BBRU-liga: Carltonliga kom nader aan ou glorie

daisy-bbru

Die bond se grootbase verdien geluk te wens te word met die besluit om Rustenburg Impala toe te laat om voortaan die Carltonliga te kan wen.

Eugene Hare, die hoof- uitvoerende beampte van die BBRU, het dié nuus Woensdag teenoor Pale Toe! bevestig.

Impala, die kampioen van Suid-Afrika se oop klubs, speel reeds die afgelope twee jaar in die Bulle se senior liga, maar was dusver uitgesluit as dit by die verowering van die beker kom.

Met klubs soos Centurion, die Naka Bulle, die Tukkies, Pretoria Polisie en die Dragons was die liga reeds verlede seisoen weer een van die mededingendste in die land en `n mens hou duim vas dat die bond se oudste oorlewende klub, Harlequins, eweneens sy mededingendheid sal herwin. Sy hardwerkende en ondernemende bestuur verdien dit.

Impala se mede-Luiperdsklub, die NWU Pukke, kan al jare lank die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagbeker wen en het dit meermale reggekry. Dit het wondere verrig vir die verbetering van klubrugby in dié bond, en die Blou Bulle behoort op dieselfde wyse voordeel uit Impala se aanwesigheid te trek.

Enersyds behoort die feit dat Impala nou die gesogte beker kan wen, die Rustenburgers gewis tot groter hoogtes in die liga aan te spoor. Andersyds sal diegene wat die “gaste” voorheen nie die beker gegun het nie, nou vinger moet trek om dit uit hul hande te hou.

Tussen die Pretoriase klubs se besware teen Impala se volwaardige deelname aan die liga, was die reiskoste Rustenburg toe.

Nes verlede jaar sal Gert Wessels, die president van die BBRU, die aanprysenswaardige ding doen om die honorarium wat hy van SA Rugby ontvang te skenk sodat dit met die klubs se vervoerkoste Rustenburg toe kan help.

`n Mens wonder hoeveel ander provinsiale presidente bereid sou wees om so iets te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Douw ·

Ek stem saam, dit was jare terug die strafste en hardste rugby liga in die land en het GROOT Springbokke opgelewer. Ek het self vir die Likkewane se Carlton span gespeel in die tagtigs en dit was great rugby. Welgedaan en dit sal Blou Bul rugby net goed doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.