BBRU-liga: grootste Carlton-skok in baie jare

Die gewese Transvaalse slot Willie van Rensburg en sy seun Marnus, die Dragons-losskakel. (Foto: Johanna de Vos)

Die gewese Transvaalse slot Willie van Rensburg en sy seun Marnus, die Dragons-losskakel. (Foto: Johanna de Vos)

Die Dragons het waarskynlik Donderdag vir die grootste skok in baie, baie jare in die Blou Bulle-rugbyunie se Carltonliga gesorg.

Dié nuweling in die liga het op sy tuisveld by die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord vir Pretoria Polisie 14-12 geklop.

Polisie, het jare lank saam met die Tukkies die liga oorheers en het verlede jaar nog die Plaatbeker in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker gewen; Dragons is vanjaar die eerste keer tot die Carltonliga A toegelaat nadat hy verlede jaar die Eerste Liga (nou die Carltonliga B) gewen het.

♦ Pretorianers sal ewe geskok wees om die jongste punteleer te sien.

Rustenburg (15 ligapunte), die Naka Bulle (12) en Centurion (10) vul ná vier wedstryde elk die eerste drie plekke.

Die ander klubs het nog net drie wedstryde elk gespeel en hul ligapunte lyk so: Dragons (8), Polisie (6), Harlequins (5) en Tukkies (4).

Dis nie plekke waaraan veral die Bobbies en die Tukkies gewoond is nie en `n magtige poging sal waarskynlik van hul kant af aangewend word om die bordjies te verhang.

♦ Dragons se slot Jaco Coetzee het die enigste drie van die wedstryd gedruk, en die losskakel, Marnus van Rensburg, die seun van `n gewese Transvaalse slot Willie van Rensburg, het nege punte met drie strafdoele behaal.

Polisie se losskakel, Morné Hugo, het al sy span se punte met vier strafdoele behaal.

harlequins♦ Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, sê die span se sege van 34-15 voor 600 toeskouers was een van Quins se beste vertonings in vyf jaar.

Hy loof die afrigtingspan, Gert Mulder, Ludwiche van Deventer en Fanie Nortjé, vir die ommeswaai wat hulle teweeg gebring het nadat Quins vroeër twee honderdtalle afgestaan het.

“Centurion was wel sonder vier van hul staatmakers, maar Quins het onteensegliks gewys dat hy in 2016 `n faktor gaan wees. Die kaarte op die punteleer is lelik deurmekaar gekrap en al vier plekke vir die halfeindronde is nog oop.”

Hy sê Quins se tweede span het `n pak slae gekry, maar het al strate beter gelyk teen `n baie goeie Centurionspan.

“Die derde span sal soos die afgelope drie jaar weer `n harde neut wees om te kraak.

“Quins o.21 het verloor, maar Quins o.20 het sy eerste oorwinning van die seisoen in `n baie strawwe liga behaal.”

Eybers sê Quins speel Saterdag teen Polisie op Polisie se veld oorkant die straat van Quins af.

“Polisie sal `n ander span wees die een wat 14-12 deur die Dragons geklop is.

“Quins sal uit sy skoene moet speel om die telling van 112-13 telling van vroeër vanjaar te wreek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.