BBRU-liga: Likkewane in twee uit drie finale

Drie van Korrektiewe Dienste (KD) se spanne wat aan die halfeindronde van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-B-liga deelgeneem het, het die eindronde gehaal.

Die eerste span het Tuine se Grizzlies met 25-14 geklop; die tweede het die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) met 23-7 uitgeskakel; maar die derde het met 0-6 die onderspit teen Tuine gedelf.

In die ander halfeindstryde het TUT I, die verdedigende kampioen, Hartbeespoort (wat puik in sy eerste jaar in dié afdeling gevaar het) oortuigend met 39-19 geklop; Baviaanspoort II het Tuine II in bykomende tyd met 23-22 ondergesit; en Cullinan III het Baviaanspoort III met 48-0 oorrompel.

Wat die eerste spanne betref, was die Grizzlies rustyd met 14-7 voor, maar die Likkewane het in die tweede helfte verwoed teruggeveg.

André Grundlingh, KD se hoofafrigter, laat weet dit was ʼn opwindende kragmeting, en hy meen die baie jong span van Tuine gaan vorentoe ʼn krag word om mee rekening te hou.

Saterdag het hy egter nie raad gehad met die ervare Likkewane wat al ʼn geruime tyd saamspeel nie.

Phillip Mulder (heelagter) het 20 van die wenspan se punte met twee elk drieë, doelskoppe en strafdoele behaal. Ronald le Roux (vaskopstut) het KD se ander drie gedruk.

Die stryd tussen KD en TUT se tweede spanne was ewe opwindend, sê Grundlingh, en ʼn amperse herhaling van 2016 se halfeindstryd toe die twee spanne mekaar harde bene laat kou het.

“Die goed geoliede span van KD het teen die einde eenvoudig te veel skietgoed vir die jong studentespan gehad.

“Die derdespanbotsing tussen KD en die Grizzlies het sommer uit die staanspoor klipharde rugby opgelewer, en die spanne het mekaar behoorlik opgekeil.”

Die eindstryde tussen KD en TUT, tussen KD II en Baviaanspoort II, en tussen Cullinan III en Tuine III vind Saterdag plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Werner K ·

Dit verbaas my dat daar so min aandag aan atletiek, gholf of formule 1 hier gegee word. Vir ons wat nog na ordentlike reëlvaste sport kyk, is die oormatige rugby-dekking vervelig.

Nico K ·

Ek dink daar word heeltemal genoeg dekking aan ander sporte gegee. Rugby bly die sport waarin Afrikaners die meeste belangstel. En ek wil dankie sê vir Maroela dat hul klubrugby soveel dekking gee. Dit is die enigste media wat klubrugby ook bevorder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.