Baabaa Elton klits die Poemas met ’n skepdoel

Elton Jantjies – wenskop. (Foto: GB Jordaan)

Skepdoele wen steeds wedstryde, al is dit ʼn feeswedstryd.

Dit het die Barbarians Saterdag op Twickenham in Londen weer gewys toe hulle die Argentynse Poemas met 38-35 geklop het nadat die Poemas rustyd met 28-14 voor was.

Die telling was kort voor die einde nog met 35 elk gelykop toe die Barbarians se plaasvervanger-losskakel, Elton Jantjies, die Poemas met ʼn lang skepdoel gekelder het.

Die All Blacks, en die Nieu-Seelandse ondersteuners, sou sekerlik weer nagmerries gekry het toe Jantjies die bal oorgeklits het.

Gelukkig vir hulle was dit baie vroeg Sondagoggend in Nieu-Seeland en sou die meeste ondersteuners nog die slaap uit hul oë gevee het of eerder na die eindstryd van Wêreldrugby se sewesreeks in Dubai gekyk het toe Nieu-Seeland vir Amerika geklop het.

Maar dit sou hulle sekerlik laat terugdink het aan Wellington in Augustus, toe die Springbokke die All Blacks gekelder het toe die tuisspan nie met ʼn skepdoel, met oormaat besit en feitlik reg voor die pale, wou waag nie.

Albei spanne het Saterdag vyf drieë gedruk, wat ʼn strafdrie aan die Baabaas ingesluit het toe die Poemas ʼn rolmaalbeweging onwettig op hul eie doellyn afgetrek het.

Gepraat van swak dissipline: die Poemas het 17 strafskoppe afgestaan en net 4 ontvang. Die skeidsregter, John Lacey, wat ná die wedstryd uitgetree het, kon hulle nog meer gestraf het, maar hy het soms maar anderkant toe gekyk.

Wat kon Rassie Erasmus en die res van sy Springbok-afrigtingspan wysgeword het nadat hulle die Baasbaas vandeesweek gebrei het?

Nie veel nie, al was daar 13 Springbokke in die groep.

Tog het die slot, Lood de Jager, gewys dat hy slaggereed is om ná sy beserings vir sy plek te veg.

Schalk Brits? Hy is vroeg in die tweede helfte vervang en ʼn mens wonder steeds wat Erasmus se planne met hom is.

Dan het Pieter-Steph du Toit, gebreekte neus en al, weer sy bes gelewer.

Só ook was daar soms goeie stukkies spel deur Aphiwe Dyatyi, Jesse Kriel en Siya Kolisi.

Die puntemakers –

Barbarians (14) 38 – Drieë: Juan Manuel Leguizamon, Siya Kolisi, strafdrie (sewe punte), Damian de Allende, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (2), Elton Jantjies (2): Skepdoel: Jantjies.

Argentinië (28) 35 – Drieë: Matias Orlando, Ramiro Moyano, Pablo Matera, Sebastian Cancellieri, Julian Montoya. Doelskoppe: Joaquin Bonilla (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.