Australië dreig All Blacks oor Rugbykampioenskap

Argieffoto van die All Blacks (Foto: AP Photo/Trevor Collens)

Rugby Australië sê hy werk kliphard aan planne om die res van die Rugbykampioenskap in die staat Queensland aan te bied met Brisbane as tuiste vir die spanne.

Rugby Australië se uitvoerende hoof, Andy Marinos, het die All Blacks boonop gewaarsku as hulle nie op 4 September opdaag vir die toets teen die tuisspan nie, gaan hulle ʼn rekening van meer as R50 miljoen vir die Nieu-Seelandse rugbyunie stuur. Dit is hoeveel die staat Wes-Australië aan Rugby Australië moes betaal om die afgelaste toets op 28 Augustus in Perth aan te bied.

“Ek het Nieu-Seeland baie bewus daarvan gemaak dat ons ʼn kontrak het en dat hulle hulself daartoe verbind het,” het Marinos aan die Sydney Morning Herald gesê.

Die Nieu-Seelandse rugbyunie is gevra om skriftelik te bevestig dat hulle op 4 September gaan opdaag.

“Ek wil dit op skrif hê. Ons het ʼn e-pos, maar ons het ʼn brief nodig vir beide die regering en die stadion.”

Die All Blacks moet nog vyf toetse in die Rugbykampioenskap speel – een teen Australië en twee elk teen die Springbokke en Argentinië. Die toetse teen die Suid-Amerikaners is reeds na Australië verskuif.

Hoewel Suid-Afrika en Europa as moontlikhede genoem word om die res van die wedstryde te speel, is Queensland eerste prys vir Marinos.

“Totdat ons dit nie kan maak werk nie, is dit ons prioriteit. Ons werk baie hard daaraan om al die goedkeurings en versekerings in plek te kry. Die Queensland-regering werk fantasties met ons saam.”

Queensland werk aan ʼn voorstel om die Suid-Afrikaners en Argentyne in die land te kry deur ʼn proses van “bestuurde isolasie”. Die plan is al so ver gevorder dat plekke vir hierdie isolasie reeds verkry is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Hoekom moet Australië altyd hulle sin kry? Die wat nie hier wil speel nie, betaal die biete. Hiekom moet almal na hulle pype dans?

Henning ·

Het jy nog nie agtergekom nie(?): Rugby gaan oor geld, nie rugby nie.

Grond ·

Dit is die einste Australië wat ‘n krieketreeks in Suid Afrika afgestel het oor Covid, nadat ons miljoene spandeer het !!

MakersMark ·

Die ongelooflike tawwe AB’s…..dog hul doen net ‘n vinnige haka en die virus verdwyn ?

Anoniem ·

Maak gebruik van die geleentheid om Aus en NZ se baasspelerigheid in die bek te ruk. Herrinner vir Marinos aan waar Aus op die wêreld ranglys lê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.