BBRU-liga: Impala en QBR kan riller oplewer

Centurion se puntemakers teen die Naka Bulle: Steven Moir, Edmar Marais, JP du Plessis en Curtley Brinkhuis. (Foto: Johanna de Vos)

Die stryd Sondag in die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) se Carlton-A-liga tussen Rustenburg Impala en Quins-Bobbies-rugby op Rustenburg kan ʼn rillerstryd oplewer.

Die kragmeting is deel van SuperSport se reeks TV-rugbyfeeste en is op die program saam met die wedstryde in die SuperSportreeks tussen die Luiperds en Griekwas, en tussen die Vrystaat-vyftiental en die Griffons.

Impala is tweede laaste op die punteleer, maar kan voor sy tuisskare nie anders nie as die gunsteling beskou word.

Ewe seker sal QBR, wat tans derde is, ʼn magtige poging aanwend om die ligapunte in sý sak te steek.

Tukkies het die afgelope Saterdag met 70-15 met die Dragons klaargespeel, waar die verdedigende kampioen, Centurion, moes spook om die Naka Bulle met 24-23 onder te sit.

Die Goue Bekerhouer, Rustenburg Impala, het die besoekende Britse Polisiespan op Ellispark met 69-15 verslaan.

♦ Charles Pelser, die klubbestuurder van Centurion, laat weet Steven Moir het nege punte met drie doelskoppe en ʼn strafdoel in sy span se sege oor Naka aangeteken.

Moir is tans met 59 die voorste puntemaker in die liga.

Curtley Brinkhuis, Edmar Marais en JP du Plessis het Centurion se drieë gedruk.

♦ Buks Burger, die Naka Bulle se klubbestuurder, sê sy span se wedstryd teen Centurion was kliphard en geeneen van die spanne het genade getoon of gevra nie.

“Centurion was eerste op die telbord met ʼn strafdoel deur sy losskakel, Steven Moir.

“Daarna het Naka se linkervleuel, Marcel Human, met ʼn sterk lopie afgesit, met die bal wat in die losskrum by die daaropvolgende afbreekpunt goed beheer is, weer met mening deur Dirk Dippenaar vorentoe gedra is, en die beweging uiteindelik afgerond is met ʼn goeie drie deur die haker, Christoff Crail.

“Albei spanne het daarna nog punte aangeteken, wat die rustydtelling op 17-13 in Centurion se guns te staan gebring het.”

Burger sê Naka het soos in die vorige wedstryde weer goed geskrum.

“Centurion het in die tweede helfte verwoed aangeval, en is danksy rotsvaste verdediging keer op keer naby die doelyn gekeer, of by die hoekvlag uitgeboender.”

Hy sê Naka het nou twee weke respyt, wat hom die geleentheid bied om van beserings te herstel, en vir die tweede ronde van die liga voor te berei.

Behalwe Crail het Marcel Human ʼn drie vir Naka gedruk, terwyl die heelagter, Gaybrin Smith, met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag het.

Naka se tweede span het met 22-10 en die derde met 32-5 gewen.

Burger sê Naka se o.20- en o.21-spanne het puik vertoon, en skoonskip gemaak teen die spanne van Dragons.

Die o.21s het met 52-7 en die o.20s met 47-3 gewen.

“Albei spanne vaar baie goed in hul onderskeie ligas en is tans bo-aan die punteleer.

“Hulle ervaar ʼn besonderse goeie spangees en kameraderie. Hoede af vir die bestuurspanne wat hulle so puik motiveer en bestuur.”

Die Mootspan se volgende wedstryd is Vrydag 9 Junie op sy tuisveld teen Tukkies.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Fezelas (UP) 32, Dragons 14.

Derde spanne

Pumas (UP) 38, Dragons 14.

Onder 21-spanne

Impala 35, Centurion 21.

Onder 20-spanne

Centurion 29, Impala 22.

Opgesomde punteleer –

Carlton-A-liga

Eerste spanne

Tukkies 19, Centurion 19, QBR 11, Naka Bulle 11, Rustenburg Impala 10, Dragons 1.

Tweede spanne

Impala 20, Tukkies 19, QBR 17, Naka 14, Centurion 3, Dragons 2.

Derde spanne

Tukkies 24, Naka 19, Centurion 12, Dragons 8, QBR 4, Impala 1.

Onder 21-spanne

Naka 15, Tukkies 15, Dragons 14, Impala 6, Centurion 5, QBR 0.

Onder 20-spanne

Naka 24, Centurion 19, Tukkies 17, QBR 15, Tuine 12, Dragons 10, Impala 4, TUT 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.