Aussie-dilemma vir SA se Dave Wessels

Dave Wessels – dilemma. (Foto: RWA)

Die gebore Suid-Afrikaner wat die uitgesette Western Force vanjaar in die Superrugbyreeks afgerig het, Dave Wessels, sit met ʼn dilemma.

Die Melbourne Rebels sit sonder ʼn afrigter en stel in Wessels, wat in Australië hoog as afrigter aangeslaan word, se diens belang.

Luidens berigte uit Australië wil hy egter nie die Force in die steek laat, sou die mynmagnaat Andrew Forrest se beoogde alternatiewe Indo- Stille Oseaanreeks werklikheid word nie.

Die gedagte is dat die Force saam met spanne uit Nieu-Seeland, die Suidsee-eilande, Japan, China, Singapoer en Hongkong in die reeks sal speel.

Forrest het aanvanklik gedreig om die reeks as teenvoeter vir Sanzaar se Superrugby te bedryf, maar daar is nou sprake dat dit in ʼn verskillende tydgleuf beslis kan word.

Die 34-jarige Wessels was ʼn verdedigingsraadgewer vir die Stormers voordat hy die Ikeys se Varsitybekerspan van 2009 tot 2011 help afrig het.

Die Kaapstadse studente het in 2010 met 14-17 teen die Maties in die eindstryd verloor, en die beker die volgende jaar verower deur die Tukkies met 26-16 te verslaan.

Die gewese Springbok-afrigter Jake White het Wessels hierop in sy breierspan by die Brumbies aangestel, waar hy die verdediging dramaties tot die tweede beste in die Superreeks opgeskerp het.

Hy is hierop na die Force, waar hy die laaste deel van die 2016-seisoen as hoofafrigter waargeneem het, voor hy vanjaar vas in die pos aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.