BBRU-liga: Carltonreeks A kry nuwe voorloper

Die Tukkies se puntemakers David Pieterse, Marcel Steyn Scholz en Marais Schmidt. (Foto: Johanna de Vos)

Die Tukkies se puntemakers David Pieterse, Marcel Steyn Scholz en Marais Schmidt. (Foto: Johanna de Vos)

Die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A het `n nuwe voorloper na Saterdag se reeks wedstryde.

Centurion se sege van 41-31 oor Rustenburg Impala (nadat die Luiperdsspan rustyd 24-15 voor was) en die Tukkies se oorwinning van  32-17 oor die Naka Bulle, die wenner van die Lucas Strachanskild, plaas Centurion boaan die punteleer met 28 punte, Impala tweede met 26 en Naka derde met 24.

In die naweek se ander wedstryd het Dragons van Pretoria-Noord vir Harlequins 45-23 geklop (rustyd 28-10).

Dit laat die res van die punteleer soos volg daar uitsien: Tukkies 21, Dragons 18, Polisie 14, Harlequins 6.

Pretoria Polisie was nie die naweek in  aksie nie, maar sy tweede laaste plek wek kommer in die lig daarvan dat die klub die Blou Bulle later vanjaar in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig.

Johan Kluyts, `n woordvoerder van die klub, het teenoor Pale Toe! toegegee dat die klub sy sokkies sal moet optrek as hy hom in die nasionale reeks wil laat geld.

“Die Bobbies het te lank, te swaar op Nico Luus as speler staatgemaak, en hoewel hy as afrigter nog `n lang pad gaan loop, was hy te lank die spil waarom die span op die veld gedraai het.

“Die ander klubspanne het verbeter en vinnig  ingehaal.

“Al wat oorbly, is harde werk, goeie spangees en slimmer spel – soos ons by die Lions kan leer. Doen net die basiese dinge reg en doen dit voluit.”

Kluyts sê `n mens aanvaar dat `n span soos Polisie nie altyd bo sal bly nie, maar dis inderdaad so dat hy kan verbeter.

naka bulleBuks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê die Tukkies het uit die staanspoor Naka se foute  goed uitgebuit, en hom die grootste gedeelte van die eerste helfte in sy eie kwartgebied vasgepen. Die rustydtelling was 17-3 in die studente se guns.

“Naka het in  tweede helfte goed teruggeveg, maar was dit nie vir sy uitstekende verdediging nie, kon die Tukkies  verder gewen het.”

“Die manne van die Moot het twee drieë deur die skrumskakel, Donovan O’Grady, en die senter Alec Mhlanga aangeteken, terwyl Jean Grobler met twee doelskoppe, en JP Alberts  met `n strafdoel geslaag het.”

Burger sê `n ongemaklike week lê vir Naka voor met die kragmeting die voorloper, Centurion, wat wag.

“Die afrigters sal alles in hul vermoë doen om klein foutjies reg te stel. Die  spelers se koppe sal allesbehalwe hang, aangesien hulle die wedstryd teen die Tukkies tot die einde met moed en durf benader het. Die kameraderie en erns waarmee die manne  speel, maak van hulle `n besonderse span, en hulle verdien die ondersteuning  wat hulle uit die paviljoen ontvang.”

Gaybrin Smith van Centurion het sy puntetotaal in die reeks tot 112 opgeskuif. Marnus van Rensburg van die Dragons se driekuns teen Quins maak hom nou met agt die voorste driedrukker.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Fezelas (UP) 23, Naka 17; Dragons 87, Quins 0; Centurion 31, Impala 14.

Derde spanne

Pumas (UP) 33, Naka 24; Quins 14, Dragons 12; Centurion 32, Impala 8.

O.21-spanne

Naka 15, UP-Jongspan 11; Dragons 48, Quins 3; Centurion 76, Impala 12.

O.20-spanne

Naka 26, UP 14;  Quins 32, Dragons 17; Impala 15, Centurion 14.

Carltonliga B

tut vikingsDie Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) is na afloop van die Carltonliga B se eerste ronde steeds onoorwonne nadat hy die Silver Valke Saterdag 68-5 opgedreun het.

Neels van Heerden, die TUT Vikings se voorsitter, sê die span het veral in die eerste helfte van sy beste rugby hierdie seisoen gespeel en was na 30 minute reeds 42-0 voor.

“Die kern van TUT se span het vanjaar in reeks om die Varsityskild gespeel en ons glo en vertrou dat hulle eweneens in die 2017-reeks om die skild goed sal vaar.

Die spelers van die wedstryd was Stanley Modjadji (haker) en Dylan du Buisson (losskakel). Laasgenoemde het nege van die wenspan se tien drieë verdoel.

Benewens `n strafdrie het Lisa Banzi (heelagter, twee), Tshepo Nyati (regtervleuel, twee), Dumisani Mthethwa (buitesenter), Francois de Vliiers (agsteman), Claude Johannes (flank en kaptein), Chestwin Gaffley en Shawn Jacobs (albei plaasvervangers) vir TUT gedruk.

TUT II en III (SMU) het ook goeie oorwinnings teen die Valke behaal. Die tweede span het 41-14 en die derde 22-10 gewen.

Die Vikings het verlede week ook ver gewen deur Atteridgeville 51-15 te verslaan.

Van Heerden sê Atteridgeville het met groot hartstog gespeel en TUT aanvanklik met goed gestruktureerde rugby verras. Die twee puik agterlyndrieë wat hulle gedruk het, getuig daarvan.

Johannes (dié keer op slot) en Arno Brits (linkervleuel) was die Vikings se spelers van die wedstryd.

TUT se skoppers kon net drie van die nege drieë verdoel. Die spelers op die bank het `n groot impak in veral die tweede helfte gemaak en vier van die drieë gedruk.

Banzi (op binnesenter) se drie drieë en `n doelskop het hom 17 punte besorg. Cascious Dube (regtervleuel) en Percy Matlako (flank) het driee gedruk en Lewies van Deventer het twee verdoel. Die plaasvervangers wat gedruk het, was Nyati (twee keer), DK Mukendi en Dalton Dreyer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.