Bankspeler se vonk laat Luiperds verskroei

Die Griffons, 2017 se wenner van die Curriebeker se Eerste Liga. (Foto: Saru)

Die Griffons se bank-skrumskakel het Vrydag in Welkom die vonk verskaf wat die Luiperds in die eindstryd van die Curriebeker se Eerste Liga verskroei het.

Shirwin Cupido se drie in die 61ste minuut het die gety omgekeer nadat die besoekers op daardie tydstip met 31-25 voorgeloop het.

Dis verdoel, en nóg twee doele in die volgende tien minute het die Griffons stewig in die saal geplaas om uiteindelik die beker in ʼn lekker hardloopwedstryd met 60-36 te behou.

Nie dat die tuisspan nie al vroeër ʼn greep op die wedstryd gehad het nie. Toe die vleuel Tertius Maarman in die 21ste minuut diep in sy eie gebied ʼn bal opgeraap het, wat ná ʼn duikslag op ʼn Luiperdspeler losgespat het, en gaan druk het, het die doelskop die Griffons met 22-0 laat voorloop.

Die Noord-Vrystaters het egter hul houvas verslap, en die Luiperds toegelaat om terug te veg en in die 56ste minuut selfs die voortou met 31-25 te neem.

Die verdediging was nie altyd na wense nie, maar as skouspel het die wedstryd geslaag.

Jaun Kotzé, die wenspan se losskakel, het met ʼn drie, sewe doelskoppe en twee strafdoele 25 punte tot sy span se sege bygedra.

Sy 111 punte in die reeks is 29 meer as Warren Potgieter (Valke), wat die tweede meeste aangeteken het, se 82 punte.

Jeandré Rudolph, die Luiperds-agsteman, se drie was sy 12de in die reeks – vier meer as Charles Mayeza van die Boland se agt.

Uit hoofde van die Griffons se boonste plek op die punteleer kom hulle Vrydag in Kimberley teen die Griekwas in ʼn promosie-relegasiewedstryd met die oog op ʼn plek in die Curriebeker se Premierliga te staan.

Die puntemakers –

Griffons 60 (25) – Drieë: Neil Claassen, Jaun Kotzé, Tertius Maarman (2), Duan Pretoruis, Vincent Maruping (2), Shirwin Cupido. Doelskoppe: Jaun Kotzé (7). Strafdoele: Jaun Kotzé (2).

Luiperds 36 (12) – Drieë: Dane van der Westhuyzen, Jeandré Rudolph, Gerhard Nortier, Gene Willemse, Jimmy Mpailane, Gideon Van der Merwe. Doelskoppe: Gerhard Nortier (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.