Assupolreeks `n ware kragmeting van kampioene

Die Noorderbonde se Assupolreeks, wat Saterdag begin, is vanjaar `n ware stryd van kampioene.

assupolBenewens die heersende reekskampioen, Centurion, speel vier provinsiale kampioene in die reeks wat deur die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) geïnisieer is en deur hom geadministreer word.

Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) is die Blou Bulle se Carltonkampioen; die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagbeker gewen; Lonmin is die Luiperds se Neserbeker A-houer; en Northam is die Limpopo-kampioen.

Op die koop toe het Rustenburg Impala verlede jaar in die eindstryd om die nasionale Gemeenskapsbeker (nou die Goue Beker) van die oop klubs gespeel; en het Pretoria Polisie die Plaatafdeling van dié reeks gewen.

Witbank Ferro’s het die Pumas se Hoëveldliga-Top5 gewen; die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks se Plaatafdeling gewen; en Dragons die Blou Bulle se Reserweliga.

Die ander deelnemende spanne is die NWU Pukke (Luiperds), Harlequins, die Naka Bulle, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), Tuine, (almal Blou Bulle), Letaba, Pietersburg Noordelikes (albei Limpopo) en Middelburg (Pumas).

Hoewel die studentespanne se eerste spanne in die reekse om die Varsitybeker en -skild betrek is, het hul naasbestes verlede jaar getoon hulle kan meer as hul man in die Assupolreeks staan.

Die reeks word in twee groepe afgehandel en die eindstyde vind op 12 Maart op Loftus Versfeld in Pretoria plaas.

♦ Donovan Proudfoot, die kubbestuurder van Centurion, sê daar is heelwat nuwe gesigte by die klub en die kern van verlede jaar se wenspan het behoue gebly.

“Ons glo dat die Assupolreeks die regte platform is om al die nuwe manne `n kans te gee en sodoende ons diepte te toets.

centurion-logo“Ewe opgewonde as wat ons oor die senior spanne is, is ons vanjaar oor ons onderouderdomgroepe. Die klub en afrigters het baie hard gewerk om `n goeie groep jong spelers te werf en ons sien baie uit daarna om die resultate te sien.

“Die reeks sal vanjaar baie mededingend wees, maar ons is vol vertroue in ons strukture, afrigters en die belangrikste van alles, die spelers,” het hy aan Pale Toe! gesê.

♦ Jan Maclachlan, die nuwe voorsitter van Newrak Rustenburg Impala, sê die klub het Vrydag sy voorseisoense vriendskaplike wedstryde afgesluit toe die NWU Pukke hom 34-18 geklop het.

“Miskien vlei die telling die Pukke, want as `n mens na die drieëtal van vyf teen drie kyk, lyk die uitslag gewis beter.”

Die kaptein, Justin Wheeler, het twee drieë vir Impala gedruk en die haker, Bruce Muller, een. Die res van die punte het van die voet van Cecil Dumond gekom.

Impala reis Saterdag met drie senior en twee junior spanne na Pretoria vir sy eerste Assupol-kragmeting teen Pretoria Polisie. Saterdag 13 Februarie speel die klub tuis teen UJ en die week daarop weer weg teen Dragons in Pretoria-Noord. Dan keer hy 20 Februarie terug na sy tuisveld vir `n wedstryd teen Harlequins, ook van Pretoria.

Maclagan sê met al die rugby wat voor lê, het Impala steeds `n behoefte aan junior spelers, veral o.19- en o.21-spelers. Die klub oefen Maandag, Dinsdag en Donderdag van 18:00 af.

♦ Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, sê sy klub is in `n moeilike groep geloot en moet twee keer ver reis. Sy eerste wedstryd is 13 Februarie teen UJ in Johannesburg, en drie weke later in Rustenburg teen Impala.

“Gelukkig help Assupol die klubs met busgeld om dié afstande af te lê.”

♦ Roodepoort (Goue Leeus) het onverwags aan die reeks onttrek.

Neels van Aswegen, die klub se voorsitter, sê die Poorte wil bitter graag in die reeks speel, maar weens die klub se onlangse skuif het hy geweldig baie uitdagings, veral wat spelergetalle betref.

“Ons verbind ons daartoe om voluit te speel, en dis dalk nie so vroeg in die seisoen al haalbaar nie.”

♦ Verlede jaar se tweedevlak-Assupol-kampioen, Brakpan (Valke), het ook gevra om nie weer aan die reeks deel te neem nie.

Harry Nieuwenhuis, die klub se voorsitter, sê die Panne het vanweë die reeks se struktuur só besluit.

Hy sê die Valke-kampioen het verlede jaar teen té swak spanne gespeel, en moes te veel wedstryde in Pretoria speel.

Saterdag se bepalings –

Groep A1

Pretoria Polisie teen Rustenburg Impala; Naka Bulle teen Tukkies.

Groep A2

UJ teen Harlequins, Tuine teen Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.