Aussie lap Bokke se ‘geheime wapen’ uit

Bryan Habana (Foto: Guardian.co.uk)

Bryan Habana (Foto: Guardian.co.uk)

`n Australiese joernalis het die fluitjie geblaas op die Springbokke se jongste “geheime wapen” wat hulle `n voorsprong moet gee – brille.

In wat Georgina Robertson op RugbyHeaven “hoëtegnologie” noem, is elke lid van die Springbokgroep uitgerus met `n spesiale bril wat ontwerp is om vlugflouheid teen te werk en hul liggame te help om by Perth se tydsone aan te pas.

Die Bokke was glo baie terughoudend om oor die toestelle te praat toe dit op `n nuuskonferensie – in Afrikaans – opgehaal is. Suid-Afrika se rugbyskrywers is selfs gevra om niks daaroor te rep voordat die span weer tuis is nie.

`n Bietjie joernalistieke speurwerk is egter ingespan en dit blyk dat die brille se ontwerper die Springbokke se spandokter Craig Roberts met die voorstel genader het. Hy en die spanbestuur het ingestem en daar sal later gerapporteer word oor die brille se effek, al dan nie.

Een van die brille het rooi lense, wat veronderstel is om die produksie van melatonien aan te moedig – `n hormoon wat lomerigheid op `n chemiese wyse veroorsaak en die draer se liggaamstemperatuur laat daal.

Al die spelers sowel as van die bestuurslede het dié bril voor bedtyd gedra. Die ander bril het wit lense en word soggens gedra en help om die liggaam te wek.

Dit is nie die eerste eksperiment om vlugflouheid te bekamp nie. Eddie Jones se Wallabies het in 2004 `n donker bril binne- en buitenshuis gedra voor hul vlug Durban toe. Hulle het nietemin 19-23 verloor.

`n  Neussproei wat die neusvleuels verwyd, is jare gelede deur Wallabies gebruik en Robbie Deans het spelers tydens sy bewind gevra om smiddae `n uiltjie te knip voordat hulle vlieg.

Niks het nog gewerk nie, maar as die brille die toets slaag, gaan iemand dalk begin om groot geld te maak.

♦ Bryan Habana, wat in sy 100ste toets speel, het sy vrou en elf weke oue seuntjie saam op toer gebring. Hy het aan dieselfde joernalis gesê hy is verheug oor hulle teenwoordigheid, maar dat hy ook `n bietjie gaar voel. Skynbaar werk die bril nie vir nuwe pappas nie.

♦ Daar word 25 000 toeskouers in die Patterson-stadion verwag – heelwat meer as die 18 000 wat verlede jaar vir die Poematoets opgedaag het. `n Groot deel sal Suid-Afrikaners wees wat hulle in “Perthoriafontein” gevestig het. Die weervoorspelling is `n sterk wind met buie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.