BBRU-liga: die Bobbies had te veel vuurkrag

harlequinsPretoria Polisie het Woensdag eenvoudig te veel vuurkrag vir Harlequins gehad toe die twee spanne in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A kragte gemeet het.

Só laat weet Ben Eybers, Quins se voorsitter.

Polisie, wat voor `n kruispad staan, het die wedstryd 39-21 gewen. In die Noorderbonde se Assupolreeks vroeër vanjaar het hy sy Groenkloofse buurman 122-7 oorheers.

Eybers sê Quins het alles in die stryd gewerp om die kragmeting op sy tuisveld in sy guns te beklink, maar die groter en swaarder agttal van die Polisie het op die ou end die skaal in die die Bobbies se guns laat swaai.

“Emil Kayser, wat vir die Bobbies uitgedraf het ná `n seisoen by Dallas Quins, was verwoestend in die vaste los en het gewys dat die besoek oorsee vrugte afgewerp het.

“Pretoria Quins gaan gewis later vanjaar nóg spelers Dallas, Leipzig en Pole toe stuur.”

Hy sê uit Quins se oogpunt was dit verblydend dat die span nooit tou opgegooi het nie en gevolglik met drie drieë beloon is.

“Quins se tweede span is weer in die grond ingespeel, en daar wag groot werk op die afrigrigtingspan.

“Die derde het sy plek in die halfeindstryd bespreek, maar die afwesigheid van sleutelspelers het die Bobbies toegelaat om die neut in `n klemtang te druk (waar die neutkrakers nie kon slaag nie) en is dit met `n gelykop telling bitter amper gekraak.”

Eybers sê Quins se onder 21s het ook weer swaar deurgeloop, maar die onder 20-span het gewys dat daar diepte in die klub is deur die Bobbies af te ransel.

“Met nog drie wedstryde oor lyk dit of Quins slegs twee spanne in die halfeindstryde gaan hê.”

Quins se voorsitter sê daar moet vrae gevra word oor die lewensvatbaarheid van twee klubs oorkant die pad van mekaar af, en die feit dat hulle tans laaste en tweede laaste in die liga is.

“Quins en die Oostelike Eagles se samesmelting het eersgenoemde weer vanjaar mededingend gemaak, en daar is bewys dat dit gedoen kan word.

“In die era van beroepsklubs en finansiële spierkrag is dit noodsaaklik om die beste uit `n mens se beleggings te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.