BBRU-liga: ʼhou tweestryd tussen Naka, QBR dop’

Hou gerus vanjaar die tweestryd tussen die Naka Bulle en Quins-Bobbies-rugby (QBR) in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga dop.

Só voorspel Ben Eybers, die voorsitter van QBR, nadat sy span Saterdag die manne van die Moot met 34-10 geklop het om die Charles van Stadenbeker te wen. Dit is op die spel wanneer dié twee klubs mekaar aandurf.

In die ander Carlton-A-wedstryde het Tukkies met 30-25 teen Centurion gewen, en Rustenburg Impala met 31-19 teen Dragons.

♦ Eybers sê QBR was Saterdag die hongerste van die twee spanne, maar dit moet in ag geneem word dat Naka deur ʼn paar laat onttrekings getref is.

Jacques Erasmus, Cornelius de Villiers en Jan-Hendrik Bosman het QBR se drieë gedruk, en Morné Hugo het 17 punte met ʼn doelskop en vyf strafdoele aangeteken.

QBR Rooi het met 37-29 teen Naka II gewen; en Naka III het QBR III met 16-14 geklop.

Eybers sê QBR Rooi het uit die staanspoor goed gevaar, maar Naka het twee keer tot binne sewe punte teruggeveg.

“Dit lyk of albei spanne die halfeindstryde sal haal.”

Hy sê QBR het ook vroeg voorgeloop, maar in die laaste vyf minute die verloorpunte afgestaan.

♦ Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die Mootspan het goed afgeskop en vroeg in die wedstryd voorgeloop nadat hy ʼn puik drie aangeteken het.

“QBR het egter algaande sy greep op die wedstryd verstewig, en Naka het nie na die span gelyk wat sover die seisoen soveel welslae op die veld gehad het nie.

“Onnodige foute het veroorsaak dat die span genadeloos deur die skeidsregter gestraf is, en hy het op die koop toe twee geel kaarte ontvang.”

Naka se punte het bestaan uit ʼn drie deur Anton Beswick, met die heelagter, Gaybrin Smith, wat dit verdoel en ook ʼn strafskop deur die pale gejaag het.

Burger sê Naka sal hierdie week ernstig voorberei en hard werk vir sy volgende wedstryd Saterdag om 12:30 op Loftus Versfeld A teen Dragons.

Hulle vertrou beseerdes soos Luga van Biljon, Gerhard du Preez, Dillan du Buisson en Dirk Dippenaar sal sodanig herstel dat hulle oorweeg kan word.

Naka se o.20-span het Donderdag met 74-12 teen die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) gewen.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Fezelas (UP) 27, Centurion 25; Impala 22, Dragons 3.

Derde spanne

Pumas (UP) 15, Centurion 14; Dragons 19, Impala 12.

Onder 21-spanne

Tuks-jongspan 56, Centurion 3.

Onder 20-spanne

Tukkies 48, Centurion 22; QBR 26, Tuine 11.

Carlton-B-liga

♦ Hartbeespoort het skoonskip teen Brits in die Carlton-B-liga gemaak.

Die eerste span het met 27-0, die tweede met 41-12 en die derde met 20-19 gewen.

Ockie van Schalkwyk, die woordvoerder van Hartbeespoort, sê die eerste span se skrum het die grondslag vir sy oorwinning gelê.

“Dit was ʼn baie sterk vertoning deur die agttal, en Brits is behoorlik opgedreun. Harties se lynstane was ook baie goed.

“Die agterlyn het baie goeie balbesit gekry en die losskakel Henk de Ridder het die voordeellyn na willekeur oorgesteek, Brits se agterlyn deeglik getoets, en baie geleenthede geskep.”

Van Schalkwyk sê Harties se vyf drieë teen een vertel ʼn verhaal op sigself.

“Hartbeespoort het boonop talle geleenthede verbrou om punte aan te teken, met verkeerde keuses deur ondersteunende spelers ná breekslae deur De Ridder, maar hiervoor moet Brits eenvoudig baie krediet kry.

“Die rustydtelling was maar 5-0, en was tekenend van die titaniese wyse waarop Brits verdedig het. Die damwal het eers in die 48ste minuut gebreek. Selfs toe het Brits nie tou opgegooi nie, en Harties die laaste 17 minute van die doellyn af gehou,” sê Van Schalkwyk.

“Die voorry, Neil Koch, Cheeze Nkolobe en Cobus Allers, het Brits in die skrums opgekeil, en al drie was baie woelig in die los.

“Christiaan Dicks het ʼn 5-stervertoning op slot gelewer, en was ʼn rots met die afskoppe.

“Brandon Gibson het ʼn groot impak met sy slim spel gemaak toe hy met sowat 20 minute oor as agsteman op die veld gekom het.

Rassie Saaiman, Shaun Wright, Oarabile Shima (twee) en De Ridder het Harties se drieë gedruk, en Marno Gloy het een verdoel.

Die grondslag vir die tweede span se oorwinning is eweneens voorlangs gelê.

Giftige agterlyn

“Harties se voorspelers het goed gevaar by die afbreekpunte en genoeg balbesit vir sy giftige agterlyn verseker.

“Tussen die voorspelers kan Wihan van Zyl op slot en die lostrio, Buks van Heerden, Vincent Verwey en die kaptein Brandon Gibson, uitgesonder word.

