wil lewer, sê hy.

Northam se agsteman, Dieter Marquart, het `n reusewedstryd gespeel en is met twee drieë beloon.

Die buitesenter Chris Juries is as die speler van die wedstryd aangewys.

Stephan Jacobs, met sy skopskoen, was waardevol op losskakel. Hy het eers vyf minute voor opwarming verneem hy is in die opdrafspan nadat `n speler op die nippertjie onttrek het.

De Kock sê elkeen van die ander spelers het sy beste gegee en die voorspelers was as `n eenheid puik. Die agterlyn was gevaarlik elke keer wanneer die geleentheid dit voorgedoen het.

noordelike - logo♦ Freek Romijn, Noordelikes se afrigter, sê dit is eintlik jammer dat `n meer senior skeidsregter nie die eindstryd hanteer het nie, want dit is sleg as `n skeidsregter so `n groot invloed op die spel het as wat Saterdag die geval was.

“Die blaser se vertolking van die lynstaanreëls gaan my verstand te bowe. Noordelikes is met élke lynstaan gestraf waar ons wou dryf. As ons maar weet hoekom en wat met ons dryfslae verkeerd was, dan kon ons dit regmaak; maar om die dryfbeweging van die lynstaan af in `n eindstryd geheel en al uit ons wedstrydplan te haal, is baie moeilik.”

Romijn sê in die laaste sekondes van die wedstryd het Northam `n skurm vyf meter van Noordelikes se doellyn af gekry.

“Nadat die bal reeds uit die skrum uit was, is Noordelikes se vaskopstut `n geel kaart gewys.

“Met sewe man voor is daar weer geskrum. Dié keer het die skeidsregter op sy fluitjie geblaas, Noordelikes se agsteman met `n geel kaart van die veld gestuur, en `n strafdrie toegeken wat Northam die wedstryd laat wen het.”

Romijn sê dis `n groot teleurstelling om met `n strafdrie te verloor, maar hy wens Northam geluk met sy sege.

Agter was Wouter de Villiers briljant vir Noordelikes, met drie drieë, en Thyman Jongbloed (skrumskakel ) het sy hart uitgespeel.

Behalwe De Villiers se drietal het Jongbloed en Juan Jacobs vir Noordelikes gedruk.

Alwyn Olivier slaag met sewe uit nege skoppe pale toe geslaag.

Dragons II 37, Tukkies II 28

tukkies♦ Bennie Burger, die Tukkie-afrigter, sê die feit dat die Dragons as `n hegte eenheid gespeel het was sigbaar.

“Dit het na `n span gelyk wat lank saam speel en die beker wóú wen. Hulle sal sterk teenstand in die Blou Bulle se Tweede Liga bied.

“Ons het baie goed geskrum en baie goeie balle van ons voorspelers ontvang, maar die agterlyn was op die agtervoet omdat hulle baie vlak probeer speel het en dan dadelik onder druk van die Dragons se agterlyn was.

“Die Dragons was baie goed op die grond in die losskrums asook met hul lynstane en dryfspel. Daarvandaan het hulle ook baie goed van ons foute af gespeel.”

Burger sê die studente het in die tweede helfte goed met die bal in die hande gevaar.

Die stutte en haker Faf Pelser, Juan Whiteman en Armel du Toit het voor uitgeblink. Agterlangs was die kaptein en senter, Pieter Uys, met twee drieë vlymskerp asook die heelagter, Lourens Weyer, en die regtervleuel, Chris Jan Meyer.

Behalwe Uys het Lyle Joubert en Meyer die Tukkies se drieë gedruk. Juandré van Wyk het al vier verdoel.

nwu pukkeNWU Pukke II 46, Ferro’s II 3

♦ Chris Erasmus, die NWU Pukke se afrigter skryf sy span se oorwinning onder meer toe aan die voorafgaande week se goeie voorbereiding.

“Op die veld het dit baie goed in die vaste fasette gegaan en die Pukke het hul balle in die lynstane gewen.

“Die voorspelers het goeie momentum aan die agterlyn verleen, wat van die voorvoet af kon aanval.

“Die span het goed verdedig en eerste duikslae laat tel,” het Erasmus aan Pale Toe! gesê.

Bekker Oosthuizen (buitesenter), Stefan Coetzer (losskakel), Eddie Engelbrecht (regtervleuel), Bradley Leijdekkers (flank) en Joshua van Niekerk (slot) het vir die Pukke uitgeblink.

