BBRU-liga: dubbele wraak vir QBR teen Dragons

Die oorwinning wat Quins-Bobbies-rugby (QBR) Saterdag teen Dragons in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-A-liga behaal het, was eintlik ʼn dubbele wraak.

Die klubs waaruit QBR vroeër vanjaar saamgestel is, Harlequins en Pretoria Polisie, het albei verlede jaar teen Dragons op dié se veld in Pretria-Noord slae gekry.

Ben Eybers, QBR se voorsitter, sê QBR Swart het in Saterdag se sege van 45-15 (rustyd 19-3) op al sy silinders gevuur.

“QBR het uit die staanspoor die skrums oorheers en meedoënloos aangeval.

“Die span het hom nie aan die strafskoptelling gesteur nie, en kalm gebly om die bonuspunt in te palm.”

Hendrik van der Nest (twee), Jacques Erasmus (twee), Jan-Hendrik Bosman, Cornelius de Villiers en Dries du Plooy het vir QBR se sewe drieë gesorg. Morné Hugo het vyf daarvan verdoel.

Eybers se QBR se ander eerste span, QBR Rooi, het met 42-23 teen Dragons geseëvier, en vergoed vir verlede weeks se glips teen die Tukkies.

Harde liga wag

“Ook hier het die voorspelers die basis gelê deur op ʼn tydstip Dragons terug te stoot met net sewe manne in die QBR-skrum.”

Hy sê die derde span was ongelukkig om met 14-15 te verloor nadat hy die hele wedstryd voorgeloop het.

“Dit gaan ʼn baie harde liga vir die derde spanne wees.”

Eybers prys sy spelers, maar waarsku dat die Carltonreeks nie ʼn maklike liga is nie.

Dragons se o.21-span het met 24-0 gewen, en QBR se o.20-span met 17-12.

Saterdag pak QBR en die Naka Bulle mekaar om die Charles van Stadenbeker. Van Staden dien in Naka se reëlingskomitee vir sy 20ste bestaansviering, en is die voorsitter van die Harlequinklub, waarvan die rugbyklub (QBR) ʼn onderafdeling is.

Carlton-B-liga

♦ Hartbeespoort se eerste span het die Silver Valke van Silverton Saterdag met 55-5 opgedreun. Harties se tweede span het sy Valke-eweknie met 62-7 afgeransel (rustyd 17-0).

Ockie van Schalkwyk, die klub se woordvoerder en tweedespanafrigter, laat weet Ferdinand von Wielligh (skrumskakel), Henk de Ridder (losskakel) en Christiaan Dicks (slot) het uitgeblink in ʼn eerste span wat as eenheid puik vertoon het.

Wat die tweede span se wegholsege betref, sê Van Schalkwyk die grondslag is in die skrums en met oorheersing by die afbreekpunte gelê.

“Die wedstryd was taai, met die Valke wat tot rustyd toe goed gehou het. Hartbeespoort se fiksheid en gestruktureerde spel by die afbreekpunte het ʼn oorvloed balbesit in die wedstryd verseker, wat deurgaans vir onverbiddelike aanvalle aangewend is.

“Daar was talle uitblinkers, maar Pieter Prinsloo op skrumskakel het die wedstryd se tempo baie goed beheer,” berig Van Schalkwyk.

“Dylan Dreyer, die groot en sterk binnesenter, het die voordeellyn moeiteloos oorgesteek, hordes geleenthede geskep, en self drie keer gaan druk.

“JP Viljoen op linkervleuel was soos ʼn valk op elke los bal wyduit, en sy twee drieë het van omgekeerde besit van Harties se eie kwartlyn af gekom.”

Prinsloo, Rudi Durand, Cois le Sueur, Vincent Verwey en Bronwyn Karools het vir die res van die wenspan se tien drieë gesorg. Eersgenoemde het ook ses doelskoppe vir ʼn eie bydrae van 17 punte behaal.

Carlton-C-liga

♦ Noord se eerste span het sy wedstryd teen Pretoria Militêr met 26-0 gewen, maar Stanza Bopape het die tweede span met 21-19 geklop.

Die klub in Pretoria-Noord het voorheen as Noordelikes bekend gestaan.

Dawid Labuschagne, Noord se voorsitter, laat weet Noel “Beast” Kabongo (vaskopstut), JV Bester (agsteman), Christo Snyman (linkervleuel) en die nuweling Lukas Swart (skrumskakel) het die eerste span se drieë gedruk.

Ettiene Swanepoel (heelagter, twee) en Jacques Storm (losskakel) het saam drie daarvan verdoel.

Vir die tweede span het die skrumskakel Andrew Vermaak en die agsteman Norman Coleman (twee) drieë gedruk, en die losskakel Daniel Ball het twee daarvan verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.