Baie op spel vir al ses in Curriebekerstryde

Vrydag en Saterdag se Curriebeker-weekronde beloof om een van die strafste tot dusver in vanjaar se reeks te wees, gesien hoeveel vir die onderskeie spanne op die spel is.

Die kragmeting tussen die Westelike Provinsie en die Sharks Saterdag op Nuweland, Kaapstad, lok die meeste belangstelling uit.

Die Sharks is die gunsteling. Sy enigste nederlaag sover was teen die verdedigende kampioen en huidige voorloper, die Cheetahs, en dit was voor hy sy Superrugbyspelers ingespan het.

Albei spanne volg ʼn konserwatiewe kiesbeleid en die spelers verstaan mekaar goed. Al word ʼn taai stryd verwag, kan die botsing heel aanskoulike rugby oplewer.

Die Cheetahs is noodwendig die gunsteling om Saterdag in Bloemfontein die Goue Leeus te klop, maar het byna sy hele opdrafspan uitgegooi wat die Blou Bulle getroef het.

Die Leeus is ʼn veel beter span as wat sy laaste plek op die punteleer aandui, en as die span sy ingesteldheid regkry, kan hy vir die grootste verrassing tot hiertoe in die reeks sorg.

Die kragmetings tussen die Pumas en die Bulle het in die jongste jare uiters harde botsings opgelewer, met seges deur eersgenoemde geen verrassing meer nie.

Vrydag se wedstryd in Nelspruit sal kwalik ʼn uitsondering wees. Die wyse waarop die Pumas verlede week Griekwas se hardlooprugby ontwrig het, voorspel niks goeds vir die beseringsgeteisterde Bulle nie.

Die wedstryd is natuurlik ook skerp in die kollig met die hardekoejawel John Mitchell wat die besoekers se afrigting by Nollis Marais oorgeneem het.

In Pretoria word gehoop dat daar sommer dadelik ʼn verbetering in die Bulle se spel merkbaar sal wees.

Eerste Liga

Die Curriebeker- Eerste Liga skop Vrydag af met ʼn kragmeting tussen die Luiperds en die SWD Arende op Olënpark in Potchefstroom.

Die verdedigende kampioen, die Griffons, se veldtog begin met ʼn wedstryd Saterdag in Welkom teen die Welwitschias van Namibië.

In Saterdag se ander botsings pak die Oostelike Provinsie en die Boland mekaar in Port Elizabeth; en die Grens durf die Valke in die Buffalostad-stadion in Oos-Londen aan.

Afskoptye –

Curriebeker

Vrydag

19:00 Pumas teen Blou Bulle, Mbombela-stadion, Nelspruit

Saterdag

15:00 WP teen Sharks, Nuweland, Kaapstad

17:15 Cheetahs teen Goue Leeus, Bloemfontein

Eerste Liga

Vrydag

16:00 Luiperds teen SWD, Olënpark, Potchefstroom

Saterdag

15:00 OP teen Boland, Nelson Mandelabaai-stadion, Port Elizabeth

15:00 Griffons teen Welwitschias, Welkom

15:30 Grens teen Valke, Buffalostad-stadion, Oos-Londen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.