BBRU-liga: naelbytstryd in doodsnikke beklink

Claude Johannes, TUT se kaptein, ontvang die beker van Henry Adendorff, die adjunk-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Claude Johannes, TUT se kaptein, ontvang die beker van Henry Adendorff, die adjunk-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga B is Saterdag eers in die doodsnikke van `n uiters spannende eindstryd beklink.

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het op die ou end die kragmeting teen Korrektiewe Dienste, wat vanjaar sy 85ste verjaardag vier, 21-18 gewen. Die wenspan was rustyd 8-5 voor.

`n Strafdoel reg teen die einde van die wedstryd het die skaal in die studente se guns geswaai.

TUT het aan die begin van die seisoen uit eie keuse na die B-afdeling afgeskuif omdat hy nie die vereiste vyf spanne vir die A-afdeling in die veld kon stoot nie.

Neels van Heerden, TUT se voorsitter, sê op die keper beskou, was dit `n klipharde stryd tussen hardebaard-klubspelers (KD) en minder ervare jongelinge (TUT), wat in die seisoen dalk te maklik deur hulle teenstanders gesny het.

“KD se verdediging was deurentyd rotsvas en het `n hele paar keer soveel druk uitgeoefen dat TUT se vaardige agterspelers op die agtervoet geplaas is.”

TUT se eerste drie is deur die belowende o.20-heelagter, JP de Beer, gedruk nadat hy `n bal deurgeskop en dit in die hoek toegeval het.

Pas hierna het KD sy eerste drie ná ‘n puik agterlynbeweging gaan druk.

Martin Greyling, Brits II se kaptein, ontvang die beker van Henry Adendorff, die adjunk-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Martin Greyling, Brits II se kaptein, ontvang die beker van Henry Adendorff, die adjunk-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

“De Beer is tydens hierdie beweging ernstig beseer en het drukbreuke in sy rug opgedoen. Hy word tans in 1 Militêre Hospitaal behandel,” het Van Heerden laat weet.

KD se nr 5-slot, Henry Heck, het vroeg in die tweede helfte `n bal binne KD se kwartgebied onderskep en dwarsdeur genael.

“Ek dink nie daar is `n vinniger slot in Carlton-rugby nie,” sê Van Heerden. “Waar TUT kon gaan druk het, het KD sewe punte aangeteken.”

Later het TUT se plaasvervanger-senter Dumisani Mthethwa ná `n kraglopie oorgebeur en vergoed vir `n vorige “amper-drie” waar die skeidsregter `n aanslaan raakgesien het, amper soortgelyk aan die verloor van die bal deur Lionel Mapoe in die toets Saterdag in Nelspruit.

Van Heerden sê groter fiksheid en die wil om te wen het TUT in die laaste 20 minute in staat gestel om die druk vol te hou.

“Uitblinkers aan TUT se kant was die senter Lisa Banzi en Claude Johannes, slot en kaptein, wat met besielende leiding die span bymekaar gehou het.

“Ons spelers op die bank het impak gemaak en veral Alfred Khoza (vaskop) en Mthethwa het die oog gevang.

“KD is `n bulspan wat bitter naby aan `n oorwinning gekom het. Hulle het aanvanklik die skrums oorheers met hulle bul-loskop Bruné Bekker aan die spits.”

Cheez Nkolobe, Hartbeespoort se kaptein, ontvang die beker van Gert Wessels, die president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Cheez Nkolobe, Hartbeespoort se kaptein, ontvang die beker van Gert Wessels, die president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Van Heerden sê die res van die punte is met die skoen aangeteken – `n doelskop aan beide kante en drie strafdoele vir TUT en twee vir KD.

“TUT I eindig dus onoorwonne in die Carltonliga B van 2016. Ons haal ook ons hoed af vir TUT II wat die knie moes buig teen Brits II wat eweneens `n bulspan is.

“Die groot meerderheid van TUT I is nog o.21 en sal weer in 2017 in die Varsityskild-span ingesluit word.”

♦ Suzette Grobler, die sekretaresse van Brits, laat weet die klub se tweede span het oor TUT gehardloop in die B2-eindstryd.

Hy het 34-14 gewen nadat hy rustyd reeds 20-7 voor was.

“Daar was eenvoudig geen keer aan Brits se manne nie. Hulle het uit die staanspoor besluit die beker gaan Brits toe.

“Die voor- en agter spelers het met mag en mening ingeklim en elkeen het sy kant gebring.”

Jan van Staden, Armand Smit, Pieter Prinsloo, Marno Cronjé en Herman du Preez het elk `n drie gedruk. Du Preez met twee doelskoppe en vier strafdoele geslaag om sy bydrae op 21 punte te staan te bring.

 

Brandon Gibson, Hartbeespoort II se kaptein, ontvang die beker van Johnny Japhta, `n vise-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Brandon Gibson, Hartbeespoort II se kaptein, ontvang die beker van Johnny Japhta, `n vise-president van die BBRU. (Foto: Johanna de Vos)

Carltonliga C

♦ Hartebeespoort het geskiedenis gemaak deur sy eerste eindstryd te wen – en toe sommer albei bekers in die Carltonliga C in te palm. Sy eerste span het Bronkhorstspruit 22-3 geklop (rustyd 10-3), en die tweede het Transnet Parke 22-18 geklop (rustyd 14-10).

Vir die eerste span het Stephan Kekana twee drieë, en Chris Ebersohn twee drieë en `n doelskop aangeteken.

IB Saaiman het `n driekuns vir die tweede span behaal, en Brandon Gibson het twee doelskoppe en `n strafdoel oorgesit.

Saaiman se derde drie is in die laaste minuut gedruk om Harties se sege te beklink.

Chris du Toit, die klub se hoofafrigter en ondervoorsitter, se Hartebeespoort se benadering vanjaar was een van vasbeslotenheid, fokus en harde werk.

“Ons spelpatroon is op totale rugby gerig, met die fokus op vaart en fiksheid.

“`n Bewys van die sukses is dat ons eerste span hierdie seisoen geen wedstryd verloor het nie, `n allemintige 708 punte aangeteken het en net 85 afgestaan het. Die span het 110 drieë aangeteken. “Dieselfde geld vir die tweede: 470 punte aangeteken, 129 punte afgestaan en 71 drieë gedruk. Die span het net een keer verloor.”

Du Toit sê die eindstryd het duidelik getoon die spelers het die regte temperament vir `n groot wedstryd.

“Ons sukses lê daarin dat ons weer in onsself begin glo het, gedrewe deur hoogte- en laagtepunte die afgelope paar seisoene.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae