Australië wil Leeus-rugbyreeks teen Bokke aanbied

Argieffoto (Foto: hirobi/Pixabay)

Rugby Australië (RA) het aangebied om vanjaar die Britse en Ierse Leeus-rugbyreeks teen Suid-Afrika aan te bied.

Die aanbod volg op toenemende vrese die afgelope ruk dat die lankverwagte toer gekanselleer kan word weens die tweede vlaag van Covid-19-infeksies wat nou in Suid-Afrika woed. Suid-Afrika het reeds meer as 1,4 miljoen gevalle van die virus bevestig en bykans 45 000 sterftes is aangemeld.

In Australië is die virus grootliks in bedwang en Andy Marinos, die nuwe uitvoerende hoof van RA, sê die land is in die posisie om as gasheer vir die toer op te tree.

“As ons ʼn veilige heenkome kan bied, ʼn ruimte waar die toer kan voortgaan, waarom sou ons dit nie doen nie,” het hy gesê.

“Dit is so belangrik vir die wêreldwye rugby-ekonomie en rugbygemeenskap dat ons internasionale rugby met so min as moontlik ontwrigting speel.”

Die toer van agt wedstryde – waaronder drie tussen die Britse Leeus en die Springbokke – vind na verwagting van 3 Julie tot 7 Augustus plaas.

Albei spanne het reeds aangedui dat hulle sou wou sien dat die reeks in een of ander vorm voortgaan en Rassie Erasmus, die Bokke se direkteur van rugby, het vroeër gesê die Suid-Afrikaners “sal enigiets doen” om met die Leeus kragte te meet.

Hamish McLennan, voorsitter van RA, het gesê as Australië die toer aanbied, sal twee van die drie toetse waarskynlik in Perth, wat oor ʼn groot Suid-Afrikaanse gemeenskap beskik, gespeel word.

Daar is vroeër gespekuleer dat wedstryde sonder skares in Suid-Afrika gespeel kan word, of moontlik in Engeland aangebied kan word, maar toenemende infeksiesyfers beteken nie een van die opsies lyk in dié stadium lewensvatbaar nie.

McLennan het gesê dat die organisasie slegs die koste vir die aanbied sal wil verhaal, wat beteken die Leeus en SA Rugby deel die inkomste van een van die mees winsgewende geleenthede op die rugbykalender.

McLennan sê die feit dat hulle stadions kan vul, kan groot voordele inhou.

“Die inkomste ná die Covid-19-pandemie is broodnodig,” sê hy.

Hoewel Australië nie tans oorsese ondersteuners kan verwelkom nie, sê McLennan dat groot getalle oud-Suid-Afrikaners sal verseker daar is steeds groot skares.

Hy het ook gesê dat Australië ʼn bewese rekord het om sportbyeenkomste tydens die pandemie aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Help my onmiddelik reg indien ek die kat by die stert beet het. Is dit nie dieselfde lot wat SA uit die Superreeks of vier nasies toernooi wou of uitgeskop het nie. Dit is ‘n duidelike bewys dat die meerderheid sg administrateurs wat verondestel is om rugby se belange eerste te stel dit beslis nie doen nie. Enige ou met integriteit sal dit nie eers oorweeg nie. My dunk van Oostraliërs het nog ‘n kerf gedaal.

koos10

Chris, jy is 100% reg. Hulle kon iets gedoen het, maar het nie omdat hulle baie geld sou verloor. Nou wil hulle “help” en die wins vat! Dis baie geld, nie net die rugby nie, maar ook toerisme, kos, drank ens.

Suzette

Waaroor ek wonder is hoekom ‘n land wat die virus grootliks in bedwang het, mense van lande wat duidelik nie die virus in bedwang het, sal toelaat om voet aan wal te sit. Dit hoef net een persoon te wees met ‘n vals negatief en die poeding tref die waaier.