BBRU-liga: blindederm ‘steel’ kaptein se vreugde

Die Naka Bulle se span wat Rustenburg Impala geklop het. (Foto: Johanna de Vos)

Die Naka Bulle se span wat Rustenburg Impala geklop het. (Foto: Johanna de Vos)

Toe verhoed `n blindederm jou werklikwaar die Naka Bulle se kaptein om Donderdag in sy span se groot vreugde te deel.

Naka het grootliks verras deur die Goue Bekerklub en verlede jaar se naaswenner in die oop klubs se nasionale reeks, Rustenburg Impala, 23-17 in die Blou Bulle-rugbyunie se Carltonliga A te klop (rustyd 20-10).

Ongelukkig vir Sylvester Booysen, die wenspan se kaptein, moes hy hom kort voor die wedstryd onttrek en het hy `n blindedermoperasie ondergaan, wat hom die vreugde laat misloop het en hom geruime tyd van die veld sal hou.

Harlequins het eweneens verras deur, ná `n gesukkel vroeër die seisoen, vir Centurion – wat as een van die bond se topdrie spanne geag word – oortuigend 37-18 te klop.

Met sulke uitslae stuur die Carltonreeks vanjaar op `n interessante einde af.

♦ Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die klub het `n besonder goeie aand op sy tuisveld beleef deurdat al vyf sy spanne oor Impala koning gekraai het.

“Die eerste span het goed afgeskop, vinnig die voortou geneem en was rustyd reeds 20-10 voor.

“Dit was egter `n baie taai stryd, wat tot teen die einde in die weegskaal was en deur enige van die twee spanne gewen kon word.

“Naka was egter die een wat die sterkste karakter getoon het – en met sy dodelike verdediging en wil om te wen tot die eindfluitjie geveg het vir sy oorwinning,” berig Burger.

“Maklik was dit nie, en die manne van die Moot het, nadat hulle aanvangklik swaar in die skrums geleef het, ook hierdie  afdeling van die wedstryd bemeester.”

Hy sê die grondslag vir Naka se goeie begin, is deur die agterlyn gelê, wat bereid was met elke bal wat hy ontvang het te hardloop.

“Hier was die skakelpaar, Donovan O’Grady en die kaptein Anthony Beswick, op die voorgrond.

“Die voorspelers met veral die haker, Christoff Crail, wat deurgans puik gespeel en sy lynstaanmanne netjies gevind het, moet vermeld word. Die waarde van goeie en lang slotte, is deur Adriaan Brits en Juan vd Westhuizen beklemtoon. Hierdie twee manne het, soos die res van die agttal, hul harte uitgespeel.”

Lawrence Cleminson, Robin Goliath en Fanie Rasarorka het elkeen `n drie vir Naka gedruk. Anthony Beswick het met `n doelskop en  twee strafdoele (agt punte) geslaag.

Burger sê Marinus vd Watt en sy afrigtingsspan behoort  tevrede te wees ná hul harde werk met die span uiteindelik positiewe resultate gelewer het.

Hy sê die tweede span het in `n ewe harde wedstryd alles uitgehaal om die wedstryd in sy guns te beklink. Dieselfde geld die derde en die onderouderdomspanne.

♦ Vir Harlequins het Jan-Hendrik Bosman, Wilhelm Theron, Johan Grobler en Pule Sibiya drieë gedruk. Jacques Petzer-Moore het 17 punte met vier doelskoppe en drie strafdoele behaal.

Juan Pike en Christiaan Burger het vir Centurion gedruk, en Gaybrin Smith het `n doelskop en `n strafdoel (vyf punte) bygevoeg.

Ander uitslae –

Tweede spanne: Naka 35, Impala 26; Centurion 36, Harlequins 3.

Derde spanne: Naka 49, Impala 10; Harlequins 48, Centurion 10.

O.21-spanne: Naka 94, Impala 0.

O.20-spanne: Naka 40, Impala 0; Harlequins 46, Centurion 21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ian Herbst ·

Naka se o/20s het 40-0 gewen dit was die eindtelling,Impala het nie punte gegee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.