Aussies boul SA rugbybase uit

Dit was nou nie die ideale Kersgeskenk wat twee weke te vroeg op die tafel van die Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners beland het nie.

Terwyl hulle Woensdagoggend meer wou vasstel oor Allister Coetzee se toekoms as Springbokafrigter en of daar enige verwikkelinge in die Steinhoff-debakel is wat miljoene rande se borgskappe aan Suid-Afrikaanse rugby (Blitsbokke, Varsitybeker-beker, Maties) in die gedrang kan bring, het die Aussies vroegoggend in Australië aangekondig dat hulle ’n bod gaan indien om in 2027 die Wêreldbekertoernooie vir mans en 2021 vir vroue aan te bied.

Die Aussies het in 2003 ook die WB-toernooi vir mans (baie suksesvol) aangebied, maar wat maak dit saak, want Frankryk het in 2007 ook gasheer gespeel en toe stem die rugbybase daartoe in dat 2023 se toernooi weer in Frankryk aanbebied kan word.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase lek nog hul wonde nadat hul vierde opeenvolgende WB-bod ʼn paar weke gelede misluk het toe dit aan die Franse gegee is.

Jy kan die beste geriewe, stadiums, lughawens, hotelle en sonnige weer hê, maar as jy nie genoeg rugbyvriende het nie, is jou doppie geklink.

Die geldkraan, net soos alle krane in die Kaap, gaan stywer vasgedraai moet word, want die vier Superfranchise’e en alle bonde gaan aanstaande jaar sukkel om kop bo water te hou.

Die vier Superfranchise’e sal R29 miljoen (reiskoste uitgesluit) ontvang, vergeleke met 2017 se R34 m en R32 m in 2016.

Maar dis die kleiner bonde wat die ergste noustrop sal trek, want nadat hulle vanjaar R17,5 m ontvang het, is 2018 se aalmoes R7 m.

Hoe hulle daarop sal bestaan, is ʼn ope vraag, en dit sal beslis daartoe lei dat nog meer van die land se jong en talentvolle spelers hulle heil oorsee gaan soek.

Dis hoekom die Kersgeskenk, waarvan die papier geskeur was, nie baie welkom is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leeu ·

Tipies deur n saffa geskryf, “nie genoeg rugby vriende” nee nee, gaan kyk bietjie hoeveel mense vermoor en verkrag word, hoeveel toeriste aangeval word, daar’s baie redes om nie SA die host te maak nie.

wesley ·

Hoe naief Leeu, dink jy nou rerig n fatcat voel n veer vir een of ander toeris wat aangeval of verkrag word? Solank die beursies bult my vriend! Jy weet nie veel van die mensdom nie, doen jy…..?

Henk ·

Dit wat SARugby en die groot unies al die jare nog aan die sogenaamde “klein unies” gedoen het, het wereld rugby nou aan hulle gedoen. Ja dit tref nou die totale rugby gemeenskap en weereens soos altyd word die “klein unies” die hardste getref. Maar ja, die engelse het ‘n gesegde van “what comes around goes around” Ek hoop SARugby het nou hul les geleer. En ek hoop die klein unies sal nou hulle agterbaksheid laat staan en ophou heul met die semels want die varke gaan aanhou om hulle op te vreet. Staan vir ‘n verandering saam en verander dit wat saak maak

Jan Brits ·

Die kleiner unies is die rede hoekom die rugby so swak is. Hulle stemkrag druk die groot unies na agter.

Deon Meyer ·

Daar is hopeloss te veel “rugbybase” wat die geldtrommels van SA Rugby leeg stroop sonder dat hulle enige waarde toevoeg tot die spel.Voeg daarby nog skopafrigters,skrumafrigters,verdedigingsafrigters en so kan ek aangaan,waar eindig die spul,Geen wonder die geld is klaar nie!

Willie ·

Jy is reg. Die gans het te veel goue eiers gelê, toe klim almal in en begin leef van rugby. Nou is daar nie meer genoeg “beleggers” oftewel “fans”, om die ponzi skema aan die gang te hou nie.

Callie ·

Grootste oorsaak bly lee paviljoene. Wat het dit veroorsaak. Almal weier om net een keer op te staan en die waarheid te praat. Onthou die lee paviljoene maak ook losies leeg, Al die klein adverteerders en borge onttrek ook. Rugby is in groot moeilikheid. Ek en hoeveel ander wat ek van weet het afgeskaal op DSTV a.g.v rugby.

Arie ·

Ons rugby is net so goed soos ons kastige rugbybase – niks werd!!

Danie. Grobler. ·

Al die Kaders en die se pêlle wat nou die spel beheer. Geen kennis van die spel of bestuurskennis. Geen span kan sal ook wen as die span nie op meriete gekies is nie. Geen wenners lei tot geen borge of ondersteuners nie.

Bespot ·

Was die wêreldbeker vir mans nie in 2003 aangebied deur Engeland nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.