Barrett skop ewe goed … links en regs

Beauden Barrett (Foto Facebook)

Die All Black en Hurricanes-losskakel Beauden Barrett is ʼn man van vele talente.

Woensdag, toe die Hurricanes ʼn afdag gehad en ʼn ronde gholf by Steyn City gespeel het, het hy ʼn volmaakte gelukhou op die 12de putjie, ʼn syfer drie, behaal.

Barrett, wat regs pale toe skop maar links gholf speel, het volgens stuff.co.nz ʼn ses-yster op die putjie, wat 183 meter lank is, gebruik toe hy die bal tot op die setperk geslaan en dit toe ingerol het.

Barrett se amptelike voorgee in Nieu-Seeland  is 6,9 en nou wonder ʼn mens of hy volgens gholftradisie ʼn ronde in die kroeg bestel het.

Wat is die kanse dat ʼn speler ʼn volmaakte gelukhou kan behaal?

Jare gelede het Golf Digest uitgewerk  dat ʼn beroepspeler se kans 1 uit 3 756 is dat dit kan gebeur.  ʼn Amateur se kans is 1 uit 12 750 – en hier praat ons nie van die naweekspeler wat swoeg nie.

Barrett het verlede week toe die Hurricanes een van hul oefeninge in Canberra voor die kwarteindstryd teen die Brumbies afgesluit het, gewys hoe veelsydig hy is toe hy die bal met sy regter- en toe met sy linkervoet van teenaan die kantlyn af van die 22-meterlyn oorgeskop het.

Hy is darem nie die enigste rugbyspeler wat ewe vaardig met hul regter- en linkervoete was nie.

Jonny Wilkinson, wat linkshandig was, het in die Wêreldbeker-eindstryd van 2003 die Wallabies geknak toe hy met sy regtervoet die wen-skepdoel vir Engeland oorgeklits het.

Dan Carter, wat as kind ewe goed met sy linker- en regtervoet pale toe kon skop, het net een doelskop, sy laaste een vir die All Blacks in internasionale rugby,  met sy regtervoet oorgeklits.

Ek het Naas Botha destyds ook in die Carltonbeker-reeks met sy regter- en linkervoet sien skepskop.

En Ruan Combrinck, verlede week se Lions-held na sy reuse skop net voor die einde van die kwarteindstryd, is self ʼn man wat met oefeninge van oral af met twee voete die mikke vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.