Baie rugby, te min spelers en groter uitgawes

(Foto: pixabay)

Hoe goed is die diepte van Suid-Afrikaanse rugby werklik?

Ná die afgelope naweek se vierde ronde in die reeks om die Reënboogbeker, kan ʼn mens onomwonde sê: uitstekend! (ʼn Bietjie meer hieroor later in die artikel.)

Dis net sowel. Trouens, dit wat van Junie tot die einde van die jaar op die Springbokke, Junior Springbokke en die franchises wag, sal groot eise aan ons spelers, hul afrigters en ook aan die franchises en SA Rugby se bankstate stel.

Die rede? Ons franchises word tans tot 45 gekontrakteerde spelers elk beperk. Dis reeds ʼn allemintige klomp geld wat die Bulls, Sharks, Lions en Stormers aan hul spelers moet uitbetaal. En nou is daar sommer, met die rits nuwe kompetisies waaraan die nasionale- en franchise-spanne moet deelneem, eensklaps ʼn klomp ekstra spelers wat benodig sal word.

Druk program

By die skrywe van hierdie artikel het die franchises nog geen terugvoer van SA Rugby ontvang op hul versoek om verligting van die 45 spelers-beperking nie.

Kyk ʼn mens na die druk program op nasionale- en franchise-vlak, wonder jy hoe die bonde se befondsing en die spelers se lywe dit sal hou, en ook waar bykomende spelers van die nodige gehalte om op die onderskeie vlakke mee te ding, vandaan sal kom.

Kyk net wat wag van Junie af op Suid-Afrikaanse spanne:

Die Bokke se toetsprogram

Die Springbokke se speelrooster bestaan uit 14 toetse vanaf 3 Julie tot 20 November, waarvan die nege teen die Britse en Ierse Leeus en in die Rugbykampioenskap binne 11 weke gespeel word.

Twee toetse teen Georgië op 2/3 en 9/10 Julie, gevolg deur drie teen die Britse en Ierse Leeus op 24 en 31 Julie en 7 Augustus; Sanzaar se Rugbykampioenskap met twee tuistoetse teen Argentinië op 14 en 21 Augustus; en twee wegtoetse teen Australië (11 en 18 September); en twee teen Nieu-Seeland op 25 September en 2 Oktober.

Dan is daar vier “af”-Saterdae voordat die jaareindtoetse in Europa volg waar die Bokke teen Wallis, Skotland en Engeland op drie opeenvolgende Saterdae van 6 tot 20 November speel.

Ander reekse

Die Junior Bokke speel van 18 Junie tot 3 Julie in vier wedstryde met twee voorste o.20-spanne van Argentinië en Georgië wat saam met Uruguay hier besoek aflê.

Die Pro14-reeks sal met die bykomende Suid-Afrikaanse spanne die Pro16 word. Daar sal weeklikse wedstryde, hier én oorsee, deur ons vier voorste franchises gespeel word. Die bepalingslys is nog nie bekend nie, maar die reeks sal vroeg-Augustus afskop

Suid-Afrika se tradisionele Curriebeker-reeks sal stellig op 19 Junie begin, dieselfde dag waarop die Suid-Afrikaanse wenner van die Reënboogreeks teen die Europese wenner sal speel. (Dit sal ʼn wegwedstryd vir die Suid-Afrikaanse span wees.)

Afstaan van spelers

Elk van Suid-Afrika se vier topspanne sal spelers aan die Springbokke afstaan. As jy kyk na die “toetsrooster” hierbo en met inagneming van moontlike Covid-19-vereistes, besef ʼn mens dat die Springbokke met groter groepe as gewoonlik na Australasië en Brittanje sal moet reis.

En net soos hulle tydens die Georgiese toetse, dié teen die Leeus en in die Rugbykampioenskap ook nog die Curriebeker in gedagte moet hou, net só sal ons franchises in November plan moet maak om sonder hul Bokke aan die Pro16 deel te neem.

Dié kompetisie word deur die vakansietydperk, selfs net voor en ná die Kersnaweek, gespeel.

Dit alles moet met net 45 spelers per franchise minus die onvermydelike aantal beseerdes gedoen word!

Word ʼn groter spelersgetal as 45 wel deur SA Rugby goedgekeur, is die vraag hoe die franchises hierdie ekstra spelers sal kan bekostig. Waar die klubrugby sterk is, sal daar seker ʼn klubspeler of twee gewerf kan word. Daar is seker darem ook een of twee van die Junior Springbokke se o. 20’s wat ook sal kan uithelp.

Die Lions, wat saam met die Bulls op die oog af die minste deur Springbok-afrigter Jacques Nienaber en sy span versteur sal word, sal soos die Cheetahs stellig in die Curriebeker-reeks die kitaar slaan. Daar is ook die Pumas en Griekwas wat ook nie te versmaai is nie, met veral eersgenoemde wat oor ‘n reeks moeilik geklop kan word. Die twee sal egter heel moontlik ook leeg gekoop moet word deur die Topvier. Ons franchises sal egter ongetwyfeld sonder hul bestes in die Pro16 swaar trek.

Spelers “ontdek”

Die vier voorste Suid-Afrikaanse franchises het sonder buitelandse teenstand vanjaar ʼn hele klomp nuwe spelers “ontdek”, en al vier die spanne het ʼn groter ingesteldheid gehad om met die bal te hardloop as wat ʼn mens van Suid-Afrikaanse spanne sou verwag.

Daarby is dit goed om te weet dat die ou tradisionele krag van ons rugby – mens kan dit seker maar die DNS noem – steeds daar is: voorspelerspel wat kliphard is; en ook dat die wen van ons eie derbies vir die land se beste spelers tel.

Mense se siening van spelers en hul sterk- en swak punte verskil uiteraard, maar daar is heelparty “nuwelinge” wat vanaf einde laasjaar die aandag getrek het. Dit hou net voordele vir ons rugby vorentoe in. Maar dit sal nie genoeg gehalte aan die franchises verskaf wat in die Curriebeker- en Pro16-reeks moet speel met baie van hul sterre weg met Springbok-verpligtinge nie.

Daar is ook meer as 200 Suid-Afrikaners wat hul beroep oorsee beoefen, maar hulle kan nie nadergetrek word nie. Die meeste van hulle sal in die Premierliga, Top 14 of Pro16 diens doen of in ander lande se ligas speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

waar is die dae toe rugby gespeel is vir die woord rugby/voetbal/sport, deesdae gaan alles oor hoeveel geld is die of daai man vir my span werd, en word opgekoop soos ‘n suigstokkie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.