Coetzer (skopper), Engelbrecht, Oosthuizen en Jason Crafford (drieë) was tussen hulle vir al die Pukke se punte verantwoordelik.

Ferro's logo♦ Johan Jansen van Vuuren, Ferro`s van Witbank se sekretaris, sê die wedstryd het goeie hardlooprugby deur die Pukke opgelewer en hulle is met twee vinnige drieë beloon.

“Ferro’s se swaar agttal is deur die los spel van Pukke uitgeskakel en dit het daartoe bygedrae dat Ferro`s se voorspelers vinnig moeg geword het.”

Juandré Schmidt het Ferro’s se enigste punte met `n strafdoel behaal.

Die Pukke was rustyd reeds 36-3 voor

Jansen van Vuuren sê met die opstuur van die Ferro’s-bank in die tweede helfte was daar nuwe ywer aan die Witbankers se kant, maar hulle kon nie die balle by die vleuels kry om die aanslag af te rond nie.

Die Pukke het in die tweede helfte net een keer gaan druk.

Junior Laas, een van Ferro’s se topspelers, het vroeg in die wedstryd sy arm gebreek.

Volgens Jansen van Vuuren het Hugo van der Merwe (buitesenter) `n uitstekende wedstryd gespeel en het `n paar drieë met sy goeie verdediging gekerer. Hy het ook keer op keer met die bal in die hande die voordeellyn oorgesteek.

Die skrumskakel, Juandré Schmidt, het hom goed van sy taak gekwyt.

“Dit was vir Ferro’s II goeie ondervinding en blootstelling om aan die Assupolreeks deel te neem en hy sal nou hard werk om die Mpumalangaliga, wat 9 April begin, met nuwe ywer en krag aan te pak,” het Jansen van Vuuren gesê.

Tukkies III 20, Dragons III 18

Tukkies o.21 21, UJ o.21 10

♦ Len Olivier, die Tukkies se afrigter, sê dit was `n eindstryd in elke sin van die woord.

“Ons het geweet UJ het `n baie goeie o.21-span wat baie fisiek is, maar wie se vaste fasette nie altyd op peil is nie – dus het ons hulle veral in die skrums laat swaarkry en in die tweede helfte in die lynstane ook, wat gewis `n groot rol gespeel het.

“Ek dink dit het grootliks in ons guns getel dat ons elke wedstryd in die Assupolreeks as `n eindstryd benader het. Ons het strawwe wedstryde in ons groep gehad, waar ons hard moes werk. UJ, aan die ander kant, se punteverskil was 203 vir en 16 teen. Ons het gevolglik die druk beter as hulle verwerk.

“Die laaste 20 minute was ons bank gewis sterker en ons het 12 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aangeteken ná ons 9-10 agter was, om 21-10 te wen. Die plaasvervangers moet baie lof daarvoor kry. Hulle het soos in elke ander wedstryd `n groot verskil gemaak.”

Olivier sê as hy individue moet uitsonder, is Chris Labuschagne die Tukkie-kaptein en flank, `n buitengewoon begaafde speler en kaptein wat met sy voorbeeld lei.

“Arnè van Rensburg (agsteman) kon netsowel die speler van die wedstryd gewees het.

“Andri Cooper (losskakel) is `n speler vir die groot wedstryde en sy skopvoet het sy span deurgans in die wedstryd gehou.

“Erick Fourie (heelagter), wat die wendrie gedruk het, het elke wedstryd beter en beter gespeel en sy beste vir die eindstryd gelos.”

Die afrigter sê dit was per slot van sake `n totale spanpoging om die beker te wen en hy is ongelooflik trots op die span.

Hennie le Roux en Fourie het die Tukkies se drieë gedruk, en Cooper het `n doelskop en drie strafdoele (11 punte) behaal.

wits sportWits o.21 67, TUT o.21 7

♦ Wits se spanbestuurder, Yanga Damane, laat weet Christopher Shimper, Daniel Kasande en Tiaan Scott het elkeen twee drieë vir die Johannesburgse studente gedruk, en Sibusiso Ngobezulu, Carling Forward, Pascal Snyman, Daniel de Jesus en Jerrod Fuller een elk. Mashack Raphungu het  ses verdoel.

Forward is as die speler van die wedstryd bekroon.

