Barberton wil hoogste rugbypale ter wêreld hê

Die rugbypale in Barberton. Foto: Verskaf.

Daar is die madeliefieblomme, ’n magdom stories oor pionier-prospekteerders se soeke na rykdom, Eureka City en Cockney Liz.

Maar wanneer ’n mens Barberton binnery, sal jy gou agterkom dat dié Laeveldse dorpie vir nog iets bekend is: Die plaaslike klub se rugbypale wat 28,46 m hoog is.

“Nee goeiste, hulle het al so gestaan toe ek 30 jaar gelede by die klub aangesluit het,” vertel ’n laggende Thinus Breedt (klubpresident) toe hy oor die oprig-rede van die Goliat-pale gepols is.

’n Vinnige internetsoektog wys dat Barberton se pale die derde hoogste ter wêreld is, naas ’n klub in Zambië (33,54 m) en Wednesbury (38,26 m) in Brittanje.

Om dinge in perspektief te plaas; die wêreldbekende Twickenham-stadion in Engeland se pale is 16,7 m hoog.

Volgens oorlewering was Naas Botha destyds in Barberton vir ’n gholfdag en hy het glo gesukkel om die bal hoër as die pale te lanseer.

Breedt – een van daardie klipharde plattelandse rugbymanne wat al sy span in bykans elke posisie op die veld verteenwoordig het – sê dat daar planne is om die Mpumalanga-klub se pale die hoogste ter wêreld te maak.

Trouens, die planne en ontwerp is reeds beskikbaar om dit tot ’n ongelooflike 44 m te verleng; al wat kort is die nodige toerusting, terwyl Covid-19 ook dinge vertraag.

Dit lyk egter asof spanne in Mpumalanga daarvan hou as hul rugbypale die 20 m-kerf verbysteek. HTS Middelburg – wat net soos Barberton ’n baie trotse rugbygeskiedenis het – se pale is 24,5 m hoog.

Die storie doen in Middelburg die ronde dat ’n belangrike wedstryd destyds in die doodsnikke verloor is toe ’n stelskop (wat bo-oor die regoppaal geseil het) nie toegeken is nie.

Die skool se voormalige hoof, mnr. Pottie Potgieter, het toe terstond die opdrag gegee dat die pale verleng moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adam Adriaan ·

Daar gaan niks aan in die dorpie nie. Dit is die enigste manier om so bietjie aandag te trek. Wonder of daar nog rugby gespeel word. Seker net die fool word gespeel?

Pothole ·

Duidelik was jy nog nooit of baie lanklaas in ons mooi dorpie LOL

Gert K ·

Ek dink dit is oulik en hulle wil seker maar op die “map” wees vir iets.
Dit is tog nie verkeerd , skadelik of nadelig vir enige iemand of iets nie
en wie weet dalk trek dit ‘n paar mense na hul dorp.

Moedeloos ·

Ek sal ook graag wil weet hoekom wil hul die pale so hoog hê. Enige spesifieke rede. Is dit nie ook gevaarlik nie – wind wat pale kan omwaai of so iets?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.