Basiese foute ‒ en Cheetahs soek nog eerste oorwinning

Rabz Maxwane maak gereed om sy teenstander Darcy Graham te keer. Albei die vleuels het op die aanval uitgeblink. (Foto: Twitter @EdinburghRugby)

As jy nie respek vir besit het en nie wil leer nie, sal jy nie wen nie.

Ná ʼn gesukkel soos min die eerste helfte, het die Cheetahs dit net voor rustyd besef was hulle ʼn ruk  ʼn faktor in Vrydagaand se Pro14-wedstryd wat op Murrayfield deur die tuisspan Edinburgh oorheers is.

Edinburgh het met 37-21 gewen teen die Cheetahs wat die een basiese fout ná die ander gemaak het.

Drie geleenthede in die eerste 14 minute in die lynstane is deur die Cheetahs in die tuisspan se 22-gebied verbrou met lynstane wat verloor is: ʼn oorgooi, ʼn aanslaan en ʼn bal wat gewen maar toe afgeneem is.

Male sonder tal is die bal in kontaksituasies verloor, en kontinuïteit van die Cheetahs se kant was daar selde.

Daar was ook die herhaling van ʼn ou-ou fout die seisoen waar hulle direk ná hulle punte aangeteken het, van die afskop af vanuit hul eie gebied probeer hardloop. Dié keer was dit feitlik onmiddellik punte aan Edinburgh en die terugvegpoging dus minder effektief.

Vyf minute voor rustyd, was daar een geleentheid toe hulle die bal beheer na die kleinkantjie na Rabz Maxwane toe gespeel het.

Die blits is met sy linkervoet feitlik op die op die kantlyn veld-af, het na binne gesny en toe hy vasgevat is, was Nico Lee by om die vyf meter oor die doellyn te hardloop en te druk.

Rustyd was dit verdiend 20-7 in Edinburgh se guns met goeie verdediging van die Cheetahs wat die telling binne perke gehou het. Daar was egter te veel geleenthede om die afbreekpunte waarf die struktuur effen s gelol het.

Ná rustyd het die Cheetahs ʼn rukkie gelyk soos die span wat Ulster tot 39-elk gehou het. Die hanteerwerk was flink, die aansluiting goed en Edinburgh moes bontstaan. In die eerste agt minute ná die hervatting het Maxwane twee keer ná eers goeie hanteerwerk en toe goeie fasespel gedruk en was die Cheetahs, taamlik onverdiend, met 21-20 voor.

Maar dit was nie genoeg nie. Nóg kanse is deur swak hanteerwerk verspeel en ʼn doel en strafdoel vir die tuisspan het die wedstryd met net 14 minute oor en die telling op 30-21 feitlik tóé al beklink.

Hulle het net voor die einde hul tweede rolmaal-drie gedruk en ʼn verdiende bonuspunt gekry.

♦ Die Cheetahs se Pro14-veldtog die seisoen lees nou: gespeel ses, verloor vyf, gewen geen, gelykop een en ʼn negatiewe punteverskil van 117 punte.

♦ Die Vrystaters het darem nou drie weke se ruskans waartydens hulle ongetwyfeld aan die basiese swakhede sal werk. Hulle speel eers weer op 27 Oktober en 4 November teen die Cardiff Blues en Munster in Bloemfontein.

Puntemakers ‒

Edinburgh  (20) 37: Drieë: Ben Toolis, Darcy Graham, Viliame Mata, Jamie Ritchie  Doelskoppe: Simon Hickey (4). Strafdoele: Hickey (3)
Cheetahs (7) 21: Drieë: Nico Lee, Rabz Maxwane (2).  Doelskoppe: Tian Schoeman (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

wolla ·

Cheetahs moet pasop dat hulle nie uit daai kompetisie ook geskop word weens vrotsigheid nie.

Spike ·

Die probleem is, hoe bou jy span as jy elke jaar 90% van jou spelers verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.