Aussies vind baat by Superrugby-besluit, SA nie

Dit was ʼn baie ongewilde besluit toe die Suid-Afrikaanse en Australiese rugbybase verlede jaar besluit het om die Cheetahs, Southern Kings en Force van hul Superstatus te stroop.

Ja, daar was te veel spanne in die reeks en Suid-Afrika en Australië kon nie meer almal onderhou nie.

In Australië het dit op hofsake uitgeloop, maar die Force is steeds in die wildernis en sal na alle waarskynlikheid nie gou weer Superrugby speel nie.

In Suid-Afrika is die reddingsboei na die Cheetahs en Kings uitgegooi deur hulle in die Pro14-reeks tuis en in Europa te laat speel. Dit gaan gepaard met baie groeipyne en aanpassings, maar die Cheetahs (47 punte) kan dalk tot die uitspeelrondes deurdring, aangesien hulle nege van hul 17 wedstryde gewen het en derde in hul afdeling is.

Die Cheetahs, wat Saterdagaand in Bloemfontein gesukkel het om Connacht met 26-25 in die doodsnikke te klop, lyk voos gespeel en hul afrigter, Rory Duncan, en kaptein, Francois Venter, is op pad oorsee. Was die Super-besluit dus die moeite werd?

Nee, want afgesien van Makazole Mapimpi, Raymond Rhule en Sergeal Peterson, is die grootste gros spelers steeds in Bloemfontein. Dis te verstane, want die Cheetahs (en Vrystaat in die Curriebekerreeks) sal alles doen om hul spelers te behou en hul man te staan.

As die Europese seisoen aan die einde van Mei verby is, gaan daar van die Cheetahs verwag word om in die middel van die Suid-Afrikaanse seisoen te rus. Watter kans het die spelers dan om die Bokafrigter, Rassie Erasmus, van hul vaardighede te oortuig?

Die Kings het Vrydagaand in Port Elizabeth hul eerste oorwinning in 17 Pro14-wedstryde behaal toe hulle ʼn ewe swak Newport Gwent Dragons met 45-13 geklop het.

Vind Suid-Afrikaanse rugby baat by dié Super-besluit?

Nee, want die Kings se beste spelers, soos Lionel Cronjé, Chris Cloete en Wilhelm van der Sluys, het eerder Japan of Europa toe verkas.

In Australië word daar baat gevind, want die ander Superspanne is versterk met meer diepte – dis juis waarom die besluit geneem is.

Die Rebels (wat die meeste van die Force se spelers en die afrigter, Dave Wessels, gegaps het) vaar baie beter in die Superreeks, so ook die Waratahs, Reds en Brumbies.

Kom ons hoop maar die besluit sal ook in Suid-Afrika vrugte afwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

SARU sorg vir SARU se belange en is mi meer bekommerd om die regering se kwotastelsel
inwerking te stel asom rugby te bevorder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.