“Hul werkverrigting was uitstekend en die manier waarop Gibson die agttal bymekaar gehou het en met die agterlyn geskakel het, was puik. Brits het nie regtig antwoorde daarvoor gehad nie.”

Van Schalkwyk sê agterlangs was die losskakel, Jacques Diedericks, kookwater en hy is heel gepas as die speler van die wedstryd aangewys.

“Die vaart waarteen hy aanval, het vele gapings geskep, en ʼn stewige vertoning deur die senterpaar, Pieter Prinsloo en Rudi du Rand, het Brits se verdediging deurentyd op sy tone gehou.

Bykans perfek

“Dylan Dreyer op vleuel het baie goeie werk onder die afskoppe verrig en insgelyks die voordeellyn moeiteloos oorgesteek.

“Michael van Schalkwyk, die jong heelagter, het ʼn bykans perfekte wedstryd gespeel, en is iemand om in die toekoms dop te hou.

“Brits se eerste drie het gekom van ʼn aanslaan met Harties sterk op die aanval in Brits se kwartgebied, en die tweede nader aan die einde toe die bankspelers op die veld gekom, en Harties se ritme en patrone effens versteur is.

“Die besoekers verdien egter hope lof vir die wyse waarop hulle nooit wou gaan lê nie, en dit was Harties se hardste wedstryd in die liga tot dusver.”

Gibson, Diedericks (twee), Van Schalkwyk, Dylan Dreyer en Rudi du Rand het Hartbeespoort II se drieë gedruk. Van Schalkwyk het altesaam 16 punte aangeteken deur ook met vier doelskoppe en ʼn strafdoel te slaag.

Fikser

Ockie van Schalkwyk sê in Harties III se geval het die groter fiksheid van sommige sleutelspelers, sowel as die inpak van die bank af waarskynlik die naelskraapse oorwinning verseker.

“Martin Lubbe (loskopstut) het ʼn reusewedstryd gespeel en veral op die verdediging uitgeblink.

“Die losvoorspelers Robby Language en Lu-André Swanepoel het die span deurgaans in die wedstryd gehou, met harde werk op die verdediging.

“Agterlangs het die skakelpaar, Christiaan du Plessis en Husky Vorster, tekens van op dreef kom begin toon, en in die tweede helfte veral goeie besluite neem.

“JP Viljoen op senter was welverdiend die speler van die wedstryd, en het gereeld op volle vaart die lyn gebreek.

Lieflike aangee

“Tyron Riley het in die tweede helfte sy verskyning gemaak, en uit ʼn duikslag met ʼn lieflike aangee uit die agterkant van sy hand vir Viljoen vir ʼn drie weggestuur. Riley se eie drie in die laaste minuut het die oorwinning verseker.

“Vorster verdien vermelding vir die twee doelskoppe in die laatse 20 minute, wat hy onder groot druk tussen die pale deur gejaag het. Hy het ook twee strafdoele behaal,” berig Van Schalkwyk.

“Dit was ʼn wedstryd van twee dele. Brits het die wedstryd 50 minute lank in alle opsigte oorheers, en slegs volgehoue verdediging deur Harties het hulle in die wedstryd gehou. Met 25 minute oor was die telling nog 19-3 in Brits se guns.

“Harties het egter gaandeweg die oorhand in die los begin kry en genoeg balbesit verseker om die agterlyn bietjie meer ruimte te gee. Brits se groter spelers het stadiger begin beweeg, en Harties geleentheid gegee om te wen, iets wat die grootste deel van die wedstryd onwaarskynlik gelyk het.

“Die kanniedood-ingesteldheid van Harties se spelers beloof ʼn goeie ding vir die toekoms.”

Ander uitslae –

Eerste spanne

Tuine 69, Cullinan 0; TUT 20, Baviaanspoort 13; Eersterust 32, Silver Valke 22.

Tweede spanne

Tuine 48, Cullinan 5; TUT 48, Baviaanspoort 18; Eersterust 32, Silver Valke 27.

Derde spanne

Cullinan 24, Tuine 19; Baviaanspoort 40, TUT 0 (TUT onttrek).

Carlton-C-liga

♦ In die Carlton-C-liga het Noord (voorheen Noordelikes) sy derde opeenvolgende wedstryd met ʼn bonuspunt gewen toe hy met 34-7 met Soshanguve afgereken het.

Dawid Labuschagne, Noord se voorsitter, laat weet ʼn knap spanpoging, en uitstekende verdediging het die grondslag vir die oorwinning gelê.

Christo Snyman (regtervleuel), Morné van Aswegen (linkervleuel), Renier Vorster (agsteman), Quinton Forbes (flank) en Sarel de Beer (slot) het die wenspan se drieë gedruk.

Ettiene Swanepoel het drie daarvan verdoel, en Jacques Storm het met ʼn skepdoel geslaag.

Die heelagter, Pierre Wagenaar, het 12 punte met ʼn drie, twee doelskoppe en ʼn strafdoel behaal in Noord II se sege van 22-0 oor Soshanguve II.

Ander uitslae –

Eerste spanne

Stanza/Militer 28, Mamelodi/Nelmapius 10; Transnetparke 37, Westelikes 5.

Tweede spanne

Stanza/Militer 21, Mamelodi/Nelmapius 0; Transnetparke 43, Westelikes 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.