BBRU-liga: Naka Bulle, Cullinan goed op dreef

naka-logoSake by die Naka Bulle se nuwe Internasionale Rugbyinstituut (IRI) en Cullinan se planne ná sy bevordering tot die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Eerste Liga is goed op dreef, berig dié twee klubs.

♦ Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê die instituut, wat wêreldwyd bemark word, is in volle gang en sowat 60 spelers van 18 tot 20 jaar – sommige juis al van oorsee – word reeds by `n tuiste in Rietfontein gehuisves.

Die seuns word daagliks van vroegoggend tot saans aan rugbyoefening, gimnasiumsessies, rugbyvaardighede en algemene  lewensvaardighede onderwerp.

Neels Grobler is die IRI se hoof- uitvoerende bestuurder, terwyl Marinus van der Watt en Bierman Smit die afrigting en lesings behartig. Naka se voorsitter, Ian Herbst, staan oorhoofs aan die stuur van sake.

Herbst het aan Pale Toe! gesê instituutgangers sal uiteindelik ambagsopleiding tot N4-vlak kan deurloop en die IRI beplan om dit vir afgestudeerdes moontlik te maak om in hul twee jaar as vakleerlinge by die instituut aan te bly.

`n Gimnasium is by die klub se groot saal ingerig, en is teen `n oefengeld ook vir ander gebruikers toeganklik.

Burger sê sake lyk so vroeg in die seisoen al goed by Naka en die instituut dra daartoe by dat die klub `n hele klomp spelers vir die onderouderdomspanne beskikbaar het.

Naka het daarin geslaag om Pretoria Polisie se afgetrede hoofafrigter, Naas Rossouw, om te praat om die o.21-span af te rig en hy sal deur die Bobbies se gewese klubbestuurder Bert Lazarus bygestaan word.

“Goeie opkomste word saans by die oefeninge ervaar, en heelwat nuwe talent is bygekry terwyl weinig van verlede se jaar spelers verloor is.”

Naka speel Saterdag van 13:00 op Loftus B en C met vyf spanne teen Tuks in die eerste ronde van die Assupolreeks. Die hoofwedstryd is 15:45 op die B-veld.

Burger sê dit sal `n goeie aanduiding van die beskikbare talent en diepte gee.

cullinan♦ Cullinan se eerste en tweede span het verlede jaar het verlede seisoen albei hul afdelings in die BBRU se Presidentsliga gewen en is tot die bond se Eerste Liga bevorder.

Anri Louw, die sekretaresse van Cullinan, sê `n bedrywige Februarie lê vir die klub voor en dit begin Vrydag en Saterdag met `n bosberaad en spanbougeleentheid.

Die bevordering het die spelergetal gesond tot 49 laat groei en Louw sê hulle is baie opgewonde daaroor.

Dis `n voorwaarde vir deelname aan die Eerste Liga dat die klub drie spanne in die veld moet stoot, maar dit het `n jaar grasie om die derde span op te bou.

Louw sê daar is veral `n leemte aan stutte, maar Cullinan kan sig ook met `n haker of wat behelp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.