BBRU-liga: `gewis die strafste seisoen in jare’

blou-bulle-logoTe oordeel aan die jongste beskikbare punteleer is die Carltonliga A duidelik die strafste in jare, sê Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins.

Nie een van die klubs in die A- en B-afdeling loop in meer as een onderafdeling voor nie, en slegs vier spanne in die twee afdelings is dusver onoorwonne.

“`n Mens sou verlede jaar `n wedprys van 10/1 aanvaar het as iemand jou wou vertel die Naka Bulle sal boaan die punteleer staan,” sê Eybers. (Rustenburg Impala is in werklikheid voor, maar kan nie die Carltonliga wen nie.)

In die A-afdeling is Impala se eerste span voor, Pretoria Polisie se tweede span, Harlequins se derde span (onoorwonne in vyf wedstryde), die Tukkies se o.21-span (onoorwonne in vyf wedstryde), en Naka Bulle se o.20-span.

Eybers wys daarop dat daar vroeër vanjaar al voorspel is Quins se derde span sal `n harde neut wees om te kraak.

“Die Quins Madalas word hard deur Frik de Beer, Hermann Dannhauser en die gewese Carltonafrigter Martin White, gedril.

“Dit wys ook die waarde wat `n diepte van 353 geregistreerde senior spelers aan `n klub bied.”

♦Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se Vikings is eweneens onoorwonne in vyf wedstryde en loop wat die B-afdeling se eerste spanne betref voor; Korrektiewe Dienste (KD) se tweede span is voor; en Cullinan se derde span (onoorwonne in vyf wedstryde).

♦ Die enigste uitsondering is in die Carltonliga C, waar sowel Hartbeespoort se eerste as sy tweede span voorloop en albei na ses wedstryde nog nie geklop is nie.

harlequins♦ Gert Mulder, die rugbydirekteur van Harlequins, sê ondanks die nat toestand en gure weer was die rugby op Rustenburg kliphard. Impala het 54-22 gewen.

“Ons het geweet wat op ons wag, en dit was ook so: `n gehaltespan met baie ervaring.

“Hoewel ons met `n strafskop eerste bloed geruik het, het Impala onmiddelik teruggeslaan en punte aangeteken.

“Al twee klubs was dit eens dat `n paar twyfelagtige beslissings `n radikale uitwerking op die wedstyd gehad het, maar dit vat niks weg van die gehalte van die rugby van enige van die spanne nie.”

Hy sê Impala is `n goed gedrilde span wat duidelik sy spelpatroon afgedwing het. Hy sal gewis die jaar ver vorder in die reeks om die Goue Beker.

“Quins het dit deur individuele foute té maklik gemaak vir hulle om deur te breek en punte af te staan. Ons is deur ’n baie swaar agttal in die skrums oorheers, maar ons het daarvoor vergoed deur karakter te wys in die gebroke spel en ons man in die vaste los te staan,” het Mulder aan Pale Toe! gesê.

“Quins het egter nie ons eie balle goed genoeg in die vaste los beskerm nie, en sodoende die teenstanders toegelaat om vir ons swak balbesit te gee.

“In die tweede helfte was ons meer gefokus en het ons minder foute begaan. Quins het toe meer op die peil gespeel wat ons van onsself verwag.”

Mulder sê daar was ook `n paar wegbreek-geleenthede waaroor onsself op die vingers kan tik dat daar nie punte aangeteken is nie.

“Ons sal duidelik harder aan ons reaksietyd moet werk voor ons die Tukkie-studente dié naweek aandurf.”

Hy sê Jan-Hendrik Bosman het uitgemunt met sy hoë werkverrigting en met sy voorbeeld as kaptein gelei. Hy is ook met ’n drie beloon. Pule Sibya het twee keer die doelyn oorgesteek vir Quins se ander twee drieë. Paul Walters het die res van die punte met die skopskoen aangeteken.

“Hoewel ons nie gewen het nie, is ons steeds trots op elke speler wat met durf speel en die Quins-handelsmerk met groot toewyding uitdra.

“`n Nuwe week met nuwe uitdaglings lê voor en ons sal die gekweste Tukkies nie sonder handskoene kan aandurf nie. Hulle beskik oor uiters ervare en suksesvolle afrigters in Chris Buitendag en Kobus Vorster. Hulle is ’n sterbelaaide span wat een of ander tyd moet vorm aanneem en bly steeds een van die aanspraak makers om die titel.”

Quins se tweede span het die knie gebuig voor Impala, al was hulle gereeld binne bereik van die doellyn. Die ervare derde span is steeds onoorwonne en het met skitterrugby 33-12 oortuigend gewen.

“Die toekoms van Harlequins het ook geskitter met twee oorwinnings. Die o.21s het in die doodsnikke 10-8 gewen. Die o.20s speel week ná week beter onder die afrigting van Wim Bosman, en het met baie goeie gestuktureede rugby 16-3 gewen. “Daar is gewis spelers wat in die toekoms vir die eerste span gaan uitdraf,” het Mulder gesê.

tut vikingsCarltonliga B

♦ Die TUT Vikings het Tuine se Grizzlies 65-9 geklop. Die studente se tweede span het 24-16 gewen en Grizzlies se derde span 31-7.

Neels van Heerden, TUT se voorsitter. Sê die spelers van die wedstryd was Lewies van Deventer (senter) en Stanley Modjadji (haker).

“Diegene wat beweer dat die Varsityskild `n derderangse rugbytoernooi is, moet diep nadink. Die TUT I-groep is, op vier spelers ná, dieselfde as wat in 2016 aan die Varsityskild deelgeneem het.

“Drie spelers het by Pumas se o.20-groep aangesluit en TUT se skildkaptein, Lukas van Zyl, het `n langtermynbesering in die laaste skildwedstryd teen Fort Hare opgedoen.”

Van Heerden sê die welslae wat TUT in die Carltonliga B behaal, versterk die spelers se selfvertroue en vaardighede.

“Die groepgees is tans baie goed en TUT hoop om ook goed te vaar in die komende USSA-toernooi wat in Julie in Oos-Londen aangebied word.

“Suksesvolle deelname aan vanjaar se Carlton B-reeks en USSA-toernooie dien as spanbou vir aanstaande jaar se Varsityskild-reeks.

“Vyftien spelers uit die TUT I-groep is nog o.21.”

Tshepo Nyati, Van Deventer en Modjadji het elk twee drieë en Arno Brits, JJ Nelson, Christo Lategan en Mfunda Gumede een gedruk. Dylan du Buisson het ses verdoel en met `n strafdoel geslaag om 15 punte by te dra.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.