BBRU-liga: Centurion sit Goue Bekerspan in kooi

Centurion se puntemakers Christiaan Burger, Gaybrin Smith en Curtley Brinkhuis. (Foto: Johanna de Vos)

Centurion se puntemakers Christiaan Burger, Gaybrin Smith en Curtley Brinkhuis. (Foto: Johanna de Vos)

Centurion het Saterdag die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Goue Bekerspan, Pretoria Polisie, op die Centurionveld in die kooi gesit.

Polisie, die oop klubs se nasionale Plaatkampioen verlede jaar en wenner van die Noorderbonde se Assupolreeks vanjaar, is terug aarde toe gebring deur Centurion se welverdiende oorwinning van 29-23 (rustyd 22- 8).

♦ Johann Kluyts, die woordvoerder van Polisie, sê voor die Bobbies hul oë kon uitvee, het Centurion reeds drie keer ná puik aanvalle gaan druk.

“Polisie het eers in die tweede helfte sy voete begin vind en die telling was in `n stadium 22-18 met Polisie op die aanval.

“Gaybrin Smith, Centurion se losskakel, het egter op sy eie 22-m-lyn `n bal onderskep vir `n drie onder die Polisiepale, wat die uitslag vir Centurion beklink het.”

Kluyts sê Centurion het `n goeie span en gaan vanjaar weer een van die topspanne in die Carltonliga wees.

“Sy verdediging was puik en hy het Polisie min ruimte gegee en tot talle foute gedwing.

“Polisie sal moet leer om teen sy teenstanders te speel en nie teen homself nie.”

Hy het ook `n pluimpie vir die skeidsregter – iets wat nie aldag, en veral nie deur `n verloorspan gegee word nie.

“Stefan Geldenhuys, is nie familie van my nie, maar wat `n plesier is dit nie om te kyk na die manier waarop hy wedstryde hanteer,” het Kluyts aan Pale Toe! gesê.

Vincent Gwavu, Heinrich Rademeyer en Michael Nienaber het Polisie se drieë gedruk. Morné Hugo het een verdoel en met twee doelskoppe geslaag.

Vir die wenspan het Curtley Brinkhuis (twee), Christiaan Burger en Gaybrin Smith drieë gedruk. Smith het drie daarvan verdoel en `n strafdoel behaal om sy bydrae op 14 te staan te bring.

naka-logo♦ Op die Hannes Fourieveld in die Moot het die Naka Bulle vir Harlequins 48-8 oorskadu.

Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die wenspan het van die begin af die botoon gevoer, en sewe drieë teen een gedruk om `n bonuspunt te verseker.

“Sylvester Booysen, die kaptein en loskopstut van Naka het met sy spel gelei en twee drieë gedruk.

“Die losvoorspelers het eweneens beïndruk en die jong nuweling JP Alberts, wat sy buiging as plaasvervanger-agsteman gemaak het, het puik vertoon. Daar word in Nakakringe met lof van hom gepraat, en hopelik kan ons in die toekoms nog baie oor hom gesels,” het Burger aan Pale Toe! gesê.

“In die agterlyn het die buitesenter, Alec Mhlanga, puik spel gelewer en is hy as die speler van die wedstryd aangewys.

“Die nuweling-skrumskakel Donovan O Grady, wat ook as plaasvervanger opgegaan het, het insgelyks puik vertoon.”

Burger sê dis jammer dat Naka se twee twee puik agterspelers, Anthony Beswick en Francois de Jonge, die veld met beserings moes verlaat. Daar word styf duim vasgehou dat albei betyds herstel en Vrydag fiks sal wees wanneer Naka teen die Tukkies op LC de Villiersveld kragte meet.

Behalwe Booysen se twee het De Jonge, Lawrence Cleminson, Alberts, O’Grady en Fanie Rasarorka vir Naka gedruk. Beswick het vyf doelskoppe (tien punte) behaal. Alberts het ook met `n strafdoel geslaag.

Burger sê Quins het deurentyd hard probeer.

Christo de Jager het `n drie vir die Lappiestruie gedruk en Juan van der Merwe het met `n strafdoel geslaag.

♦ Die Tukkies se eerste, tweede, derde en o.20-spanne verbeur hul punte kragtens die kompetisiereëls nadat hulle nie die week se bepalings teen Rustenburg Impala nagekom het nie – omdat Impala nie Donderdag `n o.21-span teen die studente in die veld kon stoot nie.

Impala verloor punte in die o.21-reeks.

TUTCarltonliga B

♦ Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het Saterdag skoonskip teen Noordelikes van Pretoria Noord gemaak.

Die eerste span het 41-17 gewen, die tweede 24-3, en die derde 12-10.

Neels van Heerden, TUT se voorsitter, vertel van `n aangrypende toneel wat hom na elke wedstryd afgespeel het.

“Noordelikes se spelers en beamptes het die inisiatief geneem en `n kring saam met ons spelers gevorm, waar daar onder meer `n gebed gedoen is en afgesluit is met ‘n kreet oor ‘Rugby’.

“Wat die situasie des te meer merkwaardig maak, is dat ons studentespelers nog min, indien ooit, by so `n positiewe aksie deur enige ander klub betrek is.

“Ras behoort nie eers ter sprake te kom nie, maar ek wens dat die politici kon sien hoe nie-gekleurde en gekleurde spelers bymekaar inhaak.

“Die uitslae raak dan vir my amper `n bysaak,” het Van Heerden aan Pale Toe! gesê.

Ander uitslae

Carltonliga A

Tweede spanne: Naka 31, Quins 19; Polisie 34, Centurion 28.

Derde spanne: Quins 25, Naka 15; Polisie 48, Centurion 10.

Onder 21-spanne: Naka 43, Quins 0; Polisie 19, Centurion 15

Onder 20-spanne: Naka 12, Quins 10; Centurion 51, Police 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.