Poemas wil die All Blacks klop

imagesCAPI5OTVNes die Springbokke keer die Argetynse Poemas hierdie naweek terug na hul tuisveld ná ’n toer na Australasië, maar anders as die Suid-Afrikaners staar hulle ’n feitlik onoorkomelike uitdaging in die gesig: Om die All Blacks te klop.

Die Poemas soek steeds na hul eerste Rugbykampioenskap-oorwinning sedert hulle laas jaar hul buiging in dié reeks gemaak het. Hulle het die groot kanonne van wêreldrugby al goed skrik gemaak en is besig is om elke week en jaar beter en beter te raak.

Hulle het immers in Augustus slegs 17-22 teen die Bokke verloor ondanks rekordloesing van ’n 13-73 die vorige week in Soweto. Nieu-Seeland moes ook hard veg vir hul 28-13 oorwinning in Hamilton en die Wallabies se naelskraapse 14-13 sege teen die Argentyne twee weke gelede spreek boekdele oor hoe klein die gehaltegaping tussen dié twee spanne is. Mens kan daarom sonder ’n sweempie idealisme voorspel dat dit slegs ’n kwessie van tyd is voordat een van hierdie spanne Los Pumas se prooi word. Of dit hierdie naweek gaan gebeur is egter hoogs onwaarskynlik.

Gedagtig aan die stryd in Hamilton het die Argentynse breier, Santiago Phelan, ’n span gekies wat soortgelyk is aan die een wat in daardie kragmeting opgedraf het. Hy het altesame ses groot veranderinge aan die beginspan gemaak.

Die All Blacks het erken dat die Argentyne se fisieke spel hul op die agtervoet gehad het en daarom is die veteraanslot Patricio Albacete, wat die toetse ná ’n besering in die Sowetotoets misgeloop het, en die stoute seun, Eusebio Guinazu, weer terug in die beginspan.

Agterlangs het Phelan die snoeiskêr behoorlik ingelê. Die ratse Martin Lundajo vervang Tomas Cubelli en Lucas Gonzalez Amorosino begin op regtervleuel in Horacio Agulla se plek. Die hele middelveld is nuut van die een wat teen die Wallabies gespeel het en flair en verdediging kry voorrang, met Santiago Fernandez en Marcelo Bosch wat bo Felipe Contepomi en Gonzalo Tiesi daar diens sal doen.

Die All Blacks kan ’n meer fisieke stryd voorlangs en veral in die skrums verwag, terwyl die agterlynveranderinge wys dat die Poemas hierdie naweek in La Plata sal voortgaan om meer met hul agterlyn te speel.

Diegene in Suid-Afrika wat dapper genoeg is, kan die koffie naby hou vir die 00:40 afskoptyd Sondagoggend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.