♦ Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, sê dit was `n groot teleurstelling om só ver teen Wits te verloor.

“Wits het `n baie goeie span met baie bedrewe spelers,” het hy aan Pale Toe! gesê.

TUT“Ons het net vyf o.21s in ons span gehad en was fisiek nie opgewasse teen hulle nie. Boonop is die meeste van ons o.20s eintlik nog werklik o.19.

“In wese speel die meeste van ons top-o.21-spelers tans in die reeks om die Varsityskild.”

Van Heerden sê die klub is steeds baie dankbaar dat sy jonger spelers kans kon kry om in Polokwane en op Middelburg te kon gaan speel, “waar ons op ons beurt groot oorwinnings behaal het”.

“Dit wys eenvoudig hoe groot die gaping tussen universiteitsrugby en rugby op die platteland aan die een kant is, en tussen universiteite met groot begrotings en universiteite met uiters klein begrotings aan die ander kant.”

Tuine o.20 27, UJ o.20 20

♦ Die vreugdevure brand hoog in Tuine se wêreld nadat die o.20-span die eerste keer in die klub se bestaan een van die Assupolbekers in die trofeekas staande gemaak het.

Die Grizzlies se jongspan het die Universiteit van Johannesburg (UJ) in `n naelbytstryd 27-19 geklop.

tuine-grizzlies-logoJaco Olivier, die klubbestuurder van Tuine, sê die groot tellings wat die Grizzlies se senior spanne in die reeks op die lyf geloop het, was ter wille van die o.21s en o.20s wat graag aan die reeks wou deelneem en wat die klub geweet het hulle kan die knoop deurhak.

Hy berig dat die Grizzlies binne die eerste paar minute agter was nadat UJ `n drie gedruk het (0-5).

“Skielik was dit erns by die Grizzlies en die vinnige linkervleuel Riekerd Botha het ná een van die beste agterlynbewegings in `n lang tyd gaan druk. Die heelagter, Arno van Heerden, het verdoel (7-5).

“In die 25ste minuut het die Grizzlies se op en wakker regtervleuel, Christian Kitenge, `n rooi kaart op die lyf geloop nadat hy en sy teenstander aan mekaar gepluk en die skeidsregter beslis het Kitenge het weerwraak geneem.

“Met 14 man het die Grizzlies weer gaan druk, nadat hulle met `n voorspelerbeweging druk uitgeoefen en die bal deurgeskop het. Hulle het UJ op sy eie doellyn vasgepen, die bal gewen en die bal aan die groot senter Ruben Opperman besorg, wat gaan druk het. Van Heerden se gevaarlike skopvoet het dit verdoel (14-5).”

Kort voor die omdraaislag het UJ `n strafdoel behaal (rustyd 14-8).

Olivier sê het die tweede helfte sterk begin en met net 14 verdedigers `n onverdoelde drie gedruk (14-13), gevolg deur `n strafdoel deur Van Heerden vir die Grizzlies (17-13).

UJ het nie gaan lê nie en van `n lynstaan af oorgedryf vir `n verdoelde drie om die eerste keer in die wedstryd voor te loop (17-20).

Kort ná die afskop het `n hoogvat deur UJ Van Heerden die geleentheid gebied om die voortspruitende strafskop deur die pale te loods en die telling 20-20 te maak.

Met `n paar minute oor was UJ se afskop kort en `n skrum is op die middellyn gevorm. UJ het die bal gewen en na die agterlyn laat loop. Neven Nel, die Grizzlies se plaasvervanger-stut het dit onderskep, maar nie die vaart gehad om weg te kom nie. Hy het na die blitsige skrumskakel Dewald Peen laat loop, wat gaan druk het. Die akkurate Van Heerden het dit verdoel (27-20).

Tussen die talle uitblinkers in die wedstryd het die Grizzlies se nommer 7-flank, Leon Ndlovu, die toekenning as speler van die wedstryd ontvang.

Die kaptein, Francois van Niekerk (slot), het die span met baie goeie besluitneming gelei.

Die rugby was baie hard en die losskakel van die Grizzlies, Lohan (Omo) Bennett, het van sy heel beste rugby gespeel voor hy sy skouer in `n plettervat op UJ se agsteman beseer het. Met sy balverspreiding, geleerde skopvoet en fantastiese verdediging het hy die teenstanders op hulle tone gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.