BBRU-liga: Carlton-‘nuweling’ skerp in kollig

Die “nuweling” in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga sal Saterdag skerp in die kollig wees wanneer die strawwe reeks dié seisoen begin.

Quins-Bobbies-rugby (QBR) speel as sulks sy heel eerste Carltonwedstryd op sy tuisveld in Groenkloof teen die pas gekroonde Varsitybeker-kampioen, die Universiteit van Pretoria.

QBR het vroeër vanjaar tot stand gekom toe twee van die BBRU se oudste Pretoriase klubs, Harlequins en Polisie, saamgesmelt het.

Hy sal daarop uit wees om die Tukkies se moontlike broosheid en asemskep ná die moordende studentereeks uit te buit.

Universiteit het verlede seisoen stadig begin, en moes op die ou end uithaal om die uitspeelrondes te haal. Hy sal nie weer dieselfde fout wil begaan nie.

Nog ʼn wedstryd wat meer as die gewone belangstelling lok, is dié van die Assupol-kampioen, die Naka Bulle, op sy Hannes Fourieterrein in die Moot teen Rustenburg Impala, die internasionale Goue Bekerkampioen.

Naka sal graag sy oorwinning oor Impala in die halfeindstryd van die Assupolreeks wil herhaal, maar kan hom gereed maak vir ʼn magtige aanslag deur die Luiperdsklub.

In die derde wedstryd speel die Carltonkampioen, Centurion, teen Dragons op laasgenoemde se tuisveld by die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord.

Die tuisspan het verlede jaar getoon hy is nie ʼn katjie om sonder handskoene aan te pak nie, en die verdedigende kampioen sal op sy hoede moet wees om nie in die eerste wedstryd van die nuwe seisoen slae te kry nie.

In die junior ligas is dit veral die wedstryd tussen Tuine en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) op Tuine se veld, en dié tussen Korrektiewe Dienste (KD) en Brits op eersgenoemde se veld wat vuurwerk kan oplewer.

TUT is die verdedigende B-afdeling-kampioen, en het die onlangse eindstryd in die reeks om die Varsityskild gehaal.
Hartbeespoort, wat verlede jaar die C-afdeling gewen het, se vuurdoop in die B-afdeling is teen Eersterust.

Dit sal ook interessant wees om te sien hoe die nuweling Baviaanspoort in sy eerste wedstryd teen die Silver Valke op die se veld in Silverton vaar.

Ander wedstryde –

Atteridgeville teen Westelikes; Tswaing teen Bronkhorstspruit; Noordelikes teen Transnetparke; Soshanguve teen Pretoria Militêr/Stanza Bopape

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.