Aussie-rugbybase bedank oor Force-debakel

Twee Australiese rugbybase het bedank na aanleiding van die Australiese Rugbyunie (ARU) se besluit om die Western Force op die ashoop te gooi, en die ARU word onder meer van lafhartigheid beskuldig.

Die Wes-Australiër Geoff Stooke het, uit protes teen die besluit, as direkteur van die ARU bedank; en die unie se uitvoerende hoof, Bill Pulver, het besluit om voor die einde van sy kontraktyd te loop sodat die liggaam met ʼn “skoon lei” kan aangaan.

Die Force se heel eerste kaptein, die Wallaby Nathan Sharpe, het die besluit op Twitter as “skandalig” bestempel, en Heath Tessman, wat die span vanjaar saam met Ben McCalman gelei het, het bloot met die woord “lafaards” laat waai.

In dieselfde trant het die mynmagnaat Andrew Forrest gesê leierskap is nodig, nie “lafhartige regsgedinge” nie.

Die Force was ʼn sagte teiken omdat die ARU die franchise verlede jaar gekoop het, en nie eens die feit dat Wes-Australië die land se derde grootste spelersbasis het, het gewig gedra by die besluit nie.

Sowel Forrest as die Wes-Australiese premier, Mark McGowan, het hul voortgesette steun aan die Force toegesê.

Stooke het ná sy bedanking ’n brief aan al die Australiese state gestuur waarin hy die regsgeldigheid van die ARU se besluit bevraagteken het.

Hy bestempel dit as “verregaande” dat ʼn span [die Rebels] wat sedert 2011 byna 30 miljoen Australiese dollar (sowat R320 miljoen) – insluitende ʼn koste van byna 17,5 Australiese dollar (sowat R186 miljoen) vir die ARU – verloor het, behou word ten koste van ʼn span wat sedert 2005 die ARU slegs ʼn bykomende 5,5 miljoen Australiese dollar (net meer as R58 miljoen) gekos het.

Benewens die hoofafrigter, Dave Wessels, en die vaardigheidsghoeroe, Kevin Foote, het die Force vanjaar minstens agt spelers met SA bande in sy groep gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lol ·

Het enige SARU beampte al bedank vir die Cheetahs en Kings besluit ? Nee want hulle is in mekaar se sakke. Intussen word die spelers vir die wolwe gegooi deur SARU met PRO 12 opsie. Die besluit is baie laat geneem, spelers is/ was onseker oor hul toekoms , spelers het ander kontrakte aanvaar, Curriebeker en PRO 12 wedstryde word vir dieselfde dag geskeduleer. Hier kom ‘n gemors en ek hoop SARU het antwoorde.

Kaspaas ·

Ten minste het SARU na die SA spanne probeer kyk. Die Cheetahs en Kings se deelname in die Pro 14 is baie belangrik want dit sal as n proeflopie dien vir die deelname va SA spanne in Europa die tyd om super rugby vaarwel te roep is hier. Australie het al klaar openlik gese SA moet uitgeskop word si kry vir hulle. Sien die traan in my oig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.