Assupolreeks: Impala, Northam, Dragons verras

uj logoSaterdag se ronde van die Noorderbonde se Assupolreeks was propvol groot verrassings.

Die grootste hiervan was die amok wat Newrak Rustenburg Impala (Luiperds) gemaak het deur die Universiteit van Johannesburg se Ratels (Goue Leeus) 57-10 te oorrompel; Dragons (Blou Bulle) `n nuweling in die Carltonliga, het 27-16 teen Harlequins (Blou Bulle), `n Carlton-kwartfinalis van verlede jaar, gewen; en Northam (Limpopo Blou Bulle) het die NWU Pukke (Luiperds) 39-38 geklop.

In die ander eerstespan-wedstryde het die Naka Bulle die Eerste Ligaklub Tuine 126-0 verniel; Pietersburg Noordelikes (Limpopo Blou Bulle) het die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) van die Blou Bulle 47-17 geklop; en Lonmin (Luiperds) het Letaba (Limpopo Blou Bulle) 16-13 geklop.

♦ Jan Mclachlan, die voorsitter van Rustenburg Impala, laat weet die wenspan het nege drieë gedruk.

“Die skrif was vroeg reeds aan die muur toe die vleuel Kyle Verwey binne 20 minute `n driekuns behaal het. Steeds in die eerste helfte, het die agsteman en kaptein, Justin Wheeler, gedruk asook die groot voorryman Koos Strauss. Om die telbord verder te laat aanrol, het die losskakel Francois van Biljon drie daarvan verdoel. Die rustydtelling was 31-3.

“Kort ná die aanvang van die tweede helfte het die ou strydros Morné Basson gedruk, gevolg deur drieë van die skrumskakel, Nico Kruger, en die heelagter, Aubrey Macdonald. Die stut Louis Hollemby het die laaste drie van die dag gedruk. Van Biljon het nog drie verdoel.”

Mclachlan sê `n mens kan nie anders nie as om te wonder wat met studenterugby aan die gebeur is.

“`n Jaar of twee gelede was dit ondenkbaar dat `n oopklubspan 57 punte teen `n studentespan aanteken. Dit wil voorkom asof die pendulum in amateurrugby besig is om terug te swaai na die oop klubs toe.”

Hy sê dit het minder goed met Impala se ander spanne gegaan.

Die Pukke se tweede span het 35-14 gewen, die derde 19-12 en die o.21-span 22-6.

Impala speel komende Saterdag teen `n ander verrassingspakkie, Dragons, in Pretoria.

harlequins♦ Dragons se sege die afgelope Saterdag teen Quins het getoon dat hy goed vir die reeks voorberei het. Albei spanne het egter nog werk voor as hulle vanjaar werklik mededingend in die Carltonreeks wil wees.

Ben Eybers, Quins se voorsitter, berig die Groenkloofse span was ná 35 minute gerieflik 16-3 voor – en kon toe nie `n enkele punt verder aanteken nie.

Swak verdediging en hantering het toegelaat dat die Dragons verbyskuif en met `n verspot maklike drie die voorsprong vergroot .

Quins is ontwrig deur sleutelspelers voorlangs wat nie beskikbaar was nie, maar geen eerste span behoort 12 lynstane agtereenvolgens te verloor nie.

Ruan Ernst het Quins se drie gedruk en Paul Walters het drie strafdoele en `n doelskop bygedra.

Dragons II het 36-9 gewen, maar Quins II het getoon sy ontwikkelingstrategie begin vrugte afwerp en het op `n stadium 12 swart spelers op die veld gehad. Met goeie kondisionering behoort hulle beter te vaar.

Die derde spanne het `n baie harde stryd op die hitte van die dag gevoer en Dragons het dít 26-12 en die o.21-wedstryd 73-15 gewen.

In nog `n baie taai stryd het Quins se o.20s, nes die eerste span, vinnig tot by 26 gevorder en toe die Dragons toegelaat om terug te kom. Quins het op die ou end 26-24 gewen.

