BBRU-liga: Centurion en TUT veg goed terug

Twee puik terugvegpogings het die afgelope week die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se klubreekse gekenmerk.

In die Carlton-A-liga het die bekerhouer, Centurion, ʼn rustydagterstand van 11-17 uitgewis om die Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala, met 31-22 te klop; en in die Carlton-B-liga is die kampioen, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), weer op die wenpad nadat hy die seisoen met slae teen Tuine se Grizzlies afgeskop het.

♦ Charles Pelser, die klubbestuurder van Centurion, laat weet Marius Grobler, Curtley Brinkhuis en Edmar Marais het die wenspan se drieë teen Impala gedruk. Steven Moir het 16 punte behaal deur twee te verdoel en met vier strafdoele te slaag.

Hy sê die tweedespankragmeting het die verwagte taai stryd opgelewer, en Centurion het sy konsentrasie in die tweede helfte verloor sodat Impala met 32-16 gewen het, nadat Centurion rustyd met 13-10 voor was.

“Dit is nou weer terug na die oefenveld om die foute regte maak. Ons koppe bly omhoog, en ons sien uit na die volgende wedstryd.”

Willem Cronjé het 11 van Centurion II se punte met ʼn doelskop en drie strafdoele behaal. Riegal Krahtz het ʼn drie gedruk.
Deon Jordaan, Centurion se derdespanafrigter, sê sy span het rotsvaste verdediging, puik aanvalstegnieke, hegte dissipline, goeie samespel en ʼn sterk spangees aan die dag gelê.

Hy was rustyd al 22-3 voor en het Impala met 32-3 ondergesit.

“Daar is nog ʼn paar foute wat uitgepluis sal word. Daar is niks wat nie op die oefenveld reggestel kan word nie.

Nie foutloos

“Vanjaar se span is ʼn samestelling van jonger en ouer manne, wat ʼn hartstog vir die spel het, en dít is vir my baie belangrik,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Ivan Hill, Louis van Boullen, Pieterse le Roux (twee), Pierre Kotzé en Willem Potgieter het Centurion III se drieë gedruk.
Hill het met ook ʼn doelskop geslaag.

Pelser sê Centurion se o.20-sege van 43-3 (rustyd 17-3) was nie foutloos nie, en die telling maak teen die volgende wedstryd nie meer saak nie. Dit begin weer op 0-0.

Dis slegs die tweede wedstryd van die seisoen, maar die span word deur beserings gery, en daar word vertrou dat die beseerdes vinnig sal herstel

Eddie Dludlu, Hendré Eloff, Damian Esterhuizen, WJ Grobler (twee) en Divan Barnard het die wenspan se drieë gedruk.

Die kaptein, Reinardt van Sittert het met vyf van die ses doelskoppe geslaag, en ook met ʼn strafdoel om 13 punte tot die totaal by te dra.

TUT se wenspan teen Korrektiewe Dienste. (Foto: Richard van Rensburg)

♦ Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, bestempel sy span se oorwinning van 26-6 oor Korrektiewe Dienste (KD) as ʼn baie goeie terugvegpoging nadat hulle die vorige Saterdag met 13-3 teen Tuine vasgeval het.

KD het in April die Flya-reeks in Pretoria gewen, en het onder meer toe met die Grizzlies afgereken.

Van Heerden voorspel dat die Carlton-B-reeks vanjaar net sulke strawwe mededinging kan bied as wat die geval in die Carlton-A-liga is.

“Tans lyk dit of TUT, KD, Grizzlies, Hartbeespoort, Cullinan en Baviaanspoort sake gaan uitspook om die halfeindronde te haal, met Brits, die Silwer Valke en Eersterust as buiteperde.”

Marius Scholtz, TUT se hoofafrigter, bestempel die span se sege oor KD as “ʼn grootse spanpoging”, waarin elke speler die oog gevang het.

“Ons het as ʼn span ritme gekry. Daar is nog werk wat voor lê, maar daar is baie goeie aspekte om vorentoe die seisoen op voort te bou.”

Lisa Banzi (buitesenter) en Tshepo Nyathi (regtervleuel, twee) het TUT se drieë gedruk.
Shawn Jaards het met ʼn doelskop en twee strafdoele geslaag, en Lewies van Deventer met ʼn strafdoel.

KD se tweede span het met 34-22 gewen, en TUT se derde span was 15-7 baas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.