Aussie-dilemma bring Sunwolwes glo in gedrang

Dit wil voorkom of daar in Australië stemming gemaak word dat die Japanse Sunwolves, eerder as een van die Aussie-spanne, deur Sanzaar uit Superrugby gegooi moet word.

The Australian berig Donderdag dat daar “toenemende kommer” in Japan bestaan dat die Sunwolves op die ou end die span is wat in die slag sal bly.

Sanzaar het glo reeds die Japanse franchise gewaarsku om sy sokkies op te trek as hy wil aanhou Superrugby speel.

Die Australiese Rugbyunie (ARU) het vroeër teenoor Sanzaar onderneem om een van sy spanne aan die Superrugbyreeks te onttrek, maar ernstige teenstand ervaar toe tussen die Western Force en die Melbourne Rebels in dié opsig gekies moes word.

Die Victoria-rugbyunie het intussen die Rebels gekoop (blykbaar vir een Australiese dollar), wat glo op die een of ander wyse verseker dat dié franchise nie kan sneuwel nie. Dit voorkom onder meer dat die Brumbies die Rebels kan oorneem, iets wat ook as ʼn uitweg beskou is.

Die Force het op sy beurt die ARU tot arbitrasie gedaag op grond van ʼn TV-ooreenkoms wat sy deelname tot 2020 verseker.

Die premier van die staat Wes-Australië, Mark McGowan, het hom intussen met ʼn houding van “oor my dooie liggaam” agter die Force geskaar, nadat die mynmagnaat Terry Forrester voorheen reeds sy geldelike steun aan die franchise belowe het.

Suid-Afrika se skuld

The Australian swaai sommer ook ʼn verwytende vinger na die Suid-Afrikaanse Cheetahs en Kings, “wat in die eerste plek vir die ontwrigting verantwoordelik was”.

“Die reeks het glad gewerk met drie afdelings van vyf spanne elk uit Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, maar toe die SA regering eis dat die Kings [tot die reeks] toegelaat word, en die SA Rugbyunie geweier het om een van sy bestaande spanne tot niet te maak, het Sanzaar vasgestel ʼn 16-spanstelsel deug nie. Eerder as om van ʼn span ontslae te raak, het hy dwaas besluit om [die reeks] tot 18 spanne uit te brei, om die Sunwolves en die Jaguares van Argentinië in te sluit.”

Nou hoop die beleerde ARU maar dat die arbitrasie, waarvan die uitspraak aanstons verwag word, in sy guns verloop en hy die saak kan beredder deur van die Force ontslae te raak.

Daar word egter gevrees dat Forrester ʼn appèl sal finansier ingeval die Force die arbitrasie verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack Russl ·

So nou moet die Sunwolves uit, maar hulle is bo die Rebels op die puntelys. En wat het dan geword van die plan om rugby in Japan te bevorder? Dan het die Sunwolves ook iets reggekry wat geen Australiese span kon doen nie, hulle het ‘n NZ span gewen.

Aus het nou ‘n probleem en probeer nou almal anders die skuld gee

Rooikappie ·

Die Sonwolwe moes heel eerste uitgeskop gewees het, gevolg deur twee Aussie spanne…die Cheetahs en Kings verdien om in die Super15 te gebly het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.