Barretts en All Blacks hardloop vir Kanadese weg

Die Barrett-broers, Jordie, Scott en Beauden sing die volkslied.. (AP Photo/Aaron Favila)

Daar is voor vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gesê dat die All Blacks se spelers oor die muur is; hulle is hopeloos té oud om jonger spelers aan te vat.

Nou ja, vandag het die 34-jarige Sonny Bill Williams gewys dat die meeste 25-jarige rugbyspelers vir hóm moet bang wees, en nie andersom nie.

Williams was veral in die eerste helfte aan die brand en die res van die All Black-span het soos oudergewoonte weer in die tweede helfte na die hoogste rat oorgeskakel om vir Kanada verspotmaklik met 63 – 0 in hul Groep B-kragmeting te troef.

Boonop was al drie Barrett-broers – Beauden, Jordie en Scott – in die Kiwi-beginspan én hulle het elkeen ’n drie gedruk. Wag, kom ons gee vir hulle ’n eenvoudige kompliment: Hulle was briljant.

Verder was dit nou weliswaar nie ’n foutlose vertoning deur die manne in swart nie; maar goeiste, selfs wanneer hulle die bal aanslaan, lyk hulle nogal goed.

Die rustydtelling was 28 – 0 in die Kiwi’s se guns en die humiditeitsfaktor het weer eens gesorg dat die bal so glibberig was soos ’n slang wat tweedehandse motors verkoop.

Maar as daar een span in wêreldrugby is wat weet hoe om moeilike toestande te bemeester, dan is dit die All Blacks.

Rieko Ioane duik oor vir sy drie. (AP Photo/Aaron Favila)

In die tweede helfte het dit gelyk asof hulle vinnig van Takealot ’n paar buisies Superglue bestel het om aan hul hande te smeer. Daar was hier en daar nog ’n aanslaan of twee, maar hulle het met ’n paar juweeldrieë vorendag gekom.

Kieran Read (kaptein) het erken dat die toestande nie die maklikste was nie en dat sy span met tye gesukkel het.

“Die humiditeit onder die dak het dinge blêddie moeilik gemaak, so dit was ’n tawwe wedstryd gewees. Dinge was nogal glibberig en dit is beslis iets waaraan ons gewoond moes raak. Ek is tevrede met die wyse waarop ons albei helftes begin het, maar ons het tussendeur konsentrasie verloor – definitief iets waaraan ons moet werk,” het hy gesê.

Hulle sterre mag dalk aan die verkeerde kant van 30 wees, maar die All Blacks het waarskynlik reeds ’n paar vingers (as dit nie al ’n ganse hand is nie) om die silwerware se handvatsels.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Strafdrie: Jordie Barrett, Sonny Bill Williams, Beauden Barrett, Rieko Ioane, Scott Barrett, Shannon Frizell, Brad Weber (2). Doelskoppe: Richie Mo’unga (8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boy van die Suburbs ·

Wow!! Well Done All Blacks!!! Die Webb Ellis Trofeë is binnekort weer julle sin!

Andre Coetzee ·

Mooi gespeel All Blacks.Dit is hoe ‘n ware kampion speel.Binnekort vat julle die beker weer saam huistoe.

Valerie ·

En dit van ‘n ware, professionele rugbyspan terwyl die Saffas alreeds weer verskonings uitdink oor die kamtige “senter spook.” Wat ‘n verleentheid vir ware sport is die SA span nie.

Derick ·

Dis hoekom ek hulle van kindsdae af al ondersteun.
Hoop hulle vat die beker weer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.