Conrad Wilson, Jason Makhari en Hercus van Wyk (twee) het Quins se drieë gedruk. Wilson het drie verdoel.

naka-logo♦Buks Burger, die Naka Bulle se klubbestuurder, sê dis duidelik aan die telling dat die wedstryd teen Tuine bloot eenrigtingverkeer was.

Die wenspan het 18 drieë gedruk, waarvan Jean Grobler 17 verdoel het vir 34 punte.

“Naka se spelers het hulle een en almal goed van hul taak gekwyt, maar die afrigters het tog sekere aspekte van die spel uitgewys waaraan hulle meer aandag sal gee.”

Naka II het Tuine II 72-11 verslaan; Naka o.21 het 19-16 gewen; en Tuine o.20 het 10-0 gewen.

Burger sê Naka sien nou uit na sy komende tuiswedstryd oor twee weke teen die Assupol-kampioen, Centurion.

Northam-logo♦ Flip de Kock, die sekretaris van Northam, vertel die eerste spanne se wedstryd was uit die stanspoor kliphard.

Die Pukke het eerste met `n strafdoel geslaag en daarna het die Rhinos eweneens `n strafdoel behaal en die telling 3-3 gemaak.

“Die spel was fisiek en vining,” sê De Kock. “Die Rhinos het baie verdedig en minder kanse deur die wedstryd op die aanval gehad. Hul het wel die kanse wat hul gekry het in punte omskep. Die wedstryd het deurgaans wipplank gery en die voorsprong verwissel.”

Voorlangs het Flip Smit (Northam-stut) meer as sy kant gebring deur op die verdediging en in die vaste los te woel. Polly Lindenberg het `n ystervertoning op die flank gelewer en sy verdediging was insgelyks rotsvas. Dieter Marquart het `n goeie wedstryd op agtsteman beleef en goed verdedig.

Agterlangs het Patrick Hattingh goed op skrumskakel en Danie Loots op losskakel vertoon. Loots het het `n langafstanddrie gedruk. Whelan Fortuin (vleuel) is met twee drieë beloon, waarvan sy eerste een die resultaat was van `n vinnige kwartlyninskop deur die Pukke wat hy opgeraap en soos `n mes deur die verdediging gesny het om te druk. Sy tweede was die wendrie in die 79ste minuut toe hy `n beweging van `n skrum af in die hoek afgerond het.

De Kock sê goeie verdediging en `n weiering om te gaan lê het die deurslag vir Northam gegee.

Hy sê dit was wonderlik hoeveel ondersteuners Potchefstroom toe is om die span te ondersteun. “Dit het byna soos `n tuiswedstryd gevoel soos hulle langs die veld geskree en aangemoedig het.

“Vandeesweek is dit weer terug veld toe vir harde werk om die foute reg te skaaf,” sê De Kock.

Northam ontvang Wits Saterdag tuis.

Die Pukke se tweede span het 47-10 gewen (rustyd 12-0) en hul o.21s 59-0 teen Northam III.

“Die studente is fiks en maak die spel baie vining,” sê De Kock.

noordelike - logo♦ Freek Romijn, die hoofafrigter van Noordelikes, sê sy span se sege van 47-17 teen TUT was seker een van die beste wedstryde wat Noordelikes tot dusver gespeel het.

“Dis nou my derde jaar as hoofafrigter by die klub en ons speel sowat 99% met dieselfde spelers. Dit was asof al die bewegings eenvoudig geslaag het. Die afronding was onverbeterlik en die samespel tussen die voor- en agterspelers puik.”

Noordelikes het sewe drieë gedruk: Thyman Jongbloed, Shane Minnie, Sias van Wyk, Koning Janse van Rensburg, Brandon Leeman en Wouter de Villiers (2).

Alwyn Olivier het met ses uit sewe doelskoppe geslaag.

Romijn sê Noordelikes se buitesenter De Villiers en loskopstut Juan Jacobs het vir die wenspan uitgeblink, terwyl TUT se binnesenter, Lewies van Deventer, en vaskopstut, Duncan Oliver, die beste studentespelers was.

Noordelikes II het 22-12 gewen, en TUT o.21 40-12.

♦ Letaba II het Lonmin II 17-5 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.